Bakseges, -flaters en hope vermaak met ‘Koekedoor 2’

Die beoordelaars: Mari-Louis Guy,  Tiaan Langenegger  en Elizabeth Cloete. Foto: Verskaf

Die beoordelaars: Mari-Louis Guy,
Tiaan Langenegger
en Elizabeth Cloete. Foto: Verskaf

Vergeet onmiddellik van jou dieet: Die werklikheids-bakkompetisie Koekedoor is binnekort terug op die kassie om kykers te vermaak én te inspireer om eie hand aan menger en meel te slaan.

Tien nuwe bakkers takel mekaar van 14 April op kykNET in dié tweede seisoen. Kykers kan uitsien na kunstige bakwerk uit die bakkers se kombuise – soos ʼn Bloemfonteinse beurtkragkoek, ’n biertenttert en kolwyntjies met vlerke.

Die nuwe reeks van 13 episodes daag amateurbakkers uit om selfs groter, hoër, mooier, meer gewaagd en verder buite hul gemaksone te bak as met die eerste reeks – soms met uitstekende en soms met rampspoedige resultate.

Koekedoor se tweede seisoen skop af met ’n episode van 90 minute op Donderdag 14 April om 20:00. Die verdere uur lange episodes in die daaropvolgende weke sal om 20:30 begin.

Bak-entoesiaste wat vir die eerste episode voor die kassie gaan inskuif, gaan tien interessante nuwe deelnemers saam met vyf verrassende gaste ontmoet. Dié gaste sluit onder andere in Riaan Cruywagen, Anneli van Rooyen, Rolene Strauss, Hemelbesem en Hannon.

“Die nuwe reeks se temas, vol verrassings van die begin tot die naelbyt-finale, is verbeeldingryke en uitstekende gesinsvermaak met nostalgiese familiegunstelinge as die goue draad,” sê Marguerite Albrecht, die opdraggewende vervaardiger van dié kykNET-reeks.

“Inspirasie word gevind op die modeplank, by ’n pretpark, toonlere en musieklesse, ’n kombuistee, onder die Kersboom, in die botterbak en in die ou gemeente-resepteboekies. Daar is gebak vir die manne én daar is ballerinafyn skeppings.”

Sy sê ook dat die drama wat voor die stoof afspeel en die deelnemers se hantering van gebak-dilemmas die reeks uiters boeiend maak. “Die bakkers voel gou soos ou bekendes; dis senutergend vir kykers wat hulle inleef in hul gunstelinge se bakseges én -flaters.”

Die tien nuwe koekedore kom van Saldanha, Sasolburg en Simonstad, van Bloemfontein en Bloubergstrand, van Pretoria en Port Elizabeth, George en Delmas. Agter die bakvoorskote is onder meer ’n argitek, ’n balju wat droom van tuinmaak en ’n jong koffiewinkeleienaar wat begin bak het vir haar eie troufonds.

Elizabeth Cloete, beoordelaar in die eerste reeks, sê die nuwe reeks gaan baie gewild wees. “Ons is ’n baknasie wat ewe opgewonde raak oor melkterte en die basaar se tradisionele gebaktafel, as oor nuwe bakmodes. Koekedoor 2 laat die bakkersbloed opnuut deur ons are bruis.”

Mari-Louis Guy, nog ʼn beoordelaar, sê die program stel die prettige, skeppende en karakterbouende aspekte van bak ten toon. “Kykers gaan verstom staan oor hoe die bakkers deur die reeks bakfiks raak en dan onder die kompetisiedruk gedy óf vou.”

Saam met die twee vroue is Tiaan Langenegger die derde beoordelaar.

Koekedoor word Donderdagaande van 14 April op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Die 90 minute loods-uitsending begin om 20:00 en die daaropvolgende episodes om 20:30.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Wilna Strydom ·

Al so opgewonde oor diè reeks Voel asof ek te groot is vir my vel Alles word op so uiters professionele manier gedoen Moet die span gelukwens

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.