‘Alles Malan’ se Greteli: Enkelma op kassie, mevrou in werklikheid

Greteli de Swardt, bekend vir haar rol as Elani Malan in ‘Alles Malan’, is vroeër vandeesmaand met Juan de Swardt getroud. (Foto: George Dyason)

Dit was haar beste vriendin, die aktrise Marguerite van Eeden, wat haar aan die liefde van haar lewe voorgestel het en vandag is Greteli Fincham, nou bekend as Greteli de Swardt, ʼn getroude vrou.

Greteli (20), wat die rol van Elani Malan in die gewilde kykNET-dramareeks Alles Malan vertolk, is vroeër vandeesmaand met Juan de Swardt (27) getroud.

ʼn Klein groot dag

Sy vertel aan Maroela Media hulle het dadelik geweet hulle is vir mekaar bedoel en het nie gras onder hulle voete laat groei om hulle liefdesverhaal te verewig nie.

Die egpaar was slegs ʼn paar maande verloof voordat hulle in die tuin van Juan se ouerhuis op Stellenbosch trou aan mekaar beloof het. Dit was ʼn intieme geleentheid met slegs ʼn handjievol gaste en Greteli sê hulle sou niks aan die groot dag wou verander nie.

“Hoewel die troue vinnig ná die verlowing geskied het, het nie een oomblik vir ons gejaagd gevoel nie. Toe ons mekaar ontmoet het, het dit nie lank gevat om te weet dat ons met mekaar wil trou nie. Die Here het alles so mooi in plek laat val en alles het mooi en organies verloop, niks is geforseer nie – en toe ons weer kyk, is ons getroud,” vertel sy laggend aan Maroela Media.

Greteli en Juan op hulle troudag. (Foto: George Dyason)

Sy vertel sy het deur ʼn moeilike tyd in haar lewe gegaan toe Marguerite haar aan Juan wou voorstel en aanvanklik wou sy niks weet van dié ontmoeting nie.

“Ek het vir haar gesê daar is nie nou plek in my lewe vir ʼn man nie, maar sy het aanhou sê sy wéét wie is my trouman. Dit was toe Juan.”

Greteli, wie se besonderse naam ʼn samestelling van haar ouma Gretel en ma Lisl se name is, vertel sy en Juan, ʼn videograaf van beroep, is albei sentimentele mense en dat hulle besluit het op ʼn klein troue om te sorg dat hulle grootouers die geleenheid kan bywoon.

“Aanvanklik het ons gastelys by 400 mense gedraai en dit het ongelooflik druk en spanning op ons geplaas. Weens die pandemie en alles wat daarmee gepaard gaan, het ons besef ons sal nie so ʼn groot troue kan hou én ons grootouers daar kan hê nie – dit sou beslis ʼn gesondheidsrisiko vir hulle inhou. En daar was nie ʼn manier wat ons die groot dag sonder hulle kon aanpak nie, hulle is vir ons té belangrik,” verduidelik sy.

Daarom het hulle uiteindelik besluit om slegs ʼn handjievol familielede te nooi. “Ek en Juan is in elk geval nie mense wat graag in groot groepe kuier nie en ons het geweet ons gaan nie ons dag ten volle kan geniet as daar honderde mense ons troue sou bywoon nie.”

Greteli en Juan het pret gehad op hulle intieme troudag. (Foto: George Dyason)

Sy vertel dit was ekstra spesiaal dat Juan vir elke ouma en oupa ʼn persoonlike toespraak kon lewer en dat hulle vir elke persoon teenwoordig ʼn brief kon skryf om hulle te bedank.

“Ons het dieselfde adrenalien en emosies beleef as wat ons sou as ons ʼn groot troue sou hou. Ons het nou net die geleentheid gekry om saam met ons naastes almal om ʼn tafel te sit. Dit was ʼn ongelooflike spesiale dag.”

Greteli het in dieselfde rok getrou waarin haar ma 23 jaar gelede voor die kansel gestaan het. “Die rok is net ʼn klein bietjie verstel, maar dit is ʼn klassieke, tydlose rok en ek het altyd gedink ek sal eendag in ʼn rok soos my ma s’n wil trou.”

Elani in Alles Malan

Greteli as Elani in ‘Alles Malan’. Ivan Botha speel die rol van haar kêrel, Wim, en op haar skoot is klein Sebastian Weyers, wat die rol van Junior vertolk. (Foto: Inecke Jonker)

Vir haar karakter in Alles Malan, wat vanaand (Dinsdagaand) vir die laaste keer op kykNET uitgesaai word voordat die seisoen eindig, is die liefde egter effe meer ingewikkeld. Elani is tans in ʼn verhouding met Wim, ʼn argitek wat bykans so oud soos haar ouers is en wat ook ʼn jong dogtertjie van sy eie het.

Die rol van Wim word deur Ivan Botha, die gesoute Afrikaanse akteur en regisseur, vertolk. Sy vertel dit was ʼn wonderlike ervaring om teenoor Ivan te speel. Hy het kort tevore ook teenoor haar gespeel in die Netflix-reeks Blood and Water, waarin hy ʼn onderwyser is, wat haar karakter uit duisende rand swendel.

“Ons het nie vooraf saam oudisies vir Alles Malan afgelê nie, so dit was ʼn groot verrassing toe ek hom op die stel sien en besef hy gaan my kêrel speel,” vertel Greteli.

