Afrikaanse flieks en reekse om na uit te sien in 2019

Simoné Nortmann vertolk die rol van Jony Scholtz in ‘Hotel’. (Foto: kykNet)

Afrikaanse fliekvlooie en reekskykers kan volgende jaar na ʼn legio splinternuwe flieks en dramas op kykNET uitsien.

Reekse

In Januarie skop die derde seisoen van die gewilde komediereeks, Hotel, af en dit beloof om kykers net so aan die skater te hê soos die vorige twee reekse.

Hulle gaan dalk nie in die geskiedenisboeke opgeskryf word as die beste, fluksste of hulpvaardigste personeelgroep nie, maar dié kleindorpie-personeel van Fransenburg het om ander redes in kykers se harte ingekruip.

Ferdie en kie maak vir ’n derde keer ’n draai in ons sitkamers en wie beter om reg aan die aweregse karakters te laat geskied as draaiboekskrywers Bennie Fourie, Stiaan Smith, Ryan Metcalfe en Beer Adriaanse.

ʼn Splinternuwe dramareeks, Dwaalster, begin ook in Januarie op die kassie draai. Dié reeks, uit die pen van die bekroonde aktrise en dramaturg Nicola Hanekom, speel af op die fiktiewe Karoodorpie Maanhaarsdrif.

Die interessante dog misterieuse inwoners en hul onderskeie intriges sal kykers van meet af boei. Op Maanhaarsdrif is daar ook ’n fiksasie met sterre en sterrekyk terwyl sommige inwoners ook met die spreekwoordelike “maan gepla” is.

Dwaalster. (Foto: Verskaf)

Tinarie van Wyk Loots, Albert Maritz, Erica Wessels en Jacques Bessenger is in dié reeks te sien.

Ook in Januarie bied kykNET & kie, in samewerking met Kuier-tydskrif en Son-koerant, ʼn misdaadreeks aan wat eie in sy soort is. Dié splinternuwe reeks, Op Seer se Spoor, volg die reis van Kuier se artikel-redakteur, Ernusta Maralack, ’n vrou wat in haar loopbaan as joernalis al baie gesien het.

Tydens dié reeks gaan Ernusta terug na die tonele van die wreedste moorde in die Wes-Kaap, na stories waaroor sy soms self verslag gedoen het. Sy sal onder meer onderhoude voer met familielede van die slagoffers en in sommige gevalle ook met familielede van die oortreders in ʼn soektog na antwoorde en begrip van hoekom hierdie misdade gebeur het, en hoe dit gemeenskappe beïnvloed het.

Emo Adams het onlangs ʼn inisiatief op sosiale media van stapel gestuur waar hy mense gevra het om hulle talent met hom te deel. Hy het mense aangemoedig om vir hom video’s te stuur via ʼn WhatsApp-nommer. Die gelukkige wenner sal ʼn jaarkontrak met All Stars Productions & Records teken en in 2019 saam met Emo toer.

Dié konsep word deur kykNET in ʼn televisiereeks omskep, getiteld Maak my Famous, wat in April op die kassie te sien sal wees.

Kokkedoor keer terug na die kassie.

kykNET se gewilde koswerklikheidsreeks, Kokkedoor, keer in die nuwe jaar terug en is nou opsoek na deelnemers. Die eerste twee Kokkedoor-seisoene is onderskeidelik in 2013 en 2014 uitgesaai, wat toe opgevolg is deur twee seisoene van Koekedoor, Kokkedoortjie en Koekedoortjie.

Vir Kokkedoor 3, wat in Julie uitgesaai sal word, is kykNET weer opsoek na die perfekte kombinasie van onthoukok en kinkelkok. Die eerste twee seisoene van Kokkedoor het in Prins Albert in die Karoo afgespeel, maar vir die derde seisoen gaan 20 deelnemers, 10 onthoukokke en 10 kinkelkokke, hulle in Kaapstad moet aanmeld. Groot pryse, wat binnekort bekendgemaak sal word, is ook op die spel.

kykNET het ook intussen bevestig dat ʼn tweede seisoen van die uiters gewilde dramareeks Fynskrif sal terugkeer na die kassie, maar die uitsaaidatum is nog nie beskikbaar nie.

