Aleit Swanepoel: ‘Dit gaan nie net oor tafels dek en mooi maak nie’

Aleit Swanepoel. (Foto: Verskaf)

Aleit Swanepoel. (Foto: Verskaf)

Toe Aleit Swanepoel in April 2017 vir die eerste keer voor die kamera inskuif as aanbieder van sy eie leefstylprogram, Tyd met Aleit, sou hy nooit kon droom dat hy tot in die nuwe dekade kykers se tone sou laat krul van leefstyl-lekkerte nie.

Die vyfde seisoen van dié gewilde program, waarin Swanepoel met ʼn rits bekendes gesels en ook die jongste dekor- en kosneigings bespreek, het vandeesweek op kykNET begin. Sy eerste gas was Zozibini Tunzi, wat in Desember as Mej. Heelal gekroon is.

Swanepoel, wat sy voete as aanbieder op DEKATv gevind het en ook gereeld as geleentheidskoördineerder op programme soos Pasella en Top Billing verskyn het, sê hy is verstom oor Tyd met Aleit se gewildheid.

“As jy op skool vir my, die seun van ʼn nederige pastoor op Worcester, gesê het ek gaan eendag die aanbieder van my eie program op kykNET wees, sou ek nooit kon dink dit is die waarheid nie. Maar ek is nederig gelukkig oor hoe ver ons gekom het,” vertel Swanepoel.

Sy pad tot voor die kassie is, net soos hy, ʼn onkonvensionele een. Hy vertel die staaltjie al laggende van hoe DEKATv hom destyds genader het vir ʼn aanbiederspos.

“Ek het een aand voor die kaggel in my vorige huis gesit en my foon het gelui. Die persoon aan die ander kant was van DEKATv, en dié sê hulle sal vir my ʼn vlugkaartjie bespreek, ʼn drywer met ʼn grand kar sal my oplaai en na die Saxon-hotel neem, waar hulle my toe sjampanje en duur olywe gevoer het. Ek maak heelaand asof ek alles gewoond is, maar vra toe uiteindelik ná ete hoekom ek daar is.

Marciel Hopkins en Aleit Swanepoel. (Foto: Instagram/Tyd met Aleit)

Marciel Hopkins en Aleit Swanepoel. (Foto: Instagram/Tyd met Aleit)

“Hulle sê toe hulle wil hê ek moet aanbied op DEKATv, maar ek moet net eers ʼn video maak van myself en dit vir hulle aanstuur sodat hulle kan sien hoe ek lyk op kamera. Ek stuur die video, en lang storie kort kom die antwoord: Dankie, maar nee dankie. En my wêreld stort in duie.”

Die vervaardigers van DEKATv het voorgestel hy doen ʼn aanbiederskursus by die bekende aktrise Elsabe Daneel. “Ek het toevallig die dekor vir haar man se 60ste verjaarsdag gedoen. Ek onthou daar was geel rose op elke tafel en ek en Elsabe het goeie aanklank by mekaar gevind. Ek was veronderstel om ʼn kursus van drie maande by haar te doen, maar sy het my binne drie uur reggeruk en gesê ek is gereed vir die televisie.”

Daarna was Swanepoel vir drie seisoene op DEKATv.

Hy vertel dat sy aanbiedingstyl van die aanvang van Tyd met Aleit tot nou baie verander het. “Met die eerste twee seisoene het ek glad nie opgelees oor die bekendes met wie ek onderhoude gevoer het nie. Ek wou die individu op ʼn eerlike manier ontmoet sonder vooropgestelde idees, maar dit was die verkeerdste ding wat ek kon doen. Ek het gevind ek verloor waarskynlik ʼn bietjie kredietwaardigheid indien ek nié alles weet oor die individu nie.

“Met die laaste twee seisoene het ek in diepte voorberei voor elke onderhoud en dit het ʼn reuseverskil gemaak. Ek gaan sit die aand voor die onderhoud alleen in ʼn restaurant en ek lees alles wat ek kan vind oor die betrokke persoon.”

In die vyfde seisoen van Tyd met Aleit, waarvan Mandie Barnard die regisseur is, gesels hy met onder andere Hannon, Sue Duminy, Lizz Meiring, Johan en Lida Botha, Simoné Nortmann, Elvis Blue en Clint en Steffi Brink.

