Afrikaanse Kersfees-komedie ‘’n eietydse feëverhaal’

In die nuwe Afrikaanse Kersfees-rolprent getiteld Asseblief en dankie, wat hoofsaaklik in die Kaapse middestad verfilm is, vertolk Laudo Liebenberg en Crystal Donna Roberts die hoofrolle.

Asseblief en dankie handel oor ʼn hawelose vrou wat ʼn skatryk sakeman se lewe red en in ʼn ongewone oomblik van Kersfees-welwillendheid nooi hy haar om in sy luukse dakwoonstel aan te sterk. Hy ignoreer haar bewerings dat sy van ʼn ander wêreld kom, tot sy eie lewe omgekeer word.

Dít is die kern van dié TV-fliek, wat op 25 Desember om 20:00 op kykNET uitgesaai word. Die regisseur is die bekroonde skrywer Tertius Kapp, wat ook vir die draaiboek verantwoordelik was.

“Soos met die meeste van my idees, was daar nie een spesifieke oorsprong nie. Dit was maar ʼn kombinasie van stories wat al eeue lank vertel word, en die wêreld waarin ons vandag woon,” vertel Kapp.

“Dan was daar ook een nag langs die Gariepdam, halfpad Johannesburg toe, en ʼn gesprek met vreemdelinge wat die eerste vonk vir die storie was.”

Kapp sê hy is lank reeds ʼn aanhanger van Roberts én Liebenberg en dat hy baie bly was toe hulle ingestem het om deel te wees van die projek.

“Die rolle bied nogal uiteenlopende uitdagings en ek dink kykers sal dit geniet om te sien hoe hulle dit hul eie gemaak het.”

Wat hoop Kapp kry kykers uit die fliek? “Eerstens hoop ek hulle hou van die komedie daarin. Op ʼn ander vlak is Asseblief en dankie vir my ʼn eietydse feëverhaal, ʼn Kersfees-wonderwerk waarby mense van alle agtergronde kan aanklank vind. Ek sou graag wou hê dat dit kykers ʼn gevoel gee van medemenslikheid en welwillendheid – die ware gees van Kersfees.”

Asseblief en dankie wys Saterdag 25 Desember 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144), en sal ook op Showmax beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.