Aanbieder verwelkom eersteling op unieke datum

Die gelukkige ouers met hul nuweling. (Foto: Facebook/Janina Oberholzer)

Janina Oberholzer, aanbieder van die kykNET-program Toks en Tjops, en haar man, Ryno van Niekerk, is nou ʼn gesin van drie.

Die gelukkige ouers het Maandag in ʼn plasing op sosiale media aangekondig dat hulle hul eersteling, Hunter Roux van Niekerk, op 22 Februarie 2022 in die wêreld verwelkom het.

“Ons liefste seuntjie het op 22 Februarie vroeg die oggend sy verskyning gemaak. 2,89 kg en 48 cm. Hy is perfek. Dankie aan al die personeel by Pretoria-Oos-hospitaal wat so mooi na ons gekyk het,” het sy in ʼn plasing met ʼn pragfoto van die egpaar en hul nuweling gedeel.

Dié unieke datum is uiters skaars vanweë die feit dat die syfers 22-02-2022 beide ʼn palindroom en ʼn ambigram is, wat beteken dat dit van links na regs, van regs na links én onderstebo gelees kan word. Hunter is deur middel van IVF-behandeling verwek, so dié spesiale datum is gepas vir die spesiale kleinding.

Janina Oberholzer het in 2021 aangekondig dat haar eersteling deur middel van IVF-behandeling verwek is. (Foto: Facebook/Janina Oberholzer)

Maroela Media het vroeër berig dat Oberholzer, wat elke Vrydagaand saam met Breyten Paulse en Toks van der Linde op die kassie te sien is, destyds gesels het oor haar swangerskap wat te danke aan IVF-behandeling was. Sy het met die aankondiging van haar swangerskap in Augustus verlede jaar ʼn foto van ʼn babapakkie wat lees “worth every single shot” op sosiale media gedeel en het dikwels die hutsmerk #IVFmamma gebruik.

Die pienkvoet is op 22 Februarie 2022 in die wêreld verwelkom. (Foto: Pixaby/Marjon Besteman)

“Dit is iets waaroor mense nie altyd wil praat nie. Een uit elke agt paartjies sukkel met fertiliteit, maar baie min praat daaroor. Ons het so twee jaar terug uitgevind dat IVF ons enigste opsie vir swangerskap is, maar het eers hierdie jaar besluit dat ons ʼn rondte gaan aanpak,” het sy verlede jaar gesê.

Oberholzer het destyds erken dat dit nie ʼn maklike pad was nie en dat haar hart na alle paartjies uitgaan wat sukkel met fertiliteit.

Sy het haar plasing afgesluit met “Welkom Hunter Roux van Niekerk. Jy het ons lewens kom verander. Alle eer aan Hom.’’

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Estelle

Pragtig! Baie geluk.

AmY

Baie geluk!

Casper

Ek sien geen thumbs up nie,ek wonder hoekom nie,van my kant af ook geen thumbs up nie.

Voilet

Ek en my man het 7 jaar lank gesukkel en op 8 jaar ons wonderwerkie gekry deur net op die Here te bly vertrou het.