‘Afskaal’: Soms moet jy meer verloor om meer te wen

Al die deelnemers tydens ‘n onlangse inweeg. Foto: Verskaf.

Dis week ses van Afskaal en die deelnemers verloor dalk meer as net hulle gewig

Afskaal, die realiteitsprogram op kykNET (DStv 144) wat die lewens van vier oorgewig mense volg wat hulle lewens in 16 weke wil verander, het pas sy halfpadmerk bereik en ’n paar goed het duidelik begin raak: ’n Mens vier elke oorwinning, hoe klein ook al. Daar sal altyd uitdagings wees, party dae meer as ander. En om gewig te verloor, sit nie sommer in enige persoon se broek, of rok, nie.

Toe dié vier deelnemers tydens die eerste episode ontmoet het, was hulle vol vertroue, maar met elke verbygaande week het Beverley, Jandri, Hennie en Noelien net meer en meer besef: soms moet ’n mens heelwat verloor om heelwat te wen.

Een van die grootste veranderinge wat Beverley van Boksburg ervaar het, is dat sy nou met selfvertroue ’n bietjie noupassender klere kan begin dra om haar kurwes te beklemtoon in plaas daarvan om agter te groot klere weg te kruip.

Sy het ook besluit om eerder nie meer by die huis te oefen nie, want haar Yorkie-honde los haar nie vir ’n oomblik uit nie, maar sy stap nou eerder ongeveer drie km vier keer ’n week.

Haar grootste uitdaging bly steeds die heerlike reuke wat die huis vul wanneer sy  kos maak vir haar man en seuns wat nie deel is van die Slender Wonder‑program nie. Sy is ook gou om te erken hoe meer gewig sy verloor –  sy staan reeds op 98,9 kg by die halfpadmerk – hoe meer vasberade raak sy om selfs nog meer te verloor.

Jandri van Centurion kan nie uitgepraat raak oor hoe goed sy voel en hoeveel meer energie sy het nie. Sy het weer begin draf en probeer dit in die oggende tussen 06:50 en 07:30 inpas, sommer in die strate van haar woonbuurt. Sy het ook heelwat meer bewus begin raak van porsiegroottes en lees ook nou sorgvuldig die inligting op voedsel se verpakking. En wanneer haar lus vir pasta dreig om die oorhand te kry, kyk sy terug op hoeveel vordering sy reeds gemaak het en dan voel sy sommer weer gemotiveerd, veral ook as sy haar gewig by die halfpadmerk in ag neem: 85,6 kg.

Noelien wat al 10kg tot dusver verloor het. Foto: Verskaf.

Hennie van Randfontein erken sy grootste uitdaging was om van brood afstand te doen. Hy en sy vrou berei saam die kos vir die volgende dag voor en dit help hom om beter keuses te maak. Sy nuwe gunstelinggereg is blomkoolrys en maalvleis en wanneer ’n snytjie brood laat in die aand hard na hom roep, raak hy die versoeking baas deur ’n Provita-beskuitjie te eet. Wat oefening betref, draf Hennie en sy seun elke tweede aand om die blok en waar hy aanvanklik vreeslik kort van asem was, is dit vir hom nou lekker om weer te kan beweeg sonder om so moeg te raak soos vantevore. As ’n mens hom vra hoe hy oor sy vordering voel, skroom hy nie om te sê dat hy ingenome is met die feit dat hy sy gewig by die halfpadmerk reeds afgebring het na 123,3 kg nie.

Noelien van Meyerton ervaar tans baie spanning wat haar stresvlakke opstoot en dit maak die hele ervaring soveel meer uitdagend vir haar. Sy voel ook gereeld naar wat die inneem van enige kos moeiliker maak, maar sy hou moed. Aan die positiewe kant oefen sy vyf dae van die week met ’n kombinasie van gewigte, Zumba en Bollywood-danse. Sy ry ook nie meer na haar gunstelingwinkel toe vir koffie nie en dit help dan ook om die versoeking vir ’n ou soet dingetjie te weerstaan. Sy is ook trots daarop dat sy sterk staan wanneer haar man wel iets eet wat sy nie mag eet nie deur dit eenvoudig te ignoreer en te fokus op die feit dat haar gewig by die halfpadmerk reeds geval het na 95,4 kg.

Om die laaste ses weke van die finaliste se paadjie saam met Slender Wonder te volg, maak seker jy is voor die kassie elke Donderdag vir Afskaal om 17:30 op kykNET (DStv 144), met heruitsendings op kykNET en Kie op Donderdae om 21:00 of volg kykNET en Slender Wonder op sosiale media vir die jongste nuus.

Vir meer inligting en om ander verhale van sukses te lees, besoek www.slenderwonder.co.za

Beverley-Ann van Greuen, Hennie van der Walt, Jandri Swart en Noelien Badenhorst wat aan Afskaal deelneem. Foto: Verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.