Aleit vertel oor ‘Tyd met Aleit’

Aleit Swanepoel (Foto: Verskaf)

Aleit Swanepoel, die bekende gesig van kykNET se leefstylprogram Tyd met Aleit, begin Woensdag met die vierde seisoen van dié program. In die jongste seisoen delf Aleit bietjie dieper in bekendes se persoonlike lewens en fokus hy ook op ondervindings, eerder as dinge, om herinneringe te skep.

Aleit sê namate Tyd met Aleit se kykersyfers toegeneem het oor die laaste drie seisoene, wou die vervaardigers ook vir die kykers voortdurend beter inhoud gee.

“Die kykersyfers het gegroei, maar ek het self ook baie gegroei. Ek wil nie inhoud skep wat die media reeds geskep het of wat ek op Instagram of Pinterest sien nie,” sê hy.

“Ons fokus ook so ʼn bietjie meer op reis en ondervindings. Ek het agtergekom dat mense nie meer soseer dínge wil koop nie, maar dat hulle eerder hul geld op ondervindings wil bestee. Ek zipline byvoorbeeld in ʼn stadium in Ceres. So mense sal ʼn ander kant van my sien.”

Bekendes wat in dié seisoen met Aleit gaan gesels is onder andere Brümilda van Rensburg, Denise Newman, Demi-Lee Moore, Vanes-Mari Proudfoot, Tamaryn Green, Chris Chameleon en Emo Adams.

“Dit was vir my ʼn voorreg om in Brümilda se huis te wees. Dit is so lekker om in die bekendes se spasies te wees, om uit te vind wie hulle regtig is, om hul slaapkamers te sien en om hulle te begin verstaan. ʼn Mens vorm regtig ʼn verhouding met hulle deur ʼn hele dag saam met hulle deur te bring; ons leer mekaar ken, en ons raak vriende,” sê hy.

Wat vir Aleit opvallend was, is hoe plat op die aarde hierdie bekendes is.

“Jy kan maar hoeveel geld hê en jy kan ál die toekennings gewen het, mense is net mense. Almal het hul dinge, almal het seergekry en op ʼn tyd het almal die verkeerde besluite geneem, so dit is vir my lekker om dieper in hulle te delf.

“As ek dalk net vir een kind daar buite kan help om sy of haar selfwaarde te ontdek, is die twee jaar se verfilming van dié seisoen die moeite werd vir my,” sê hy.

Aleit Swanepoel (Foto: Verskaf)

Aleit sê dit is vir hom ʼn gawe van God om ná drie seisoene steeds met nuwe idees vorendag te kom vir sy program. Hy sê hy word deur elke bekende individueel geïnspireer en het nie voorafgestelde idees oor waarvan hulle sal hou nie.

Juis omdat hy besef dat mense nie meer baie geld het om aan dekor te bestee nie, wou hy dié seisoen nóg meer prakties maak om vir mense te wys hoe om tuis te onthaal.

“Die goed wat ek wys is nie té oordrewe nie, en meeste van die goed kan kykers self doen. Dit gaan nie meer oor grand wees nie, mense het nie geld om grand te wees nie! Dit gaan oor hoe jy voel en hoe die mense wat by jou kuier voel; waaroor hulle gaan lag en praat na die tyd.

“Ek het persoonlik baie gegroei deur tyd deur te bring met die mense wat deel van die span is. Nie net die bekendes nie, maar die mense wat die kamerawerk doen of die mense wat die kos maak. Ek word blootgestel aan só baie mense, en dit maak so sommer van voor af trots op en lief vir ons land,” sê hy.

Tyd met Aleit is Woensdae om 18:00 op kykNET, kanaal 144.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Makiet ·

Dis juis deel van ons kultuur wat hy in ons voorhuise bring…of wil jy nét Voortekkerrokke, Voortrekker baadjies en hobbel boeremusiekplate sien en hoor?

Cornelia ·

Ek dink dit is party keer goed om na die program te kyk, lekker tips kan hieruit kom. Beter as die gemors van flieks wat geen mens as familie kan saamkyk nie bv . Age restrictions 18 met SLV as voorbeeld. G’n wonder daar is soveel gesinsgeweld, moord, verkragting, jong tiener swangerskappe wat oorbevolking veroorsaak. Kla eerder daaroor!!!!!!

kraai ·

Kla eerder oor die gemors van flieks waarna gesinne saam kan kyk nie. Age restrictions 16- 18jaar, onder meer SLV. Meeste jong kinders kan net naweke tyd saam met familie tyd deurbring. Weeksaande is uit, tyd gebonde om vroeg te gaan slaap agv skool. Geen wonder daar is soveel kinderswangerskappe (tieners) wat oorbevolking meebring. Hiermee word ons onteien van eiendomme, ens.

Sonja Alberts ·

Hy’s soos Hannon ek is maloor Tyd met Aleit!!!Kyknet en Via is beslis die moeite werd op DSTV (dink is al kanale wat ek en my man kyk)elke episode is intersant!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.