‘Alles Malan 2’ skyn kollig op suksesvolle vroue

Deur Ilza Roggeband

Mateo Olivier as Freek en Nadia Valvekens as Tessa in ‘Alles Malan’. (Foto: Verskaf)

In Suid-Afrika is mans nog bo-aan die arbeidsleer, nie net in hoeveel van hulle werk nie, maar ook hoeveel meer hulle as vroue verdien. Dít is wat navorsing deur die Nasionale Tesourie vroeër vanjaar bewys het. Mans verdien om die waarheid te sê meer as vroue in sewe van die agt metros in Suid-Afrika met net Bloemfontein waar vroue ongeveer dieselfde as mans verdien.

Daar is natuurlik altyd uitsonderings op die reël en daar is wel ook vroue in Suid-Afrika wat meer as hulle mans verdien. Kyk jy egter na statistiek in die res van die wêreld, lyk die prentjie anders. In Amerika is 28% van getroude vroue die broodwinners en in Brittanje het die syfer van 19,8% in 2004 na 23,3% in 2019 gestyg.

In Alles Malan gaan Tessa (Nadia Valvekens) se loopbaan van krag tot krag terwyl haar man, Frik (Ivan Zimmerman), sukkel om Malan Vervoer aan die gang te hou.

Ivan Zimmerman as Frik en Nadia Valvekens as Tessa in ‘Alles Malan’. (Foto: Verskaf)

Hier is ’n paar wenke wat jy en jou geliefde kan volg indien julle dalk in Tessa en Frik se posisie is:

  • Julle lewe in ’n ander tyd as julle ouers en grootouers. Jou ma het dalk glad nie gewerk nie en jy was gewoond daaraan dat die vrou nog die tradisionele rol in die huis speel. Sien julle self as baanbrekers wat wys dat moderne verhoudings aangepas het by die tye en net so sterk kan wees as dié waaraan ons vir dekades gewoond was.
  • Maak seker dat julle die hele tyd kommunikeer en op dieselfde bladsy is. Net soos vroue in tradisionele huwelike jare gelede gedink het hulle bydrae word soms misgekyk, is daar mans wat dalk kan voel hulle word nie belangrik genoeg geag nie omdat hulle minder verdien. Soos die gesegde gaan: Dis die klein jakkalsies wat die wingerd kan verwoes. Maak seker die klein jakkalsies word aangespreek voor hulle te veel probleme veroorsaak.
  • Wat elkeen se verantwoordelikhede is, is belangrik om vas te stel. Werk saam aan ’n skedule sodat elkeen weet wat sy of haar verpligtinge is. Maak kookbeurte en beurte om die inkopies te doen. Veral as daar kinders betrokke is, moet daar stabiliteit wees.
  • Wees openlik oor finansies. Al twee van julle werk moontlik dieselfde ure, maar die vrou verdien dalk merkbaar meer as die man. As julle openlik met mekaar praat, saam aan ’n begroting werk en dieselfde einddoel in die oog het, sal dit samewerking vergemaklik.
  • Moenie huiwer om professionele hulp te kry nie. Dit is beslis nie ’n skande om ’n huweliksberader of sielkundige te gaan sien nie. Berading het al menige verhoudings gehelp en gered.

Nadia Valvekens as Tessa in ‘Alles Malan’. (Foto: Verskaf)

Bekende vroue wat met mans getrou het wat minder as hulle verdien

  • Die aktrise Amy Schumer se persoonlike assistent het haar sjef-broer, Chris Fischer, genooi om vir hulle te kom kook. Amy en Chris het verlief geraak en is in 2018 getroud en het in Mei 2019 ouers van klein Gene geword.
  • Meryl Streep het haar groot deurbraak in 1978 in die rolprent The Deer Hunter gemaak. Dit was ook die jaar wat sy en die beeldhouer Don Gummer getroud is. Meryl is deesdae $160 miljoen werd, maar sy en Don – wat ouers van vier kinders is – is nog net so gelukkig getroud.
  • Julia Roberts, wat $250 miljoen sterk is, het in 2001 die kameraman Danny Moder op die stel van The Mexican ontmoet en hulle is in 2002 getroud. Vroeër vanjaar met hulle 19de huweliksherdenking, het Julia ’n foto op Instagram gedeel met die onderskrif: “19 years. Just getting started!”. Hulle is ouers van die 16-jarige tweeling Hazel en Finn en 14-jarige Henry.

Alles Malan is op Dinsdagaande om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

ooknetmens ·

Ek verdien 2 en n half keer my man se salaris. Maar hy gun my dit en is nie kleinlik daaroor nie. Ek weet wel hy werk 100keer harder as wat ek ooit doen. Ons uitkyk is : As een beter doen, doen ons as span ook beter. So met elke bevordering of verhoging is hy amper blyer as ek, want ons as gesin doen dan beter. Jou manlikheid word nie gekoppel aan jou salaris nie.

Elinette ·

Ek mis die reeks nie sommer nie. Net, Lee-Ann se ge”faf” met klein Nina net omdat sy bang is die kind raak met ‘n kompleks oor haar moeder-dogter verhouding, is irriterend. Genade, ek sal ook aanhoudend huil as ek heeldag in ‘n knoopdoek moet hang en heen-en-weer-, op-en-af geskud (kamma ‘gesus’) word!!!

Wat dit die verhouding tussen man en vrou, waar die vrou meer verdien as die man, aanbetref – dit sal net ‘n “issue” wees as daar een van gemaak word. Freek Jnr. moet egter oop kaarte speel met sy vrou – hoe lank gaan hy die façade kan voorhou? Tessa gaan die een of ander tyd iets agterkom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.