Arno Greeff wys komediestaal in nuwe reeks

Arno Greeff. (Foto: Facebook)

Arno Greeff is nie ʼn man wat maklik stilsit nie – as hy nie as akteur en Fiësta-aanbieder voor die kamera doenig is nie, is hy agter sy rekenaar, besig om digitale bemarkingsinhoud te skep.

Greeff is tans te sien in Cas oppie kassie, Casper de Vries se nuwe sketskomedieprogram. Hy vertolk die rol van Brummer Nel in die skets getiteld “Die Laager”, wat op die werklikheidsprogram Survivor geskoei is.

“Brummer is ʼn voormalige regstudent wat opgeskop het om ʼn influencer te word. Hy het besef as hy op Instagram sonder ʼn hemp poseer en produkte verkoop kan hy geld maak,” vertel Greeff laggend oor sy karakter in dié reeks.

“Sy groot droom is egter om ʼn musikant te wees, so toe skryf hy in om deel te neem aan ‘Die Laager’ sodat hy sy werklike talente en ukelele-spel kan tentoonstel.”

As akteur was dit sy eerste kennismaking met improvisasie-komedie op so ʼn groot platform teenoor van Suid-Afrika se bekendste komediante. “Dit was vreesaanjaend, maar dit het gehelp dat mense soos Mila Guy en Schalk Bezuidenhout ook op die stel was. Ons almal ken mekaar redelik goed, so dit het die ervaring minder oorweldigend gemaak.”

Arno Greeff en Elani Dekker in Februarie by die première van ‘Vergeet my nie’. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Hy vertel die leiding wat hulle van De Vries ontvang het, het bygedra tot die vergemakliking van die uitdaging. “Ek is nog altyd baie lief vir komedie, ek kyk baie daarna en kyk ook dokumentêre daaroor. Dit was ʼn groot voorreg om teenoor iemand soos hy te speel.”

Greeff vertel hy moes as deel van sy rol gereeld liedjies uit die vuis opmaak. “Casper het ons regtig aangemoedig om nie bang te wees om nuwe goed te probeer nie.”

Hy sê dat hy deesdae meer gereeld na die sonlig smag en probeer om soveel moontlik vars lug te skep tydens die algehele afsonderingstydperk in Suid-Afrika. “Ek sou nou op die stel van ʼn nuwe fliek gewees het.”

Greeff was al te sien in die rolprent Vaselinetjie, waarin hy die rol van Texan vertolk het, en was ook onlangs op die silwerdoek te sien in Vergeet my nie.

Hy vertel hy dink al lank daaraan om ʼn aanlyn onderneming te begin en het die tyd wat hy nou op hande het aangewend om dié onderneming van stapel te stuur.

“Ek is stelselmatig besig om gewoond te raak aan die stadiger pas en die nuwe normaal te aanvaar. Voorheen het ek baie rondgery vir vergaderings en baie tyd op die pad en weg van die huis deurgebring. Ek probeer in ʼn roetine bly en staan steeds vroeg op, oefen en probeer produktief bly. Ek sit darem nie heeltemal stil nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.