Babakoors in ‘Alles Malan 2’: Raad vir nuwe ouers

Nicole Fortuin as Lee-Anne in ‘Alles Malan’. (Foto: Verskaf)

Deur Ilza Roggeband

In die jongste seisoen van kykNET se Alles Malan is klein Nina gebore tot groot vreugde van al die Malans, maar vir die nuwe ouers, Lee-Anne (Nicole Fortuin) en Nico (Sean-Marco Vorster), is dit nog ’n oorweldigende ervaring.

Hulle moet egter nie alleen voel nie. Alle ouers is onseker, veral met die geboorte van ’n eerste kind.

Hier is ’n paar stukkies raad vir nuwe ouers én die mense wat hulle ondersteun.

  1. Die beste raad is om nie te veel na ander se raad te luister nie. Elke ma het haar eie manier om dinge te doen en hoewel raad soms welkom is, moet jy self jou voete vind. Doen wat vir julle werk.
  2. Slaap wanneer die baba slaap. Jy het ook rus nodig. As baba dus tussen voedings slaap, kyk of jy ook ’n uiltjie kan knip.
  3. Jou lewe het vir altyd verander. As daar dus nie nou dadelik tyd is om die skottelgoed te was of die bed op te maak nie, is dit nie die einde van die wêreld nie. Dinge sal mettertyd na normaal terugkeer.
  4. Moenie te veel druk op jouself plaas nie. Alle nuwe ma’s het sekere idees oor hoe hulle dink dinge gaan uitwerk. Babas het egter soms ander idees. Pas aan en vind die beste manier wat vir julle al twee werk.
  5. Moenie te vinnig nee sê vir hulp nie. As iemand byvoorbeeld aanbied om met jou baba te gaan stap sodat jy kan gaan stort of slaap inhaal, gebruik die kans. Dit maak nie van jou ’n slegte ma nie.
  6. Probeer in ’n roetine kom soos wanneer baba slaap, eet en bad. Babatjies leer vinnig en ’n roetine maak die lewe vir almal makliker.
  7. Wanneer baba begin soliede kos eet, kook jou eie en vries dit in bakkies. Dit maak die lewe baie makliker. Belê in ’n staafversapper om kos fyn te maak. Jy gaan dit ook later gebruik om smoothies te maak wat ’n baie goeie manier is om voedsame kos in klein lyfies te kry.
  8. Jou beste is goed genoeg.
  9. Jy mag nee sê. Nee as iemand byvoorbeeld wil kom kuier en dit pas jou nie. Nee as iemand jou baba wil vashou. Nee as iemand vir jou kind speelgoed of kos gee wat jy nie goedkeur nie.
  10. Daar is sekere middels wat ’n moet is in jou kas vir daardie dae wanneer baba knieserig is soos gliserien vir sproei in hulle monde, koorsstroop vir wanneer nodig en spesiale salf as hulle boudjies brand. Maak seker jy het dit altyd beskikbaar vir in geval.
  11. Maak vriende met ander ma’s. Dit is goed om ’n klankbord te hê vir daardie dae wanneer jy voel jy doen niks reg nie.
  12. Lees vir jou baba selfs al kan hulle nog nie verstaan nie.
  13. Moenie mylpale najaag nie. Sommige kinders gaan vinnig kruip en loop, ander nie. Elkeen gaan op sy of haar eie tyd mylpale bereik.
  14. Leer jou baba om self aan die slaap te raak. Speel sagte musiek, gee ’n sagte kombersie, praat sag wanneer jy hulle in die bed sit. Moenie dat die baba jou gesus nodig hê om altyd aan die slaap te raak nie.
  15. Vertrou jou instinkte. Elke ma was op haar dag vir die eerste keer ’n ma en by elke ma het Moeder Natuur ingeskop om te help.
  16. Beplan. Maak byvoorbeeld lysies van alles wat jy nodig het sodat jy nie die hele tyd weer moet winkel toe gaan nie. Beplan ook jou dae om dit vir jou én baba makliker te maak.
  17. Sit neer jou foon en gee so veel moontlik aandag aan jou baba. Die eerste paar jaar is die belangrikste wanneer dit by julle verhouding kom. Gebruik elke minuut wat jy kan.
  18. Gaan stap soveel julle kan. Die vars lug sal julle goed doen.
  19. Duur speelgoed is nie nodig nie. Babas speel op hulle lekkerste met ’n bakkie water en plastiese bekertjies.
  20. Geniet elke oomblik. Voor jy jou oë uitvee is hulle selfstandige klein mensies.

Alles Malan is op Dinsdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.