“Dis altyd lekker om teenoor iemand te speel wat al soveel in die bedryf gedoen het, want ek kon verskriklik baie by hom leer. Hy is die soort akteur wat alles gee al is die kamera nie op hom gerig nie en hy is oor die algemeen ook net ʼn aangename mens.”

Sy het ook die voorreg gehad om teenoor ander gesoute akteurs in die bedryf soos Albert Maritz, Elsabé Daneel, Ivan Zimmermann en Nadia Valvekens te speel.

“Ek is mal oor die mense saam met wie ek gewerk het. Alles Malan was my eerste groot werk in die bedryf. Ek was aanvanklik vreeslik geïntimideer deur dié mense, maar het vinnig besef ek hoef glad nie te wees nie. Hulle is almal so nederig en gaaf en het later werklik soos my grootouers en ouers gevoel.

“Dit is ʼn wonderlike ervaring om teenoor mense te speel wat vrygewige akteurs is. En mens kon ook sien aan hoe hulle die ander mense op die stel, van die grimeerkunstenaars tot die ekstras, behandel het dat hulle werklik mens mense is. Dit was ongelooflike geselskap om in te wees en ons het baie saam gelag en gehuil. Ons kuier nou nog saam as vriende.”

Greteli en Sebastian is Elani en Junior in ‘Alles Malan’. Sy vertel sy het soos ‘n ma vir hom geword op die stel. (Foto: Inecke Jonker)

Om ʼn jong ma te vertolk was ook nie maklik nie. “Met die eerste seisoen en die swangerskap-storielyn het ek navorsing gedoen oor swanger vroue se hormone en hoe ʼn swanger vrou byvoorbeeld stap en opstaan en gaan sit. Ek het gefokus op lyftaal.”

Dié keer het sy ʼn amper driejarige seuntjie, Sebastian Weyers, op haar heup gehad. Dié skattige blondekop-seuntjie het die rol van Junior vertolk en Greteli vertel sy het op die stel soos ʼn ma vir hom geword.

“Hy is nog klein en het met tye vreeslik gehuil as sy ma, Bronwyn, op die stel was. Daarom moes ek soos ʼn ma vir hom word en tussen tonele deur hom voer, sy doek ruil en hom aan die slaap kry. Dit was ʼn massiewe uitdaging, maar ons het ʼn spesiale band daardeur gevorm en ek het nou nog kontak met hom en sy ouers.”

Sy bieg dat die karakter van Elani se persoonlikheid na aan haar eie is en dat dit vir haar soms die moeilikste rolle is om te vertolk.

“Ek het voorbereiding getref deur ʼn dagboek te hou waarin ek gedagtes sou neerpen soos wat ek deur die tekste werk. Dit was vir my belangrik om vir Elani van Greteli te skei, juis omdat ons so eenders is. Ek wou nie my natuurlike instinkte volg met die karakter nie, want dit voel ʼn bietjie soos kroek,” sê sy laggend.

Die tweede seisoen van Alles Malan eindig vanaand (Dinsdag) om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144. Die volledige seisoen is op DStv CatchUp beskikbaar.

Greteli se raad aan bruide

Greteli en Juan se troudag was ‘n intieme geleentheid. (Foto: George Dyason)

Greteli het die volgende raad vir voornemende bruide wat graag self ʼn klein troue wil hê: “Moenie jou steur aan ander mense se verwagtinge van jou groot dag nie. Ek en Juan het gesit en mekaar herinner oor wat ʼn troudag beteken en wat dit vir ons moet beteken – nié wat ander mense gelukkig maak nie. Juis daarom het ons besluit op ʼn intieme dag en ons is só gelukkig met ons besluit.

“Aan die einde van die dag is dit een van die belangrikste dae in ʼn bruid en bruidegom se lewens en moet hulle die beste keuses vir hulself maak. Ons het ons vriende vooraf laat weet dat ons besluit het op ʼn klein troue en die meeste van hulle was toeganklik en gaaf daaroor.

“Speel oop kaarte met jou gaste en jy sal vind dat hulle gaan verstaan. Daar was selfs van my vriendinne wat op die troudag kom help het om alles reg te kry, al was hulle nie genooi na die troue nie. Ek het gesorg dat ek vooraf ʼn kombuistee hou met al die vroue in my lewe, en het op so ʼn manier die groot gebeurtenis in my lewe saam met hulle gevier.”

Maroela se Bruid van die Jaar: Skryf in as Somerbruid!

Maroela Media bied vanjaar vir die eerste keer ʼn spesiale Bruid van die Jaar-kompetisie aan. Dit word in samewerking met Dream Hotels & Resorts aangebied en daar is groot pryse op die spel.

Ons gaan elke seisoen ʼn seisoenbruid aankondig en aan die einde van die jaar gaan ons lesers die geleentheid kry om die Bruid van die Jaar aan te wys. Jy kan in aanmerking kom vir ons Somerbruid as jy tussen Desember 2021 en Februarie 2022 trou. Inskrywings vir ons Somerbruid sluit op 4 Maart 2022. Klik hier om in te skryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Casper ·

Haai ek wonder watse gemors gaan Valdimar Pelser en kie nou op ons afdwing met regstellende aksie in ag genome.

AmY ·

Dis só jammer die reeks maak klaar. Ek gaan die Malan’s baie mis

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.