AfriForumTV bied heerlike Afrikaanse kykgenot

Kallie Kriel het meer inligting gegee oor die Afrikaanse kykgenot op AfriForumTV. (Foto verskaf)

AfriForum het Maandag tydens ’n glansgeleentheid in die AfriForum Teater in Pretoria ’n aanlyn Afrikaanse stroomplatform bekendgestel. AfriForumTV is ’n gratis aanlyn platform waarop kykers Afrikaanse inhoud in verskeie genres kan stroom.

AfriForumTV is gestig om die AfriForum-gemeenskap uit te bou as ’n bymekaarkomplek vir aanlyn vermaak en om die Afrikaanse gemeenskap te ondersteun en ’n nuwe stem in die mediawêreld daar te stel. Intekenaars kan verskeie kanale in die gerief van hulle eie huise op televisie, rekenaar of selfoon verken deur van die AfriForumTV-app gebruik te maak

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is die skepping van AfriForumTV ’n logiese volgende stap wat voortvloei uit AfriForum en die Solidariteit Beweging se doel om gemeenskapselfstandigheid en selfstandige instellings op ’n wye reeks lewensterreine te vestig.

“Dit is ons manier om ʼn toekoms vir Afrikaans te skep soos wat ons met die opening van die AfriForum Teater, te midde van die pandemie, ʼn toekoms vir die Afrikaanse kunste help verseker het.

“AfriForumTV wil met hierdie selfstandige stromingsplatform ʼn geleentheid bied aan nuwe stemme wat ’n verskeidenheid boodskappe oordra en so ’n wyer keuse aan kykers bied,” sê Kriel.

Die bekendstelling van die nuwe Afrikaanse stromingsplatform AfriForumTV. (Foto verskaf)

Kriel het aangedui dat die tyd nou ryp is vir AfriForumTV omdat kykers in die inperkingstyd begin het om al meer inhoud aanlyn te stroom. Kykers wil nou self kies wat hulle wanneer kyk.

“AfriForum se produksiehuise het reeds talle gehalte vermaakreekse, aktuele, kinderprogramme en dokumentêre vervaardig, wat verseker dat AfriForumTV nou reeds met ’n stewige programaanbod afgeskop kan word terwyl nuwe inhoud deurgaans vervaardig sal word en ’n platform gebied sal word aan buite-vervaardigers.”

AfriForumTV se inhoud bestaan uit vermaak, nuus, aktualiteit, skolesport, realiteit- en leefstylprogramme, podsendings en kindervermaak. Hierdie inhoud word verskaf deur AfriForumTV self, instellings binne die Solidariteit Beweging en eksterne inhoudverskaffers.

Besoek www.afriforumtv.co.za. Die app is op Google Playstore beskikbaar en sal binnekort op die App Store beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Conrad ·

Ek hou nie van die naam “AfriforumTV” nie, wat het geword van Dapper TV en Dapper Media? Was aansienlik meer kreatief.

Christa ·

Gaan besoek gerus Afriforum se webtuiste by http://www.afriforum.co.za en maak ñ positiewe bydrae tot Afrikaans. Kom ons los hierdie nydige opmerkings en spreek ons werklike probleme aan en staan vir wat reg is. Ons het mekaar meer nodig as wat ons dink.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.