Albert Maritz: Springlewendig en gesond

Albert Maritz. (Foto: Verskaf)

Deur Ilza Roggeband

Daar was emosionele oomblikke toe Derik Malan (Albert Maritz) in die sesde episode dood is en hy in die sewende episode op video sy laaste boodskappe aan sy familie gegee het. Vir die Malans was dit natuurlik ’n reuseslag om hul patriarg te verloor, maar in werklikheid is Albert op 61-jarige ouderdom nog fiks en gesond.

“Die Woendag ná die episode waarin ek dood is, het ek vir drie uur gaan fietsry,” sê Albert en lag. “Die middag het ek in die see gaan body board, die Donderdag het ek 50 lengtes gaan swem en die Vrydag was ek weer vir drie uur op die fiets. Op ’n stadium het ek vir myself gesê: Nie sleg vir ’n ou toppie wat die ander aand dood is nie.”

Hy is ook deel van Cold Joy, ’n groep in Melkbosstrand wat een keer per week vir ’n halfuur in die koue seewater sonder duikpakke dobber.

Hier is nog ’n paar feite oor die akteur en regisseur se lewe en loopbaan.

  • Albert en Elsabé Daneel, wat die rol van Brenda Malan vertolk, het al op skool saamgewerk toe hulle radiodramas vir die SAUK gedoen het. “Elsabé was in matriek toe ek in standerd 6 was en was van die begin besorg oor my. Sy en mense soos Edith Rossouw en Nerina Ferreira het my regtig onder hulle vlerk geneem.” Later was Albert en Elsabé onder meer te sien in die fliek Strikdas en was hulle man en vrou in Suidooster. “Ons het ook onlangs klaar gemaak met ’n sitkom vir SABC2 waarin ons saam speel.”
  • Sport is een van Albert se groot liefdes en hy was eens die sportredakteur by Punt Radio. “Daar is min sport wat ek nié kyk nie. Ek hou nie noodwendig van sokker en gholf nie, maar is netbal se grootste fan. Dan natuurlik krieket en rugby en veral fietsry. Ek het toe ek by Punt Radio was ’n kompetisie gewen met my voorspellings en het ’n enorme bottel vonkelwyn gewen wat nou nog in my huis is.”
  • Albert is nie net ’n baie talentvolle akteur nie, hy is ook ’n gesiene regisseur. Hy het in 1997 reeds met skoletoneel begin en later opvoedkundige teater gedoen. In 2004 het hy sy reis met klassieke Afrikaanse tekste begin toe hy regisseur van Faan se trein was. “Die pandemie het natuurlik dinge deurmekaargekrap en daar is ’n klomp werk wat wag om te gebeur. Ek hoop die muse sal hierdie jaar gunstig teenoor my glimlag.” Hy sê een van die uitdagendste stukke wat hy gedoen het, was Agterstevoor. “Dit was in opdrag van Karen Meiring wat toe nog hoof van die KKNK was. Daar was ’n muur in die middel van die lokaal en ’n groep akteurs het twee stukke opgevoer – een aan die een kant van die muur en ’n ander een aan die ander kant van die muur. So dieselfde spelers sou op een verhoog speel, om die muur stap en dan in die ander stuk gaan speel. Pouse het die gehore omgeruil so almal het die twee stukke gesien. Ek kry nou nog mense wat my voorkeer en daaroor praat.”
  • Sy nuwe jaar het reeds afgeskop met oorklankingswerk van een van die Turkse sepies, ’n radiodrama deur Charles Fourie waarin hy speel en televisierolprente vir kykNET wat later vandeesmaand in Johannesburg geskiet word. “Ek is baie dankbaar ek is so besig,” sê hy. “Solank daar tyd is vir sport kyk!”
  • Albert, wie se pa die akteur Dawie Maritz was, is pa van twee seuns – die akteur en aanbieder Viljé, en Martiens, ’n argitek. “Martiens het pas begin werk waarop ek baie trots is en Viljé en sy vrou, Lianry, het my die eerste keer oupa gemaak met klein Allie wat na my genoem is – Albert van Zyl Maritz. Dis heerlik om oupa te wees, werklik louter vreugde. Viljé en Lianry het sulke groot harte en wil ons soveel moontlik deel van Allie se lewe maak.”

Alles Malan is elke Dinsdagaand om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, asook op DStv Catch Up, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Misky ·

Mal oor hom as akteur en jare terug al begin volg toe hy in Konings gespeel het

Kwikkie ·

Ek volg die program glad nie. Maar het in die sitkamer by my moeder gesit en lees terwyl sy dit gekyk het. “Needless to say”…. ekt snot en trane gehuil in beide episodes. My James Patterson boek was toe nou sommer heeeeltemal vergete.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.