Afrikaanse bekendes se moet-kyk-lysies vir die isolasietydperk

Simoné Pretorius. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Sedert pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging oor die voorkomingsmaatreëls om die verspreiding van die nuwe koronavirus (Covid-19) te bekamp, het talle Suid-Afrikaners besluit om eerder tuis te bly, veral nou dat die skole ook vir ʼn maand gesluit sal wees.

Die beste manier om cabin fever ʼn bietjie te verlig, is om agteroor te sit met ʼn groot bak springmielies en ʼn soetdingetjie of twee terwyl jy na jou gunsteling-rolprent of reeks kyk – die gunstelinge is mos altyd dié wat jy weer en weer kan kyk.

Maroela Media het by ʼn paar bekendes in die vermaakbedryf uitgevind watter reekse of rolprente hulle na sou kyk indien hulle vir ʼn tydperk in isolasie sou wees.

Simoné Pretorius, wat tans te sien is as suster René Spies in die kykNET-sepie Binnelanders en as Jony in die komediereeks Hotel, sê die Netflix-reeks The Crown is bo-aan haar moet-kyk-lysie.

Dié reeks is geskoei op die lewensverhaal van die Britse koningin, Elizabeth II. Die veelbekroonde reeks, met Olivia Colman en Helena Bonham Carter in die hoofrolle, is tans in sy derde seisoen.

Tweede op haar lysie is die HBO-reeks Chernobyl, wat op Showmax te sien is. Chernobyl vertel die verhaal van die kernreaktorongeluk wat op 26 April 1986 in Oekraïne plaasgevind het.

Sy kies ook Hotel as een deel van haar moet-kyk-lysie. “Ek sou dit gekies het al het ek nie daarin gespeel nie,” sê sy.

Erns Grundling (Foto: Verskaf)

Die Elders-skrywer en aanbieder Erns Grundling vertel hy kyk graag na Succession op Showmax. “Dit is ʼn epiese reeks oor ʼn miljardêr-familie wat mekaar van binne af verniel,” sê hy.

Hy sê dat hy die programme Drive to Survive op Netflix en Masterchef Australië hoogs verslawend vind. “Ek kan skaars ʼn eier bak, maar kan nie ophou kyk na hierdie reeks en sy ikoniese beoordelaars nie!”

Grundling geniet ook Kidding op Showmax. “Dit is onthutsend en briljant – met Jim Carrey in die rol van ʼn gefolterde televisieaanbieder.”

Die skrywer, wat ook sy reise deur Japan tydens die Wêreldbeker-rugbytoernooi einde verlede jaar neergepen het in die boek Susji en shosholoza én op kamera vasgevang het vir kykNET se program Elders: Japan, voeg ook die Japanse anime-fliek My Neighbor Totoro op Netflix by sy moet-kyk-lysie.

Omroeper Su-an Müller-Marais

“Dit is ʼn wonderlike Japanse anime-fliek uit 1988 deur Studio Ghibli,” vertel hy.

GROOT fm-aanbieder en aktrise Su-An Müller-Marais, sê sy sal graag weer tydlose rolprente soos Casablanca, Dr Chivago, The Breakfast Club en The Mission weer wil kyk.

Sy verklap dat die program The World’s Most Extraordinary Homes ook op haar moet-kyk-lysie is. “Hopelik is daar al ʼn nuwe reeks beskikbaar, anders kyk ek sommer weer na die eerste een,” sê sy.

Müller-Marais sê sy het ʼn voorliefde vir alle natuurprogramme en dokumentêre oor wildlewe. “Veral as David Attenborough die verteller is.”

Cintaine Schutte, bekroonde aktrise wat onlangs op die US Woordfees op die planke was in die teaterverwerking van Marita van der Vyfer se Die dinge van ʼn kind en ook eersdaags in die derde seisoen van die gewilde kykNET-dramareeks Fynskrif te sien sal wees, vertel sy geniet die dramareeks Breaking Bad.

Armand Aucamp. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Armand Aucamp. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Die reeks bestaan uit vyf seisoene en is met onder meer ʼn Golden Globe-toekenning vir beste televisiereeks of drama vereer. Dit handel oor Walter White, ʼn chemie-onderwyser wat gediagnoseer word met kanker en dan begin dwelms vervaardig om sy mediese onkoste te dek.

Schutte voeg ook die Back to the Future-rolprentfranchise, met Michael J Fox in die hoofrol, by haar moet-kyk-lysie.

“En natuurlik The Little Mermaid,” voeg sy by.

Die hartebreker-akteur Armand Aucamp verklap dat hy ʼn voorliefde het vir wetenskapsfiksie en fantasierolprente.

American Horror Story is bo-aan my lys. Daar is tien seisoene. Die The Lord of the Rings-trilogie is natuurlik ook ʼn moet-kyk sowel as die Harry Potter-reeks – ek lees sommer die boeke ook!”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.