Alles Malan: Treffer-reeks boor ʼn aar raak

Alles Malan (Foto verskaf deur Showmax)

Die Malans van die Paarl het diep in kykNETters se harte gekruip. Wanneer kykers begin praat van karakters asof dit mense is wat hulle ken, moet jy weet die skrywers, regisseurs en vervaardigers het iets reggekry.

Die Malans van Alles Malan is ʼn hegte gesin wat mekaar van vooraf moet leer ken ná die oudste van die twee Malan-seuns, Frik, en sy gesin terugkeer na Suid-Afrika. Frik (Ivan Zimmermann) en sy vrou, Tessa (Nadia Valvekens), se twee tienerkinders kom saam – Elani (Greteli Fincham) en Freek (Mateo Olivier). Albert Maritz en Elsabé Daneel is te sien as Frik se ouers, Derik en Brenda, en Sean Marco Vorster is sy jonger broer, Nico. Nicole Fortuin is te sien as Lee-Ann, Nico se geliefde, en Marius Weyers speel die rol van Brenda se pa.

Die span agter die skerms het al diep spore in die vermaakbedryf getrap. Corné en René van Rooyen het saam aan die reeks geskryf en is ook die regisseurs. Hulle het saam met Tascha van der Westhuizen die reeks vervaardig. Corné is onder meer die regisseur van die trefferflieks Vaselinetjie en Hollywood in my huis en René was onder meer die regisseur van die romantiese komedie Mooirivier. Haar nuwe fliek, Toorbos, word volgende jaar uitgereik.

“Dit is wonderlik om te hoor dat soveel families saam inskakel,” sê René van Rooyen, een van die regisseurs, skrywers en vervaardigers van Alles Malan. “Ons was veral verras toe boodskappe van reg oor die wêreld inkom; kykers wat deel voel van die Malans en hul eie families in hulle raaksien.”

Sy sê die spelers in die reeks is soos ʼn ware familie.

“Ons het ʼn Malans WhatsApp-groep en noem mekaar daar op die karaktername,” vertel René. “Ons was byvoorbeeld almal by die Silwerskermfees om vir Mateo (wat die rol van Freek speel) te ondersteun by die première van Fiela se Kind waarin hy ook speel.”

“Aaag, mooi, mooi, mooi! Trane van blydskap,” het Ansie Botha Botes op die Alles Malan Facebook-blad laat weet. “Die einde van elke episode eindig met ʼn hoogtepunt. Ek’s lief vir hierdie mense.”

Lizette Coffee stem saam. “’n Eerlike en realistiese storie met akteurs wat hulle rolle so goed vertolk. Dit voel of jy die Malans persoonlik ken. Ons soek nog, groot asseblief!” En Johan Cloete skryf: “Die reeks beter aanhou tot daai baba eendag universiteit toe gaan.”

“Ek sit gister langs die supper tafel en luister die enthusiastic gesprek oor hoe absolutely kwaai die Alles Malan is,” skryf Gaireyah Fredericks, ʼn skrywer van die Paarl wat ʼn gasrol in die reeks speel, op Alles Malan se Facebook-blad. “Hulle noem characters by die naam, bespreek in diepte hulle menings en mention hulle favourites. Hulle quote my lyne en smile en ek wish ek’t ʼn camcorder êrens gelos om dit te share. Julle maak mooi, Malans. Julle doen! Die series boei oor alle grense, kan ampe sê is soese anthem. Awe, glad to be part of it.”

Maar dis nie net Suid-Afrikaners wat elke Dinsdagaand voor die TV kan inskuif om te deel in die lief en leed van die Malans van die Paarl nie. Ook in die buiteland kan kykNETters nie genoeg kry van dié dramareeks nie.

“Ek geniet Alles Malan in Perth, Australië,” het Adele Bester laat weet. “Dis die plek en mense van my hart. Ons kyk dit op Showmax. Dis ons gesin se stukkie Suid-Afrika wat ons koester hier in ons Engelse land. Ek het tot al ʼn vriendin of twee laat binge om op datum met die Malans se doen en late te kom. ”

Ander kykers van so wyd as Beijing tot België sit ook vasgenael. Melanie Opperman wat in Engeland woon, is een van dié wat vir meer as een rede kyk. “Buiten dat ek my verkyk aan die bitter goeie toneelspel van Greteli Fincham, ons hartsvriende se dogter wat voor my grootgeword het, is dit my gunsteling-program op TV. Sien uit om dit elke week op Showmax te kyk.”

Alles Malan se dertiende episode, en laaste in die reeks, word op 1 Oktober uitgesaai op kykNET DStv-kanaal 144.

Die reeks is ook beskikbaar op Catch-up, DStv Now en Showmax buite Suid Afrika.

Hoe kry jy Showmax?

Kry ’n voorsmakie van al die Showmax-aksie met ’n twee weke gratis proeflopie.  Daarna kos dit slegs R99 per maand om duisende plaaslike en internasionale reekse, rolprente en dokumentêre programme te geniet.

As jy ’n DStv Premium intekenaar is, sal Showmax jou nie ’n enkele sent meer kos nie. Gaan eenvoudig na www.showmax.com/dstv om in te teken en geniet volledige toegang tot Showmax teen geen ekstra koste nie. DStv Compact Plus-intekenaars kan Showmax byvoeg teen slegs R49 per maand.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.