Aleit Swanepoel en Willem Botha. (Foto: Verskaf)

Aleit Swanepoel en Willem Botha. (Foto: Verskaf)

“Ek het ʼn paar onderhoude gedoen waar ek só diep gekrap en van die vraelys afgewyk het dat ek begin huil het oor die mense se stories, die hartseer van mense se kinderjare en byvoorbeeld boelies op skool. Dit laat my besef ek is doodnormaal en dat ons almal maar net mense is, maak nie saak wie jy is of hoeveel toekennings jy al verwerf het nie.”

Hy voeg by dít is wat die program vir hom die moeite werd maak, al verg die verfilming baie tyd en harde werk. “Dit gaan nie net oor tafels dek en mooi maak nie, dit gaan oor mense wat bereid is om hulle stories te deel.”

Volgens Swanepoel is dit moeilik om ʼn gunsteling-onderhoud uit te sonder. “Elke onderhoud is spesiaal op sy eie manier, maar iemand wat my heeltemal uitgeboul het, is Lizz Meiring. Ek het haar geken as die vrou in Molly en Wors wat skelm die brandewyn uit die Omo-doos in die kombuis drink, maar sy het ʼn ongekende diepte aan haar. En haar woordeskat! Haar liefde vir mense en lus vir die lewe het vir my absoluut uitgestaan.”

Nóg ʼn baie spesiale onderhoud was met die akteurspaar Lida en Johan Botha. “Hulle is 80 en 84 jaar oud. Dit was fantasties om te beleef hoe lief hulle vir mekaar is en hoe hulle saam net sit en staar in die verte en mekaar se geselskap geniet. Hulle het my weer in die liefde laat glo.”

Bekendes met wie hy graag nog sou wou gesels, is die aktrises Anna-Mart van der Merwe, Sandra Prinsloo, Annelisa Weiland, Shaleen Surtie-Richards en die rocker Karen Zoid.

Aleit Swanepoel. (Foto: Verskaf)

Aleit Swanepoel. (Foto: Verskaf)

Swanepoel deel ook graag sy eie storie by skole en vertel dat ʼn skoolmeisie hom onlangs op Facebook laat weet het van die indruk wat hy op haar gemaak het.

“Ek het na asem gesnak toe ek die boodskap kry,” vertel hy en raak emosioneel. “Sy sê vir my sy het ná my praatjie die skoolterrein platgesoek na my, maar kon my nie kry nie. En sy wou graag vir my sê dat ek iets in haar wakker gemaak en haar laat besef het sy moet lief wees vir haarself en die lewe aangryp. Sjoe, dit het my laat besef watter verskil ek kan maak.”

Kyk na Tyd met Aleit Sondae om 17:30 op kykNET, DStv-kanaal 144. In Sondag se episode gesels hy met die aktrise Zenobia Kloppers.

Tyd met Aleit S05E02 | Zenobia Kloppers

Episode 2 met Zenobia KloppersVerlede jaar is die nuwe weergawe van Fiela se Kind Film uitgereik waarin Zenobia Kloppers die hoofrol van Fiela Komoetie vertolk. Aleit bederf haar met ‘n speelse teetafel by vriende se huis in Welgemoed. Wayne Smith, mede-akteur op Fiela se kind en Joanie Combrinck, gesoute aktrise en radiodrama-regisseur kom sit ook aan. Aleit raak braaf en gaan proe die nuutste geregte by The Insect Experience in Woodstock, Kaapstad. ‘n Neiging wat definitief nog opslae gaan maak in die toekoms.Skakel in hierdie Sondag om 17:30 op kykNET!HGG Finansiële Groep | Aleit Swanepoel | The Wembley MediSpa | Pier Augé | Paul Roux Coiffeur & PRDV Concierge | @nicky.coetzee | Jacoba Clothing | BLOMBOY | M Patisserie | Gourmet Grubb | @jeanlouwrens | Marciel Hopkins | @mario.barnard #TydmetAleit

Posted by Tyd met Aleit on Tuesday, January 7, 2020

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.