Albert Pretorius staan skoene van storieverteller vol

Albert Pretorius. (Foto: Nardus Engelbrecht/Albert Pretorius/Instagram)

Albert Pretorius is ’n storieverteller wat deur die jare heen homself as geliefde akteur in die harte en huise van talle Suid-Afrikaners kom tuismaak het.

Die 36-jarige akteur is bekend vir sy rolle in Nêrens, Noord-Kaap, Waterfront, Die Spreeus, Die Boland Moorde en Dwaalster. Hy het ook vroeër vanjaar ’n Sinjatuur-toekenning by die Fiëstas ontvang.

Vir dié verkleurmannetjie is daar ’n kuns daarin om tragiese, komplekse karakters te verken en uit te beeld.

“Die lekkerste karakters is dié wat glad nie soos ek is nie. Ek wil die teenpole van ’n karakter se emosies ontdek, ek wil weet wat vreugde en wat hartseer veroorsaak.”

Die baadjie van dié akteur is uit empatie vir die karakters wat hy vertolk, geweef.

“Ons almal is mens. Ons almal het die potensiaal om ’n kunstenaar, skrywer, boer óf moordenaar te wees. Die lewe trek elkeen in verskillende rigtings in. Elke karakter het donker én lig. Ek wil daardie teenpole ontdek.”

Pretorius probeer om ’n karakter op so ’n wyse aan mekaar te plak dat hulle op die ou end die kyker laat lag én huil.

Hy wonder oor die rigting waarin die Afrikaanse vermaakbedryf op pad is.

“Ons skep tans ongelooflik baie inhoud. Die werkskepping wat daarmee gepaard gaan, is wonderlik, veral ná hierdie moeilike tyd. Ek is nie seker waarheen ons op pad is nie. Dit sal vir my interessant wees om te sien waar ons staan oor drie jaar van nou af.”

Hoewel hy moontlike verandering in die bedryf in die volgende paar jaar vooruitskou, sien hy uit daarna om te kyk watter nuwe deure oopswaai as gevolg daarvan.

“Die pandemie het rolspelers in die vermaakbedryf ook stelselmatig in ander rolle begin dwing. Daar het talle nuwe goed geblom.”

Albert Pretorius as Ronnie Adendorff in ‘Nêrens, Noord-Kaap’. (Foto: Zaheer Banderker)

Dit maak Pretorius ongemaklik om te dink dat daar mense is wat oor hom as mens in hul sitkamers gesels.

“Wanneer hulle oor my gesels, gesels hulle eintlik oor Ronnie [Pretorius se karakter in die reeks, Nêrens Noord-Kaap], nie oor Albert nie.”

Hy het van jongs af geweet dat die kunste hom beskore is. Hy vertel skertsend dat hy gedroom het oor ʼn Oscar-beeldjie as jong seun, iets wat hy nou as naïef beskryf.

Op ’n plaas in Mpumalanga het Pretorius met dié droom grootgeword. As klein seuntjie het hy vir die Koöperasie-tannies op die dorp gesing, waarna hy met ’n paar sente beloon is.

“As jy in ’n klein dorpie grootword, is jou blootstelling nie dieselfde as dié van ’n stadskind nie.”

Hy vertel met nostalgie oor die Storieman-boeke en -kassette wat hy die een ná die ander stukkend geluister het.

“Ek het die kassette so baie geluister dat ek die woorde uit my kop geken het. Ek kon die boeke ‘lees’ op ’n jong ouderdom, hoewel ek eintlik glad nie gelees het nie, ek het net die kassette opgesê.”

Hoewel hy steeds op sy gemak is in klein dorpies, het die stad se liggies nooit vir Pretorius, wat tans in Kaapstad woonagtig is, opgehou skitter nie.

“Onthou, daar is nie ’n fliekteater op Volksrust [waar Pretorius grootgeword het] nie.”

In sy graad 10-jaar het die Pretorius-gesin na die Jakarandastad, oftewel Pretoria, verhuis. Hy erken skaamteloos dat hy al sy sakgeld by Menlyn se fliekteaters uitgegee het.

As daar een ding is wat Suid-Afrikaners van hom weet, is dit dat hy eintlik wil hê mense moet so min moontlik van hom weet.

“Hoe minder mense van my weet, hoe meer glo hulle die karakters wat ek vertolk.”

  • Pretorius is eersdaags in die Showmax-gruwelreeks, Pulse, wat op 23 Junie vanjaar op die kassie sal wees, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

katswink ·

Hy beskik oor fenomenale talent….. een van die heel bestes wat Suid Afrika nog ooit opgelewer het! Sy vertolking in veral Nêrens, Noord Kaap was verbysterend.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.