Altus en Zetske: Só balanseer hulle werk en gesin

altus-en-zetske

Altus en Zetske met klein Alexander. Foto: Instagram/Zetske van Pletzen

Die stootwaentjie pas net-net deur die ateljee se deur. “Ons bring maar deesdae die outjie oral saam met ons waar ons kan,” sê Altus Theart. Hy praat natuurlik van sy slapende seuntjie in die stootwaentjie.

Die voorwiel stamp teen die kosyn. Ma Zetske van Pletzen lig die kombersie op en loer in. “Ai, nou is jy sommer wakker. Is jy oukei?” koer sy, maar Alexander maak nie ʼn geluid nie. Stroopsoet en piepklein. As jy vir Zetske bekyk sal jy omtrent nie kan glo daardie vietse lyf was so te sê vier maande gelede nog hoogswanger nie.

ʼn Mens kom nie meer so vinnig by ʼn plek aan of uit nie, lag Altus. “Jy sien mos, nou is dit stootwaentjies en doekesakke en bottels en allerhande goedjies wat saamgeneem moet word.”

Hy gesels maklik. “Ek dink ek en Zetske is ʼn baie goeie span en sy is wonderlik met hom. Ons vul mekaar aan deur die hele proses. Ons sê altyd vir mekaar ons moet onthou om mooi te speel met mekaar, anders gaan ons self daaronder ly. Ons moet mekaar ondersteun, anders val die baba dalk op die grond tussen die hand en die mond,” grap hy.

Hy het nooit daarvan gedroom om ʼn sepiester te wees nie, lag hy. Hy is ʼn bekende gesig wat elke aand op die kassie in sitkamers landswyd kuier in die kykNET-sepie Getroud met rugby (GMR). “Vir my het dit begin op die verhoog en toe flieks, en ek het maar stelselmatig oorbeweeg televisie toe met die GMR-reekse, maar ek dink dit is baie lekker hoe GMR ontwikkel het van die reeks af na die sepie toe en ek geniet dit regtig baie.”

Dit help ook dat sy karakter, Fafa Beltrami, ʼn meer volwasse aanslag het in die sepie, sê hy. “In die reekse het Fafa meer die houding gehad wat Blitz Vermeulen (gespeel deur Werner Coetser) nou het. ʼn Stoutgat rokjagter wat hou van meisies en vinnige karre,” lag hy. “Maar daar is nou ʼn soort volwassenheid aan hom en hy gaan nie meer so rof te kere nie. Hy het nou ʼn kind waarna hy moet omsien en staan op trou, so ek geniet die verdieping van die karakter.”

Nuwe ouers

altus-en-zetske-alexander

Klein Alexander trek gesigte vir die kamera. Foto: Instagram/Zetske van Pletzen

Zetske sê sy probeer om elke dag vir Altus op die kassie te kyk, maar dat dit moeilik is noudat die baba hier is. Alexander is op 30 September verlede jaar gebore. En nee, sê sy, hulle kritiseer nie mekaar se werk nie. “Ons gee eerder vir mekaar opbouende, produktiewe kritiek. Ek sal eerder vir Altus sê as iets goed was as wat ek vir hom sal sê dat iets sleg was.”

Altus beaam dit. “Ek is mal oor die dinamiek wat ek en sy het. Ons kritiseer mekaar se werk glad nie, maar lewer eerder opbouende kommentaar sodat ons kan groei en beter word met wat ons doen,” sê hy.

Die paartjie het onlangs hul vyfde huweliksherdenking gevier en glo kommunikasie is die hoofbestanddeel in hul suksesresep tot dusver. “Natuurlik stamp ʼn mens elke nou en dan koppe,” sê Altus beslis, “maar praat dit uit. Moenie goed net onder ʼn klip gaan begrawe en dit los nie. Dit gaan opbou en uiteindelik ontplof, of ontwikkel in iets wat groter is as wat dit moet wees.”

