‘Arendsvlei’ se Gertie vertel oor rol as matriarg

Celeste Matthews vertolk die rol van Gertie Cupido in 'Arendsvlei'. (Foto: Verskaf)

Celeste Matthews vertolk die rol van Gertie Cupido in ‘Arendsvlei’. (Foto: Verskaf)

Die aktrise Celeste Matthews is net so geliefd in haar rol as Gertie Cupido in die kykNET-telenovela Arendsvlei as in haar rol as leier en steunpilaar in haar gemeenskap.

Matthews, wat bekend is vir haar rolle in reekse soos Known Gods, Geraldina die tweede en Villa Rosa, is ewe tuis in op die verhoog. Sy het in 1999 ʼn Fleur de Cap-toekenning gewen vir haar vertolking van Sophia in Suip! en was ook te sien as Antie Hester in District Six.

Sy vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media die rol van Gertie het op die regte tyd in haar lewe anker geslaan. “Gertie put baie genot uit haar rol as die matriarg van die Cupido-familie. Sy is sout van die aarde, ʼn Godvresende vrou wat lief is vir haar naastes, maar sy is ook baie eerlik en opreg.”

Matthews vertel die alleenwees kruip stadigaan nader vir Gertie soos die jare verbygaan sonder haar man, George. “Sy weet egter die lewe moet sy gang gaan. Sy is trots op haar kinders, aangetroudes en kleinkinders, maar sy staar haar nooit blind teen hul foute nie.”

Sy vertel die storielyn is baie na aan haar hart, omdat dit amper ʼn weerspieëling van haar werklike lewe is. “Nes ek, het Gertie dae van heimwee en verlange na George en die vol warm en liefdevolle atmosfeer van ouds. Hierdie karakter bring hoop, vrede en blymoedigheid in die lewens van haar kinders, kleinkinders en Arendsvleiers – en die gemak daarvan is dit is net ʼn hanetree van haar geliefdes se huise af.”

Celeste Matthews as Gertie Cupido in 'Arendsvlei'. (Foto: Verskaf)

Celeste Matthews as Gertie Cupido in ‘Arendsvlei’. (Foto: Verskaf)

Gertie het nie tyd vir doekies omdraai nie en dit is ook Celeste op haar beste, sê sy. “Hierdie karakter blaas nuwe lewe in die woord ‘ma’. Moeders soos Gertie word nie altyd maklik aanvaar of raakgesien vir die groot rol wat hulle in die familie speel nie, totdat dit te laat is. Gertie is uit op ʼn bewusmakingsveldtog vir ons families om hegte bande te versterk, vir kykers oud en jonk.”

Matthews vertel sy bars van trots oor haar enigste seun, Matthew Alfred John Wannenburgh, wat onlangs 14 onderskeidings behaal het in sy voorgraadse studie in politieke wetenskap. Matthews se man, die aktivis, skrywer en joernalis, Alfred John Wannenburgh, is in 2010 oorlede.

“Matthew het 50% van sy ma en 50% van sy pa gekry en handhaaf ʼn goeie balans tussen die akademiese en kunstige aspekte van sy lewe. Hy raas vreeslik met my omdat ek sy akademiese prestasies uitbasuin het op sosiale media,” lag sy.

Celeste Matthews as Gertie Cupido in 'Arendsvlei'. (Foto: Verskaf)

Celeste Matthews as Gertie Cupido in ‘Arendsvlei’. (Foto: Verskaf)

“Hy blink uit in skone kunste, geskiedenis en antieke kuns en kan baie goed skets. Hy is ʼn baie skugter mansmens, nes sy pa, en praat nie oor sy prestasies nie. Ek bly vir ewig trots op my lieflingkind!”

Sy voeg by dat dit heelwat verg om ʼn enkelma te wees. “Jy leer gou jou nuutgevonde passie vir die lewe ken en jy leer ook baie gou hoe om jou eie motorbande om te ruil en dat jy ekstra hard moet werk om jou kind as jou regterhand groot te maak.

“Matthew weet dat hy nie bakhand moet staan vir kos op sy bord, skoon lakens op sy bed en goeie punte in die skool nie. Dit waarvoor jy werk, sal jy die gesondste vrugte van dra. Ek is gelukkig nie die enigste een in hierdie bootjie nie – in elke gemeenskap is daar vele. Vroue is mos baanbrekers. Ek grap altyd en sê: ‘Sterstatus vir sterk vroue!’”, lag sy.

Om die eensaamheid hok te slaan het Matthews onlangs, net soos Gertie, ʼn profiel op ʼn aanlynafspraakwebwerf gemaak. “Gertie se kleindogter, Claudia (vertolk deur Ann Juries-May), hou die verrigtinge noukeurig dop en wanneer Gertie se moed haar begewe, praat Claudia haar moed in. Ek self probeer om nou meer aanlyn te gesels, aangesien dit vertroosting bring. My raad aan ander is om aan die veilige kant te bly, moenie mense te maklik vertrou nie en kies iemand wat jou goed ken, soos Gertie se Claudia, as jou vertroueling.”

Arendsvlei is elke Maandag, Dinsdag en Woensdag om 20:00 te sien op kykNET & Kie, DStv-kanaal 145.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.