Arnold Vosloo skitter in Afrikaanse aksiebelaaide misdaadkomedie

(Foto: KykNET)

Deur Martjie Roos

“Dit is heerlik om in weer in my moedertaal Afrikaans te werk. Dit is die taal waarin ek my die beste uitdruk en tuis voel,” sê die gesoute akteur Arnold Vosloo (61) wat die afgelope 33 jaar in Amerika woon en meesal in Hollywood werk.

Arnold is tans te sien as die onder-die-dekmantel agent Paul Schmidt in kykNET se nuwe misdaadkomedie Plan B. “Toe ek in 2018 in Suid-Afrika was om in die rolprent Griekwastad te speel, het ek my voorgeneem om ten minste een keer ʼn jaar in ʼn Afrikaanse produksie te speel,” sê hy. “Ek slyp al lankal my tande vir ʼn uitsoekrol soos Schmidt.”

Plan B is beslis nie jou alledaagse misdaadreeks nie. “Die reeks se styl herinner aan die Britse misdaadkomedie-reeks The Persuaders! van 1971 waarin Tony Curtis en Roger Moore gespeel het. Wel, dit is nou uiteraard sonder die bell-bottoms en speel in die huidige tyd af. Buiten al die aksie, liefde-intriges en spanning, is daar ook lekker humor en die reeks het ʼn vinnige pas. Toe die regisseur Jozua Malherbe my een dag op stel gevra het hoe ek Plan B sou beskryf, het ek geantwoord dit is soos ʼn yskoue glas sjampanje wat borrel,” sê Arnold.

Schmidt is ook nie ʼn geheime agent wat jy sommer agter elke bos uitskop nie. “Hy is ʼn interessante, driedimensionele karakter. Schmidt en sy jong vennoot, Ivan Malan (Tim Theron), het voorheen vir die Intelligensiediens gewerk, maar hul eie taakmag wat agter die skerms werk op die been gebring nadat die nuwe bewind oorgeneem het.”

Die vervaardigers het hom vrye teuels gegee om aan sy karakter te slyp. “Ek het besluit om Schmidt ʼn ‘sagte’ kant te gee. Hy is ʼn geharde oudspioen met ʼn voorliefde vir die fynere dinge: Hy hou van kuns en boeke, rangskik blomme, drink rooiwyn en dra nie groen en blou hemde nie maar onderbaadjies. Ek het vir my suster Nadia, wat in Alberton woon, vertel van my idee van Schmidt se spesifieke klerestyl en die onderbaadjies. Sy het my na ʼn winkel geneem wat gordyne in Alberton verkoop, waar ons die materiaal uitgesoek het, en ons het ʼn kleremaker gekry wat die flambojante onderbaadjies gemaak het.”

Arnold het ook Schmidt se motor gekies. “Ek en die medevervaardiger, Cobus van den Bergh, het een dag in die Kaap middagete gaan eet, en toe ons by die restaurant uitkom toe staan daar ʼn Citroën Pallas in die straat en ek het dadelik vir Cobus gesê: ‘Daar staan Schmidt se motor!’ Cobus versamel motors en tot my verbasing het hy gesê hy besit self ʼn Citroën Pallas en ons hoef toe nie verder na Schmidt se ryding te soek nie.”

Dit is altyd lekker wanneer jy as akteur ook insette oor jou karakter kan lewer, vertel hy. “Dit gaan maar alles oor wedersydse vertroue – dit is soos ʼn dans en jy moet nie op die ander een se tone trap nie.”

Plan B kom uit die stal van Cobus en Tim Theron se produksiemaatskappy Scene 23, dieselfde span wat verantwoordelik was vir die rolprent Griekwastad waarin Arnold die hoofrol vertolk het. Tertius Kapp, wat ook die teks van Griekwastad geskryf het, was weer verantwoordelik vir die draaiboek. Plan B is gegrond op die topverkoper-misdaadskrywer Deon Meyer se 1994-boek Wie met vuur speel en is deur Tertius in vyf episodes vir televisie verwerk. Jozua Malherbe hou weer die leisels as regisseur. “Omdat ek voorheen saam met die knap produksiespan op Griekwastad gewerk het, was dit ʼn droom om weer saam met hulle te werk.”

