Armand Aucamp: ‘Ek wil weet waarom karakters doen wat hulle doen’

Armand Aucamp. (Foto: Suzanne Swart/Armand Aucamp/Instagram)

Armand Aucamp het reeds heerlik nesgeskop in die harte en nou ook slimfone van mense oor Suid-Afrika heen. Dié aantreklike donkerkop-akteur se entrepreneursgees skyn helder en sy liefde vir vermaak is daagliks aan’t ontwikkel.

Aucamp is bekend vir sy rolle in trefferreekse en rolprente soos Die Boekklub, Ballade vir ’n enkeling, Sterlopers en nou ook Troukoors. Hy is egter ’n man van vele talente en het ’n resepteboek, Armand kook kaal, in 2018 gepubliseer. Dié suksesvolle boek is opgevolg deur nóg een, Armand kook kaal Vol 2, in 2021.

In 2020 het sy entrepreneurshart weer aan die klop gegaan toe hy die Afrikaanse maatsoek-app, Koer, bekendgestel het.

Die duiwe is behoorlik aan’t koer

Oor dié app, wat tot dusver van krag tot krag gegaan het, raak die 35-jarige akteur maklik aan die gesels.

“Ons het hierdie idee gekry om ’n eksklusiewe Afrikaanse maatsoekplatform van stapel te stuur; ek het geweet dat daar ’n behoefte daaraan is. Die grootste uitdaging in daardie stadium was om so gou moontlik soveel moontlik mense op die app te kry,” het Aucamp vir Maroela Media vertel.

Dié droom het, tot Aucamp se verbasing, in ’n japtrap waar geword.

“Ons doel voor oë was om 5 000 mense binne ’n jaar op die app te kry. Daardie 5 000 mense het binne drie maande opgeklim. Ons was heel oorbluf.”

Binne ’n bietjie meer as ’n jaar nadat die app Afrikaanse fone oor die land heen getref het, was daar meer as 50 000 lede op die platform.

Die app is nie net suksesvol in die opsig van hoeveel gebruikers dit het nie, dit het ook die doel van ’n maatsoek-app oortref en het talle trouklokke vir Afrikaanse enkellopendes aan die lui gesit.

“Noudat die app eintlik volwassenheid getref het, en daar genoeg tyd was vir mense om mekaar op die app te kon ontmoet en te kon gesels, begin ons hoor van huwelike en langtermynverhoudings.”

Hy verduidelik selfs al is daar tans 50 000 lede op die app, is dit al meer as 100 000 keer afgelaai.

“Wanneer mense iemand vind of nie vind nie, haal mense die app van hul fone af. Die aard daarvan is ook dat mense nie vir altyd op die app moet bly nie.”

Dit is vir Aucamp ’n riem onder die hart om te weet dat hy verskeie liefdesbande help smee het.

“Al ons verwagtinge is heeltemal oortref. Al wat ek kan dink, is wow, jy speel ’n rol daarin om mense bymekaar te bring. Dis werklik ’n mooi ding wat ons geskep het.”

Aucamp staan sy skoene as kunstenaar vol

Aucamp bly egter altyd besig om sy eerste liefde na te streef: die kunste.

Hy is eersdaags in die tweede seisoen van die Showmax- en kykNET-trefferreeks, Troukoors, te sien. In dié reeks vertolk hy ’n antagonistiese rol. Iets wat sy hart effens vinniger laat klop.

Armand Aucamp en Lea Vivier. (Foto: Armand Aucamp/Instagram)

“Ek is gewoond daaraan om die protagonis te speel. Om iemand te speel van wie mense nie noodwendig hou nie, is ’n lekker uitdaging. Ek het onlangs ook in die skoene van ’n antagonis in ’n ánder drama geklim – ek geniet dit verskriklik baie.”

Hoewel Aucamp al jare lank in die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf rondwandel, erken hy dat hy steeds ontdek wie hy as kunstenaar is.

“Mens word vasgevang tussen stories vertel en jou rol as kunstenaar. Dan is daar natuurlik ook die werklikheid dat mens moet lewe in die wêreld waarin ons lewe, jy moet werk en geld verdien.”

Met volwassenheid kom ook ’n stuk selfvertroue om die skoene van die karakters waarin hy moet loop, lekker knus te laat sit.

“Die onus is op my om aan die karakter wat ek vertolk ’n stukkie menslikheid te gee. Ek wil weet waarom karakters doen wat hulle doen; mens sien dit nie noodwendig op die skerm nie, maar ék wil dit weet. Wat sit agter daardie optrede?”

Die empatie wat nodig is vir hom om die karakters wat hy vertolk te verstaan, is iets wat Aucamp al van jongs af ken, aangesien hy nog altyd ’n sterk aanvoeling vir diegene rondom hom se emosies en reaksies gehad het.

“As kind het ek geleer om mense en situasies goed te lees. Ek wou altyd weet of ek in die pad is, of ek iemand frustreer. Vir my eie oorlewing het ek baie vinnig liggaamstaal leer lees.”

Hoewel dié vaardigheid handig te pas kom wanneer hy aan sy karakters skaaf, is dit iets wat vir groot emosionele uitputting gesorg het.

“Noudat ek ouer en meer volwasse is, is dit makliker om bewus te wees daarvan wanneer ek sekere goed doen. Dis nou makliker om vir myself te sê om dit net te laat gaan.”

Sy plek in die vermaakbedryf

Die pandemie se beduidende uitwerking op die vermaakbedryf het nie net Suid-Afrikaanse rolprentteaters laat leegloop nie, maar ook die feesterreine oor die land heen dor gelaat.

“Die teater, die musiek en regstreekse optredes het regtig onder die pandemie gely. Ek is nie seker hoe die toekoms daarvan lyk nie. In ’n gesprek wat ek met iemand gehad het oor ’n fees wat sy onlangs bygewoon het, het sy ’n interessante opmerking gemaak. Sy het gesê dat feeste ná die pandemie na die oorspronklike vorm terugkeer en dat daar weer ’n diep waardering vir teater en die kunste is.”

(Foto: Suzanne Swart/Armand Aucamp/Instagram)

Oor verfilmde vermaak sê hy dat die spoed waarteen nuwe Afrikaanse reekse en rolprente uitgeryg word, verhoog het.

“Die pas het eintlik toegeneem. Mense is nou meer by die huis as ooit vantevore, die vraag na inhoud is geweldig hoog.”

Hoewel Aucamp self nie kan onthou wanneer laas hy in ’n fliekteater was nie, beteken dit nie noodwendig dat die vermaakbedryf skielik die verkeerde rigting ingeslaan het nie.

“Dit gaan lank neem vir die filmbedryf om behoorlik te herstel, maar om eerlik te wees, is die insinking al aan die kom van nog voor Covid-19 af. Met die koms van stromingsdienste het diegene wat nog flieks toe gaan al hoe minder begin word.”

Aucamp skram nie weg van verandering nie, hy glo dat dit nuwe deure en vensters in die vermaakbedryf sal laat open.

“Ek is seker met die aankoms van televisie was mense ook skrikkerig – en kyk waar is ons vandag, Ek gaan dit nie my persoonlike stryd maak om mense in die teaters te kry nie. Mens moet kans gee vir nuwe moontlikhede.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.