‘Aantrekkingskrag’ jongste aflewering in #JouSondagDrama-rolprentreeks

Verlede Sondagaand het kykNET-kykers voor die kassie ingeskuif vir die rolprent Playboyz, wat geskoei is op die gelyknamige Deon Opperman-verhoogstuk. Flieks soos Desember, Stille nag, Vat ʼn kans, Boesman, my seun en Bottervisse in die jêm het ook reeds verskyn.

Vandeesweek word die reeks hervat met Aantrekkingskrag, ʼn fliek geskoei op ʼn gelyknamige verhoogstuk geskep deur Deon Opperman.

Die kanaal se oogmerk met dié rolprentprojek is om uiteenlopende skrywers van alle agtergronde en ervaringsvelde die geleentheid te gee om draaiboeke te skryf, hul bestaande verhoogtekste te verwerk vir dié formaat, of om oorspronklike draaiboeke te skryf.

Verskeie gesoute regisseurs asook regisseurs wat hul debuut maak, is die geleentheid gegun om hul slag met regie te wys. Kykers kan uitsien na uiteenlopende temas en genres. Die ernstiger dramas (Die dag is bros en Stille nag) word afgewissel met ligter romantiese komedies (Vat ʼn kans) en komedies (Die skandaal).

Daarby is die vervaardigers, Soné Combrinck en Deon Opperman, baie opgewonde oor die skryftalent van Candice Johannes (Draadloos) en Lize Vosloo (Desember).

Die rolverdeling is deurlopende ensemblewerk en sluit in Marius Weyers, Sandra Prinsloo, Franci Swanepoel, Simon Bruinders, Amalia Uys, Leandie du Randt Bosch, Shaleen Surtie-Richards en Armand Aucamp. Jonger talent soos dié van die tienjarige Dirk Jacobs en Ian Roelofs is ook gebruik.

Op Sondag 3 Maart word Aantrekkingskrag, wat fokus op die ingewikkeldheid van verhoudings, uitgesaai.

Aantrekkingskrag is ʼn kosmiese wet wat vir hemelliggame én mense geld. Professor Zak de Villiers (Johan Scholtz) is een van die land se leidende denkers en vooraanstaande wiskundiges, ʼn kenner van die kosmos. Hy en sy vrou, Leonor (Franci Swanepoel), gesels in hul sitkamer, nadat hulle ʼn studente-opvoering van Hamlet waarin hul seun speel, bygewoon het.

Zak het ook vir Martin (Gustav Gerdener), die regisseur en hoof van die dramadepartement, oorgenooi vir ʼn drankie. Martin se eksvrou is Leonor se suster, aktrise en televisiester, Sandy (Juanita de Villiers). Martin daag op saam met Suzzi (Natassja Pretorius), ʼn oud-dramastudent. Leonor het op haar beurt haar suster uitgenooi vir drankies ná die opvoering.

Wanneer vyf mense hulle in een sitkamer bevind, kom die komplekse verhoudings tussen karakters duidelik na vore. Zak is die wetenskaplike wat sy gaste oor sterrekunde toespreek en sy toevlug onemosioneel in wiskundige verklarings vind. Martin is ʼn emosionele teaterman en word soos Sandy en Leonor openlik deur sy emosies gedryf. Die jeugdige Suzzi voel haar soms verlore in die nydige woordestryd, maar neem tog deel deur haar eie naïewe, vars insigte te uiter.

Deurlopend word denke teenoor emosies gestel, met die gevolgtrekking dat emosies eerder as denke tot aksie lei. Dit word ʼn lang nag, waarin botsings hewig raak en soos die tyd aanstap, beweeg die karakters soos planete nader en ook verder van mekaar.

Op vernuftige wyse word die ooreenkomste tussen die mens en die kosmos regdeur die gesprek volgehou. En dit lei tot die besef dat alles rondom die liefde, ʼn onverklaarbare onveranderlike, wentel.

Deon Opperman het die draaiboek geskryf en André Velts het die regie behartig.

Skakel Sondag om 20:00 in op kykNET, DStv-kanaal 144, vir #JouSondagDrama.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.