Anzél kuier weer in die Boland

‘n Foto wat geneem is tydens Rabie se besoek aan Babylonstoren se splinternuwe museum. (Foto: verskaf)

Wyn- en kosliefhebbers kan hul vere begin regskud vir ’n derde Kaapse draai wat Anzél in die Boland gaan maak.

Vanoggend het Anzél Rabie met ’n glimlag op haar gesig en ’n huppel in die stap wakker geword. Die rede hiervoor is natuurlik die derde seisoen van die kos-en-leefstylprogram, Anzél in die Boland, wat vanaand om 21:00 op kykNET afskop.

“In hierdie seisoen kyk ons ʼn bietjie waar die grense van die Boland werklik is. Ons besoek valleie wat ons nog nie vantevore besoek het nie,” het Rabie aan Maroela Media vertel.

Die seisoen sluit besoeke aan Durbanville, Elgin en die Hemel-en-Aarde-vallei in.

Een van die hoogtepunte waarna kykers kan uitsien, is die geskiedenis van die wynbedryf in Suid-Afrika.

“In een van die episodes lê ons ’n besoek af by Constantia. Ons gaan kyk waar Simon van der Stel gewoon het, en hoe hy die wynbedryf in Suid-Afrika begin het.”

Rabie saam met sjef, Schalk Vlok, besig om ‘n pampoendis te maak. (Foto: verskaf)

Rabie erken dat sy nooit tydens haar skooljare haarself te veel aan geskiedenis gesteur het nie.

“Ek het begin nuuskierig word oor die pioniers wat boerdery soos wat ons dit vandag ken moontlik gemaak het.”

Dit is natuurlik vir Rabie heerlik om dieper te delf in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse wynboere.

Sy vertel skertsend dat Napoleon tydens sy besoek aan St. Helenabaai aan die Weskus, gek oor Suid-Afrikaanse soetwyn was.

“Hulle sê natuurlik dat omtrent ’n bottel per dag gedrink het.”

Dit is vir Rabie egter belangrik dat die goue draad van opvoedkundige vermaak wat in die eerste twee seisoene teenwoordig was, ook deur die derde seisoen getrek word.

“Ons wil mense trots op ons boere, sjefs en restaurateurs maak.”

(Foto: verskaf)

In een van die episodes kuier Rabie saam met die rugbyspeler Pieter-Steph du Toit se familie in Riebeek-Kasteel. Du Toit woon nou in Japan, en kykers kan uitsien na heerlike nuus wat die Springbok met sy familie en Rabie tydens die episode deur middel van ’n aanlyn ontmoeting gedeel het.

Die span het ook tydens een van die episodes al te lekker gekuier met die skrywer Irma Joubert.

’n Draai wat Rabie en haar span by die wynplaas Babylonstoren gemaak het, het die span beïndruk gelaat.

“Mense kan nou ’n besoek by die interaktiewe wynmuseum aflê. Ek het nog nooit so iets in my lewe gesien nie! Hulle het twee jaar gewerk om die museum gereed te kry.”

Rabie vertel dat die kooltjie daadwerklik die sous werd was.

Die eerste episodes is klaar verfilm tydens die jaarlikse parstyd.

“Ons het ses weke lank geskiet. Ons vat op die oomblik ’n blaaskans, maar ons hervat binnekort weer die leisels om die laaste drie episodes te verfilm.”

  • Anzél in die Boland word op elke Donderdagaand om 21:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.