Armand Aucamp is ʼn ‘droomman’ in #JouSondagDrama

Verlede Sondagaand het kykNET-kykers voor die kassie ingeskuif vir die rolprent Die Skandaal, met Amalia Uys, Viljé Maritz en Neil Sharim in die hoofrolle.

Vandeesweek word die #JouSondagDrama-reeks hervat met Droomman. Armand Aucamp en Charlene Brouwer vertolk die hoofrolle in dié fliek.

Liza (Charlene Brouwer), ʼn stereotiepe bibliotekaresse, sien Adam (Armand Aucamp), ʼn misterieuse vreemdeling, vir die eerste keer in die navorsingsafdeling van die biblioteek raak.

Daar is ʼn tasbare aantrekkingskrag tussen dié twee, maar weens diep onderliggende redes wil nie een die eerste stap waag nie.

Elke dag groei die verhouding, amper sonder woorde, sterker tussen Liza en Adam. Totdat Liza vasstel wat regtig in Adam se verlede en hede skuil.

Adrian Alper, David Konrad, Gerrit Schoonhoven en Roderick Jaftha is ook in dié rolprent te sien.

Sean Else het die draaiboek geskryf en André Velts het die regie behartig.

Die kanaal se oogmerk met dié rolprentprojek is om uiteenlopende skrywers van alle agtergronde en ervaringsvelde die geleentheid te gee om draaiboeke te skryf, hul bestaande verhoogtekste te verwerk vir dié formaat, of om oorspronklike draaiboeke te skryf.

Verskeie gesoute regisseurs asook regisseurs wat hul debuut maak, is die geleentheid gegun om hul slag met regie te wys. Kykers kan uitsien na uiteenlopende temas en genres. Die ernstiger dramas (Die dag is bros en Stille nag) word afgewissel met ligter romantiese komedies (Vat ʼn kans) en komedies (Die skandaal).

Daarby is die vervaardigers, Soné Combrinck en Deon Opperman, baie opgewonde oor die skryftalent van Candice Johannes (Draadloos) en Lize Vosloo (Desember).

Die rolverdeling is deurlopende ensemblewerk en sluit in Marius Weyers, Sandra Prinsloo, Franci Swanepoel, Simon Bruinders, Amalia Uys, Leandie du Randt Bosch, Shaleen Surtie-Richards en Armand Aucamp. Jonger talent soos dié van die tienjarige Dirk Jacobs en Ian Roelofs is ook gebruik.

Skakel Sondag om 20:00 in op kykNET, DStv-kanaal 144, vir #JouSondagDrama.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gemaskerde Sopbeen ·

Toe hierdie ou so paar sondae terug op die voorblad van die grootste Afrikaanse sondagkoerant in die wêreld uit die kas uit spring, kon jy hoor hoe Suid Afrika se cougars sy kaal kookboek in die vuurherd gooi!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.