Zetske gee ook raad. “Dit is belangrik om vir mekaar ruimte te gee sodat elkeen nog steeds sy eie mens kan wees en sy dinge kan doen, maar saam is julle nog steeds ʼn eenheid en ʼn span.”

“Daar is beslis aspekte van ons verhouding wat moeiliker is nou dat Alexander hier is, maar ʼn mens kyk met nuwe oë na mekaar. Altus sien my nou as ʼn ma en ek sien hom nou as ʼn vaderfiguur vir ons kind, so daar is beslis ʼn nuwe dimensie aan ons verhouding,” sê Zetske.

altus-zetske-alexander

‘n Skattige, slapende Alexander. Foto: Facebook/Zetske van Pletzen

“Wanneer ek op stel is hou Zetske my op hoogte van hoe dit gaan met Alexander deur die dag,” vertel Altus. “As ek in die aande tuis kom van die stel af sal ek hom vir ʼn uur of twee vat sodat sy kan asemskep en dingetjies doen waarvoor sy nie tyd gekry het deur die dag nie. Dit is deur en deur ʼn spanpoging.”

Projekte

Zetske vertel sy het haar studie in Frans en sielkunde klaargemaak. “Uiteindelik, na ses jaar!” lag sy verlig. “Sy het alles cum laude geslaag!” laat hoor Altus trots.

“In ons bedryf is dit baie keer ʼn geval van hurry up and wait op stel, en ek was moeg daarvoor om net rond te sit en tyd te mors op tydskrifte,” sê Zetske. “Ek wou eerder iets sinvols doen met my tyd, toe skryf ek in vir ʼn algemene BA-graad deur Unisa. My plan was om klaar te wees voor ons kinders het, maar met my laaste eksamen was Alexander drie weke oud. Dit het langer geneem om klaar te maak as verwag, omdat ʼn mens maar tussenin besig raak met ander goed. Ek wou baie keer tou opgooi, maar dit is nou verby en ek is baie bly,” sê sy. “Vir nou is ek ʼn mamma.”

Zetske-werk-Alexander.

Alexander kyk hoe sy mamma werk. Foto: Instagram/Zetske van Pletzen

Zetske is ook ʼn talentvolle klereontwerper en het in 2014 begin met haar eie reeks. “Dit was aanvanklik net ʼn reeks rokkies wat jy in die dag werk toe kan dra en dan kan opdollie met bykomstighede sodat jy kan uitgaan die aand. Toe ek self swanger raak verlede jaar het ek begin met die swangerskapsreeks. Dit is beskikbaar in ʼn paar Kids Emporium-winkels en mense kan ook aankoop op my aanlynwinkel by www.zetske.co.za. Ek gaan konstant voort daarmee, ek is heeltyd besig om te ontwerp en nuwe items by die reeks te voeg.”

Benewens sy akteursvernuf is Altus ook ʼn talentvolle sanger. “Ek dink nie baie mense weet dit van my nie. Ek het die naweek gaan sing, maar ek kom toe agter mense dink ek is net daar om ʼn praatjie lewer, en toe klim ek op die verhoog en ek sing. So dit is baie lekker om by optredes mense se reaksie te sien en die terugvoer is positief. Wel, ek is nog nie gegooi met ʼn bottel of iets nie,” lag hy. “Ek wil hierdie jaar my nuwe album uitbring en ek het een of twee ander projekte wat voorlê.

“Ek wil nie net nog ʼn akteur wees wat sing nie,” sê Altus beslis. “Ek wil 100% op albei rigtings kan fokus en ek wil dit vir ʼn lang tyd kan doen.”

Skielik laat Alexander van hom hoor. “Die mannetjie moes eintlik nog geslaap het, dié dat hy nou ongelukkig is,” sê Zetske teer. “Kom, ons vat jou huis toe,” sê Altus sag en maak hulle bondeltjie bymekaar.

Kyk hier na Altus se video vir “So verlief”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.