Die minireeks is in die Wes-Kaap verfilm en neem kykers na die wêreld van kunsliefhebbers, kunswaardeerders, vervalsers en swendelaars. Nadat ʼn aanvallige kunsliefhebber, Ragel (Amalia Uys), deur die glyjakkals Joshua Lansky (Armand Aucamp) uit haar erfporsie geswendel word, is sy radeloos, en haar pad lei dan na Schmidt en sy vennoot. Hulle is dan al drie agter een ding aan – die Vlammemeisie, ʼn oorspronklike skildery van Vemeer, wat meer as €30 miljoen (sowat R615 miljoen) werd is.

Toneelspeel bruis van jongs af in Arnold se are. Sy ouers was albei lede van ʼn amateur-toneelgeselskap en het dwarsoor die land met produksies getoer. “Ek wonder dikwels of ek ʼn akteur sou word as my ouers nie toneelgespeel het nie.” Sy pa het op ʼn stadium ʼn inryteater bestuur en Arnold het sommer daar al ʼn voorliefde vir rolprente, veral rolprente met Al Debbo, ontwikkel. “Toe ek in standerd 7 was, het ek vir my ma gesê ek kan nou lees en skryf, en ek wil nou uit die skool gaan om ʼn akteur te word.”

Nadat Arnold drama aan die destydse Technikon Pretoria studeer het, het hy sy eerste voetspore in die plaaslike bedryf in rolprente soos Boetie gaan border toe, Circles In a Forest en Die Meisie van Suid-Wes getrap. Hy het daarna die geleentheid gehad om met ʼn Barney Simon-toneelstuk Born in the RSA in Seattle, San Francisco en Chicago te toer. “Iemand het my raakgesien, ek het ʼn agent in die VSA gekry en soos hulle sê, die res is geskiedenis. Ek het nie met ʼn spesifieke doelwit Hollywood toe gegaan nie. Ek was soos hulle sê, ‘young, dumb and full of chum’. Gelukkig het ek gou werk gekry, want ek het nie ʼn plan B gehad nie. Ek het die regte aksent gehad en die regte look, en gelukkig kon ek die baddies speel,” skerts hy. “Ek het ook uit die staanspoor geleer om altyd goed voorbereid na ʼn oudisie of stel toe te gaan.”

(Foto: KykNET)

Arnold is besonders opgewonde oor die toekoms van ons plaaslike vermaaklikheidsbedryf. “Toe ek in 2020 by die bekendstelling van Griekwastad by kykNET se Silwerskermfees in Kampsbaai was, het ek een aand om my gekyk en besef almal praat Afrikaans – van die skrywers, fotograwe tot die tegnici. Ek het amper trane in my oë gekry en gedink hierdie is ʼn ‘ontploffing’ en ek wil deel wees daarvan. Dit is wonderlik dat daar nou soveel nuwe platforms soos Showmax en Netflix is waar Afrikaanse produksies wêreldwyd gestroom kan word. Hier is nou soveel nuwe geleenthede in Suid-Afrika en ek hoef nie noodwendig in die Amerika te woon om nuwe stories te vertel nie.”

Arnold gaan in Maart en April weer aan ʼn nuwe Amerikaanse rolprent werk, en Scene 23 is ook besig om ʼn nuwe reeks, Onsigbaar, te ontwikkel waarin hy eersdaags gaan speel.

Met tientalle trefferrolprente soos John Woo se Hard Target (1993) en regisseur en vervaardiger Ridley Scott se 1492: Conquest of Paradise (1992) op sy kerfstok waar hy saam met soveel bekende internasionale akteurs gewerk het, kan mens nie anders om te wonder wat die waardevolste les is wat hy in die bedryf geleer het nie. Sonder om twee keer te dink, antwoord hy: “Toe ek in 1992, kort ná my aankoms in Hollywood, die verhoog met Al Pacino in die verhoogproduksie Salomé gedeel het, het hy vir my gesê dit is oukei om die bedryf ernstig op te neem, maar nie jouself nie.”

Arnold het tydens die meer as drie dekades wat hy in Amerika gewoon het baie heimwee na Suid-Afrika gehad. “Ek het klein dingetjies soos die reuk van gras ná die reën en die mooi sonsondergange gemis. Net daardie lekkerte om die braaivleisvuurtjie aan te steek wanneer die son sak en ʼn bier oop te maak. Afrika is soos ʼn osmose, jy neem dit in jou vel op, en as jy weg is, hunker jy daarna.”

Ander bekende akteurs soos Dorette Potgieter (Hildegard), Rolanda Marais (Margot), André Jacobs (Zeev) en Wanda Banda (Kate) is ook in Plan B te sien.

  • Plan B word Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.
  • Maroela Media het onlangs saam met die sterre van Plan B op die blou tapyt by die KKNK gekuier. Kyk hier na die video:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.