Avbob laat poësie gedy met sy projek

Daniel Hugo, digter en programaanbieder van ‘Ek wou nog sê’ (Foto: Verskaf)

Poësie troos die diepste seer, bou brûe en skep geleenthede, want die digkuns “maak vi’ ons lig moet hierie woorde soes moet kerse”, soos Adam Small dit verwoord het.

Die Avbob Poësiekompetisie is in 2017 van stapel gestuur om te voldoen aan ʼn universele behoefte – die verwoording van die verlies van ʼn geliefde. Wanneer jy geliefdes aan die dood moet afstaan, ervaar mense ʼn groot, en dikwels blywende, leemte, sowel as die behoefte en gelyktydige onvermoë om die verlies te verwoord.

“Poësie bied mense juis die geleentheid om uiting aan hul emosies te gee,” meen Carl van der Riet, Avbob se bestuurshoof.

Avbob skep ʼn forum vir Suid-Afrikaanse digters om in enige van die 11 amptelike tale te dig, en dit op sigself maak die kompetisie enig in sy soort.

Meer as 10 000 gedigte is op Avbob se poësiewebwerf beskikbaar en vorm as’t ware ʼn bron van troos. Van der Riet voeg by dat Avbob hiermee ʼn aanlyn poësiebiblioteek wou skep om aan mense ‘n bron van hoop en vertroosting te gee wat genesing en berusting kan bied.

Marita Broschk, tweedepryswenner in die Afrikaanse kategorie van Avbob se derde poësiekompetisie, is digkuns “om woorde te gee aan die onverwoordbare waarby mense kan aanklank vind”.

Inskrywings vir die kompetisie neem jaarliks toe en tot dusver is meer as 80 000 inskrywings ontvang, wat dit die grootse poësiekompetisie ter wêreld maak.

Die kompetisiewenners se gedigte word jaarliks in ʼn bloemlesing, I Wish I’d Said…, saamgestel en deur Naledi, uitgegee. Alle gedigte word ook in Engels vertaal. Adriaan Bester, Avbob se hoofbestuurder van korporatiewe aangeleenthede, skryf dié kompetisie se sukses aan twee aspekte toe.

“Die vryheid om in jou moedertaal te kan dig, sowel as die toeganklikheid en blootstelling wat Engelse vertalings aan die onderskeie landstale bied, dra ongetwyfeld by tot die sukses van hierdie projek,” sê Bester.

Hy voeg by: “Die Avbob Poësiekompetisie bied ʼn geleentheid wat digters kan benut, en vir ons is dit ʼn platform om ons land se digters te kan vereer.”

Johann de Lange, hoofredakteur van Avbob se poësiekompetisie (Foto: Verskaf)

Volgens Johann de Lange, hoofredakteur van die kompetisie en bloemlesings, lê menslikheid in poësie opgesluit. “Deur lewende taal kan ons oor die dood praat, en kan kulture kennis, wysheid en geskiedenis gedeel word,” sê hy.

In die vierde seisoen van Ek wou nog sê…, ʼn televisiereeks wat deel is van Avbob se digkunsprojek, wat eersdaags op VIA uitgesaai word, word daar gekyk na geleenthede wat dié projek aan gesoute sowel as debuutdigters bied.

Daniel Hugo, digter en programaanbieder van Ek wou nog sê…, beskryf dié projek en die bloemlesings wat daaruit spruit as “ʼn monument vir al die tale van Suid-Afrika”.

In Ek wou nog sê… gesels hy met Afrikaanse digters oor hulle werk en uitkyk op die lewe. Sy gaste in die vierde seisoen sluit gevierde digters soos Antjie Krog, Diana Ferrus en Johan Myburg in, asook belowende debuutdigters soos Churchil Naudé en Lynthia Julius.

Dié wye spektrum digters het genoodsaak dat die episodes onderskeidelik by die Pretoria Buiteklub én by die Breytenbach-sentrum in Wellington opgeneem moes word.

Die vierde seisoen van Ek wou nog sê… bevat ook ʼn nuwe segment waar Nini Bennett en Joan Hambidge digbundels resenseer. Volgens BRAND et al, die vervaardigers en ook Avbob se reklameagentskap, het hierdie toevoeging juis ten doel om Avbob se visie vir die toeganklikheid van poësie te benadruk. Die doel is om alle digters, gepubliseerd of nie, aan te moedig om aan die kompetisie deel te neem.

Ek wou nog sê… begin Maandag 14 Desember om 19:30 op VIA, DStv-kanaal 147. Heruitsendings is op Sondae om 22:00.

Besoek Avbob se aanlyn poësieversameling by www.avbobpoetry.co.za en volg die projek op sosialemediaplatforms vir meer inligting oor vanjaar se kompetisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.