Flieks

kykNET se splinternuwe #JouSondagdrama, is ʼn reeks van 13 alleenstaande rolprente, wat vanaf 20 Januarie op Sondagaande op kykNET uitgesaai gaan word.

Die kanaal se oogmerk met dié projek is om uiteenlopende skrywers, van alle agtergronde en ervaringsvelde, die geleentheid te gee om draaiboeke te skryf, deur hul bestaande verhoogtekste te verwerk vir dié formaat, of om oorspronklike draaiboeke te skryf.

Verskeie gesoute en debuutregisseurs is ook die kans gegee om elkeen ʼn paar flieks se regie te behartig. Kykers kan uitsien na uiteenlopende temas en genres. Die ernstige dramas (Die Dag is Bros en Stillenag) word afgewissel met ligter “rom-coms” (Vat ‘n Kans) en komedies (Die Skandaal).

Deon Meyer se kortverhaal, “Bottervisse in die jêm”, is onder andere tot ʼn rolprent verwerk en dit maak ook deel uit van die #JouSondagdrama-reeks. Die vervaardigers, Soné Combrinck en Deon Opperman, is ook baie opgewonde oor die vroulike skryftalent van Candice Johannes (Draadloos) en Lize Vosloo (Desember).

Die rolverdelings is deurlopende ensemble-werke en bestaan uit groot name soos onder meer Marius Weyers, Sandra Prinsloo, Franci Swanepoel, Simon Bruinders, Amalia Uys, Leandie du Randt Bosch, Sharleen Surtie Richards en Armand Aucamp. Daar is ook gebruik gemaak van jonger talent soos die tienjarige Dirk Jacobs en Ian Roelofs. Kykers sal op Sondagaande kan terugsit en ontspan, terwyl hulle heerlik deur #JouSondagdrama vermaak word.

Skakel in op DStv-kanaal 144.

ʼn Paar splinternuwe Afrikaanse rolprente  gaan ook op die silwerdoek te sien wees.

(Foto: Facebook via Racheltjie de Beer Feature Film)

(Foto: Facebook via Racheltjie de Beer Feature Film)

Racheltjie de Beer vertel die verhaal van die Voortrekker-meisie wat haar lewe opgeoffer het om haar boetie se lewe te red nadat hulle in ʼn sneeustorm in die laat 1800’s vasgekeer is.

Die  draaiboek is geskryf deur Matthys Boshoff en Brett Michael Innes, wat verantwoordelik was vir die trefferrolprent Sink. Boshoff behartig ook die regie. Antoinette Louw, Marius Weyers, Seputla Sebogodi en Sandra Prinsloo word in Racheltjie de Beer gesien. Die fliek word op 18 Oktober 2019 uitgereik.

Twee van die gesogte Afrikaanse skrywer, Dalene Matthee, se boeke is ook vir die grootskerm verwerk. Fiela se Kind en Toorbos word in 2019 vrygestel.

‘n Toneel uit Poppie Nongena. (Foto: Verskaf)

Poppie Nongena, die rolprent gebaseer op die veelbekroonde roman Die Swerfjare van Poppie Nongena, word ook in 2019 uitgereik.

Dié roman deur Elsa Joubert word steeds beskou as een van die beste romans uit Afrika wat die twintigste eeu opgelewer het. Die bekroonde draaiboekskrywer en dramaturg Christiaan Olwagen is die regisseur en Vicci Turpin sal die kinematografie van die rolprent behartig. Olwagen se vorige werk sluit die hoogs aangeskrewe rolprente Johnny is nie dood nie, Die Seemeeu en Kanarie in.

Clementime Mosimane vertolk die rol van Poppie en die res van die rolverdeling sluit Anna-Mart van der Merwe (Die Storie van Klara Viljee, Kanarie), Chris Gxalaba en Rolanda Marais in. Die rol van Poppie se ma word vertolk deur Nomsa Nene, wat die titelrol gespeel het in die internasionale verhoogproduksie van Poppie.

Die uitreikingsdatums moet nog bekend gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.