Afri-Visie is eindelik hier

AfriVisie-beoordelaars

Pierre Greeff, Joe Niemand en Loyiso Bala is die beoordelaars van die Afri-Visie liedjieskryfkompetisie. Foto: Twitter.com

Deur die jare was daar al verskeie kompetisies wat daarop gemik is om Afrikaanse musiek te bevorder.

Die oudste en bekendste een was seker die ATKV se Crescendo-kompetisie, wat wenners soos Randall Wicomb, Anneli van Rooyen, Karin Hougaard en Jak de Priester gelewer het.

Nou is daar egter ʼn splinternuwe liedjieskryfkompetisie wat in samewerking met kykNET aangebied word, Afri-Visie.

Uit die honderde inskrywings is die  26 top-inskrywings verlede Maandag aangekondig en TV-kykers kry nou die geleentheid om vir hul gunstelinge te stem. Die tien finaliste word die 3 Mei by die Grand West Arena in Kaapstad aangewys word en die algehele wenner sal  by dieselfde geleentheid gekies word.

Die beoordelaars, Joe Niemand, Loyiso Bala en Pierre Greeff, het jarelange ervaring in die musiekbedryf.

Niemand het onder meer die Crescendo-kompetisie gewen saam met Jaco du Plessis of te wel Jay van die groep Eden. Niemand het David Fourie se treffer Land in die suide geskryf en het hom later op Christelike musiek begin toespits. Hy het met sy eie komposisie Ek sal nie bang wees nie ʼn treffer gehad.

Bala is een van die bekende Bala-broers en hy was voorheen lid van die Drakensbergse Seunskoor. Hy het al saam met Stevie Wonder, Aretha Franklin en John Legend opgetree.

Greeff is die hoofsanger van Die Heuwels Fantasties, ’n groep wie se musiek dalk op ʼn alternatiewe gehoor gemik is, maar groot treffers met Klein tambotieboom en Beloofde land gehad het.

Onder die 26 top-inskrywings is daar liedjies van ervare liedjieskrywers asook dié van nuwelinge op die musiektoneel. Dié 26, asook die kode wat per SMS na 33691 gestuur moet word, is:

V1: 36  woorde – Anneke Hanekom (geskryf deur Anneke Hanekom en Irma Venter)

V2: Langpad na later –  Laudo Liebenberg (geskryf deur Antonie de Jager)

V3: Sing my aan die slaap – Carlé van Deventer (geskryf deur Carlé van Deventer en Joe Foster)

V4: As hy vir jou nog lief was – Christiaan Baardman (geskryf deur Christiaan Baardman)

V5: Slot en grendel – Valkenburg (geskryf deur Constant van Graan en Richann Brüssouw)

V6: Hemel in jou oë – Jane Duke (geskryf deur Emil Struwig)

V7: Reën – Gera Phielix (geskryf deur Gera Phielix)

V8: Lazyboy–  Pieter Mohr (geskryf deur Graeme Sacks en Erika Strydom)

V9:  Verlangebaan – Heidi van Wyk (geskryf deur Heidi van Wyk)

V10: Ek sweer – Twee (geskryf deur Herman Kleinhans)

V11: Die idee wat tel – Adam (geskryf deur Reynhardt Hugo en Hugo Ludik)

V12: Stywer vas – Jaco Nel (geskryf deur Jaco en Talitha Nel)

V13: Asem – Suzzi Swanepoel (geskryf deur Jaco Smit)

V14: Nog steeds – Lee-Roy Vers (geskryf deur Llewellyn Olivier en Reynard Karstens)

V15: Na na hey – Lokka Vox (geskryf deur Lokka Vox en Alex DJ)

V16: Ons het die funk – Maresa en Morné (geskryf deur Maresa May en Morné Smit)

V17: Iets om in te glo – Len Muller (geskryf deur Mynhardt Smit)

V18: Agter die boereworsgordyn – Beer en die Boer (geskryf deur Nico de Beer)

V19: Laat dit reën – Louis Fivaz (geskryf deur Pieter Krugel)

V20: Lullaby – Petro de Villiers (geskryf deur Rozanne Kahts)

V21: Vas dans – ShoNeill (geskryf deur ShoNeill)

V22: Alles of niks – NRG (geskryf deur Stephan van Huyssteen)

V23: Bly maar nog ʼn rukkie – Kaleidoskoop (geskryf deur Sumarie Uys)

V24: Die vure van Du Noon – Johnny Davids (geskryf deur Tertius Cronjé)

V25: Petrol en vuur – Cordelia (geskryf deur Vicky-Ann Serfontein)

V26: Wie is jy? – Lee Scott (geskryf deur William Loots)

Ek het reeds my tien gunstelinge gekies en sal hulle binne die volgende paar dae bekendmaak en die musiekvideo’s plaas. Die kriteria waarvolgens ek die liedjies beoordeel het, sluit in: ʼn singbare melodie; lirieke met iets om die lyf, of andersins lirieke wat iets op ʼn nuwe manier sê; die potensiaal  om ʼn groot treffer op verskeie radiostasies te wees en ʼn oorspronklike musikale verwerking.

Hoewel die musiekvideo van elke liedjie seker ook ʼn invloed op ʼn mens se keuse kan hê, het ek dit vir die doeleindes van hierdie kompetisie as minder belangrik beskou.

Die musiekvideo’s van die 26 top-inskrywings kan op www.afri-visie.co.za, kykNET Musiek en YouTube gesien word. Daarby word die Afri-Visie-program elke Maandagaand om 20:30 op kykNET uitgesaai. kykers kan die deelnemers leer ken, die beoordelaars se terugvoer kry en uitvind wat die konsep agter elke musiekvideo is.

Hier is die musiekvideo van een van die 26 top-inskrywings, Stywer vas van Jaco Nel:

https://youtu.be/Eovv8YUKEvA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bradly ·

Goeie Dag. Ek wil graag hoor wie stem saam dat die Afrivisie se Keuses ñ Skok en Mislukking is ! Hoe snaaks ook dat Adam deur is na Finale wat ek dink bietjie Onregverdig is omrede hul Popilariteit en Aanhangers ? Ek sou ook verwag het om 2 Plate Maatskappye te gesien het wat deel was van die Judges ! Ek sou ook Pierre met Nataniel vervang het as Judge ! Ek is teleur gestel in die Keuses van Songs wat in Finale is ! ! ! Ek glo nie ek gaan in toekoms na die Volgende Afrivisie kyk omrede dit vir my lyk of dit nie Goed beplan was en uitgevoer. . . Die Reaksie op Facebook wat iemand gelewer het oor die Onderwerp stem ek 100% saam ! Dankie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.