Avontuur, vonke in ‘Boer soek ’n vrou’

Boer Petré saam met Bu-Anda, Eloise en Lourize op ‘n binnebande in die Vaalrivier. Hy het gesorg vir hope pret. (Foto: Verskaf)

Die vyf hubare boere wat aan vanjaar se seisoen van die kykNET-reeks Boer soek ʼn vrou deelneem, was in verlede week se episode uiters geheimsinnig oor hul gevoelens vir die vroue op hul plase.

Dié manne verklap egter in vanaand (Donderdagaand) se episode veel meer oor hoe hulle voel. Al het nie een van hulle enige name genoem nie, het ʼn paar van hulle dit duidelik gemaak dat hulle koppe reeds in die rigting van ʼn sekere vrou, of twee, staan.

Boer Nelis, ʼn veeboer van die Vaal Marina in Gauteng, het vir Steffeni, Margot en Esmerélda bederf met ʼn uitstappie na die Vaal Riviera. Hulle het eers saam ontbyt geniet waarna hulle op die Vaalrivier gevaar het op ʼn vlot.

Die drie vroue het gespot met Nelis oor sy ylende haredos, terwyl hulle op die vlot ʼn paar rondes Jenga gespeel en oor koeitjies en kalfies gesels het.

“Nelis het beslis ʼn bietjie meer ontspan en lyk soos ʼn bok vir sports. Ek dink ʼn mens kan die lewe nogal saam met hom geniet,” het Steffeni, ʼn onderwyseres van Meyerton in Gauteng, gesê.

Steffeni, Margot, Nelis en Esmerélda speel Jenga op ‘n vlot op die Vaalrivier. (Foto: Verskaf)

“Ek kan nie nou al sê wie pas by hom nie, maar ons drie vroue is totaal teenoorgesteldes. Dis dus moeilik om te weet wat hy wil hê, maar ek kan beslis ʼn vonk tussen Nelis en een van die meisies sien,” het sy bygevoeg.

Margot, wat in Luxemburg werk en ʼn vakansie in Griekeland kortgeknip het om op Nelis se plaas te kuier, het gesê sy dink sy en Nelis het baie gemeen.

“Ons gesels lekker en of ons by mekaar pas sal net die tyd leer,” het sy gesê.

Steffeni het ook later gesê sy voel nog nie ʼn romantiese konneksie met Nelis nie. “Ek weet nie wat in die toekoms gaan gebeur nie, maar ek kan sien dat ons vir nou net vriende sal wees.”

Nelis het ook later gebieg dat hy redelik seker is in watter rigting sy kop hom stuur. “Ek het al vantevore op die nippertjie van plan verander, maar ek is reeds redelik seker ek weet hoe dinge gaan uitspeel,” het hy gesê.

Boer Johan het saam met Arina, Liandi en Chanzé pizzas gemaak. (Foto: Verskaf)

Boer Johan van Marquard in die Vrystaat het vir Liandi, Arina en Chanzé ʼn smakie van Italië gegee deur hulle na ʼn pizza-restaurant te neem waar hulle ook hulle eie pizzas gemaak het.

Die vroue het ook vertel hoe lekker hulle op die plaas gesokkie het die vorige aand. “Ek en hy het baie lekker gedans,” het Arina vertel.

“Ek dink ek en Johan is baie gemaklik met mekaar. Dalk is daar ʼn bietjie vlinders, maar ek is nog onseker,” het sy bygevoeg.

Op boer Willem se plaas naby Philippolis in die Vrystaat het Chantel reeds vroeg die oggend die ketel vir koffie gekook terwyl Nicolene, Sonja en Willem nog gesluimer het.

Hy het die drie vroue later bederf met ʼn koffieafspraak op die dorp, waarna hulle op ʼn tierkyk-uitstappie gegaan het – en dit het veral vir Nicolene beïndruk.

“Ek het bewaring studeer en die bos lê my baie na aan die hart. Dit is vir my lekker om te weet dat hy ook mal is oor die bos aangesien dit so ʼn groot rol in my eie lewe speel,” het sy gesê.

Volgens Willem kon hy sien dat Sonja die meeste teruggetrokke is en dat Chantel die situasie die beste hanteer.

“Tog kan ek nie nou al met sekerheid sê dat ek dink een van hulle gaan uiteindelik hier op die plaas kan aanpas nie,” het Willem gesê.

Petré en Bu-Anda in ligte luim op die Vaalrivier. (Foto: Verskaf)

Boer Petré van Vierfontein in die Vrystaat het vir Lourize, Eloise en Bu-Anda met ʼn uitstappie na die Vaalrivier getrakteer en hoewel ongure weer amper sy binneband-ry-planne in die wiele gery het, het dié viertal ʼn prettige dag op die water gehad.

“Ek voel asof ek see toe gaan, so opgewonde is ek. As kind was ek so opgewonde as ons see toe gegaan het, ek het al op Harrismith my Speedo aangetrek,” het Petré geskerts.

Hoewel die vroue gebibber het van die koue, het hy in sy egte grapjas-styl seker gemaak die vroue beland in die Vaalrivier se water.

“Sy sin vir humor hou dinge lekker lig,” het Lourize gesê. “Ek kan beslis sien hoe elkeen van ons drie vroue by hom kan pas.”

In KwaZulu-Natal het boer Tyson wat vir Chantelle, Alri en Annelle plaas toe genooi het, dié drie vroue bederf met ʼn wildrit op ʼn wildsplaas wat langs sy plaas geleë is.

Boer Tyson geniet middagete op ‘n wildsplaas saam met Chantel, Annelle en Alri. (Foto: Verskaf)

Hulle het eers ontbyt geniet voordat hulle die rit aangedurf het. Die vroue, wat ooglopend ʼn band met mekaar gesmee het, het saam gelag en gesels tydens die uitstappie.

“Ek dink dit maak vir Tyson die proses moeiliker met ons drie vroue wat vriendinne geraak het. Ek weet nie of ons onsself daardeur in die voet geskiet het nie,” het Alri gesê.

Daar is wel een vrou wat vir hom uitstaan, het Tyson gesê. Wie presies dit is, het hy nie verklap nie.

“Ek dink ek verkies dit dat hy sy kaarte so naby aan sy bors hou,” het Annelle gesê.

Boer soek ʼn vrou is Donderdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien en word ook op DStv CatchUp uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.