Beáte Opperman oor rol as ‘Binnelanders’ se blouoog-feeks

Beáte Opperman as Nellie Bester in ‘Binnelanders’. (Foto: kykNET)

Met haar witblonde hare, ysige blou oë en bitsige uitlatings het Binnelanders se nuwe karakter, Nellie Bester, só onder kykers se velle ingeklim dat hulle haar dinge soos “die withaar-heks” en “geldwolf” op sosiale media toesnou.

In die regte lewe is Beáte Opperman, wat dié rol vertolk, ʼn saggeaarde huishen wat saam met haar man, die musikant John-Henry Opperman, voor die televisie lê en Netflix-reekse kyk “wanneer ander mense gaan stap en fietsry”.

“Ons is baie rustige mense,” vertel Opperman, wat in rolprente soos Die storie van Racheltjie de Beer (2019), Jonathan: The Movie (2016), Free State (2016), Verraaiers (2012) en Roepman (2011) verskyn het.

“Deesdae bestel ons maar ook ons kruideniersware aanlyn sodat die tannies wat Nellie so vies gemaak het, my nie in die winkel met hulle handsakke bydam nie,” skerts Opperman.

Beáte Opperman as Nellie Bester in ‘Binnelanders’. (Foto: kykNET)

Dié ongure karakter het dr. Elana Bester (vertolk deur Ilne Nienaber) en haar lewensmaat, dr. Steve Abrahams (vertolk deur Clint Brink), se lewens deurmekaar kom krap deur Elana se susterskinders, Ruan en Vicky, te probeer afrokkel.

Wat presies Nellie en haar man, George (vertolk deur Tiaan Rautenbach), in die mou voer, is nog nie duidelik nie, maar Opperman verklap dat Nellie se bitsigheid in die komende episodes gaan vererger.

Kykers krap veral kop oor hoekom Nellie en George, wat self drie seuns het, so gretig is om die kinders van Elana en Steve, wat op die punt was om die kinders aan te neem, weg te neem.

“In sepies word die bose vroulike karakters gewoonlik deur vroue in magsposisies uitgebeeld. Wat Nellie anders maak, is dat sy ʼn doodgewone, middelklas huisma is wat duidelike probleme in haar huwelik het. Sy is onvergenoegd oor die kaarte wat die lewe vir haar uitgedeel het en pak die skuld op ander mense vir haar tekortkominge,” sê Opperman.

Beáte Opperman as Nellie Bester in ‘Binnelanders’. (Foto: kykNET)

Dit is haar eerste sepierol en sy vertel sy was gaande daaroor om dié deel van die vermaaklikheidswêreld te leer ken.

“Die Binnelanders-stel is soos ʼn goed geoliede masjien en die mense voor en agter die skerms is van die beste in die bedryf. Die pas waarteen ʼn mens werk op ʼn sepiestel verskil heeltemal teenoor die pas op ʼn rolprentstel, maar ʼn mens raak dit gewoond.”

Sy vertel sy en Tiaan het heerlik saamgewerk. In die sepie het George ʼn drankprobleem en is onder Nellie se duim vasgevang.

“Ek en Tiaan het baie gelag oor die lelike goed wat Nellie moet kwytraak. Ons het ons soos kinders in ons rolle ingeleef. Akteurs is, myns insiens, nog almal kinders in hulle harte wat daarvan hou om op verbeeldingsvlugte te gaan.”

Beáte en John-Henry Opperman. (Foto: Instagram/Beáte Opperman)

Opperman is oorspronklik van Johannesburg en woon steeds daar saam met haar man. Sy het ʼn graad in drama aan die Universiteit van Pretoria verwerf en het daarna vir drie jaar die wêreld platgereis en op skepe gewerk.

Sy vertel dat sy, anders as Nellie, konflik ten alle koste vermy. “Ek hou nie van drama nie en as mense in ʼn vertrek baklei, stap ek uit. Ek is baie stiller en meer van ʼn introvert; presies omgekeerd van die gierige Nellie.”

Binnelanders is weeksaande om 19:30 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Anel

Hulle wil die kinders se trusfonds hê.