‘Afskaal’ op kykNET wys jou hoe om van rolletjies ontslae te raak

Elana Afrika-Bredenkamp. (Foto: Verskaf)

Die pad na gewigsverlies is soos die spreekwoordelike goeie pad – ʼn nou, moeilike pad, vol struikelblokke en versoekings, maar wat op die einde lei na ʼn beter doel – ʼn gesonder leefstyl en minder kwale.

In ʼn nuwe leefstylreeks Afskaal volg kykNET en Slender Wonder vier Suid-Afrikaners in hul pogings om gewig te verloor. Die reeks word deur die sprankelende Elana Afrika-Bredenkamp aangebied en beoog om te wys dat die paadjie van gewigsverlies oor soveel meer gaan as net die vetjies wat verbrand word.

“Dit behels ʼn verandering in hoe jy dink wat uiteindelik dan lei tot ʼn gesonder lewenstyl. Ons kon aan geen beter persoon dink om saam met die deelnemers die paadjie aan te durf as Elana nie,” sê Riaan Jacobs, uitvoerende hoof van Slender Wonder.

Soos die naam voorstel, volg Afskaal die vier deelnemers tydens ʼn 16-week periode, waarin deelnemers hul harte en huise oopmaak en deelneem aan verskeie uitdagings wat hul breinkrag en fisieke krag toets. Boonop word hulle uit hul gemaksones geneem en aangemoedig om grense te verskuif terwyl hulle om die groot prys meeding.

“Ek is reeds geïnspireer deur die uithouvermoë en sterk wil van die deelnemers. Hulle het soveel meer energie as toe hulle net begin het,” sê Afrika-Bredenkamp. “Dit is ʼn plesier om ʼn reeks soos hierdie aan te bied waarin mense ander kan leer en kan aanmoedig om gesonder keuses te maak en hul beste lewens te leef,” sê sy.

Afskaal se première is op kykNET (DSTV 141) op 10 Oktober 2019, en sal uitgesaai word op Donderdae om 17:30, met heruitsendings op kykNET en Kie, Donderdae om 21:00, van 17 Oktober.

Volg kykNET en Slender Wonder op sosiale media vir die jongste nuus.

Vir meer inligting en om ander verhale van sukses te lees, besoek www.slenderwonder.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.