Beer Adriaanse nie een vir hiberneer

Beer Adriaanse. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Beer Adriaanse. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

ʼn Klokkie behoort teen dié tyd vir enige Afrikaanse vermaakaanhanger te lui wanneer die naam Beer Adriaanse in ʼn gesprek genoem word.

Nie net het hy vir bykans tien jaar die tromme in die gewilde rockgroep Zinkplaat geslaan nie, maar het hy ook met die skryf van die komediereeks Buurtwag die pas aangegee vir vars komediereekse soos Hotel en Phil 101. Hy is ook eersdaags te sien as Lukas in die splinternuwe Johan Cronjé-fliek Wonderlus.

Sy naam is eintlik Jacobus Petrus Adriaanse. “Al die dissipels in ʼn ry,” grinnik hy. “Dit is my oupa se name.”

Hy vertel dat hy die bynaam Beer as hoërskoolseun in die seunskoshuis van Paul Roos Gimnasium op Stellenbosch by sy maats gekry het, omdat hy glo soos ʼn beer gelyk het. Hy lag. “Toe die onderwysers my ook Beer begin noem het, het ek geweet die koeël is deur die kerk.”

Hy bekyk die spyskaart noukeurig. By hierdie kleurvolle restaurant in Linden is hy op soek na iets vegetaries. Hy eet nie eintlik vleis nie, maar bieg dat hy tog so nou en dan kroek en ʼn stukkie salm eet.

“Ek was vir ʼn lang ruk ʼn streng vegetariër en hoewel ek deesdae merendeels net groente eet, eet ek graag so nou en dan ʼn stuk salm. Rou salm is my gunsteling. Dalk is dit ook hoekom my naam Beer is,” skerts hy.

Hy beskou homself soos die vriendelike beer Baloo in Disney se The Jungle Book. “Hy loop net rond en krap homself teen bome en hy hou ook van swem en eet.” Hy lag. “En hy is ook harig!”

Beer is mal oor die buitelewe en is deel van ʼn stapgroep wat gereeld in die Kaapse berge gaan stap. “Ons is Die Tafelbergbelastingbetalersunie. Enigiemand is welkom om saam met ons te stap!”

Hy is lief vir die Kaap, vertel hy. “Ek is in 1985 in Goodwood gebore. My pa was in die politiek en ons het gereeld rondgereis. Ons het ons uiteindelik in Durbanville gevestig en ek is vandaar koshuis toe.”

Daarna het hy vir ʼn joernalistiekgraad aan die Universiteit Stellenbosch ingeskryf en later ook sy meestersgraad in rolprentkuns voltooi.

“Ek het van die eerste kwartaal van my joernalistiekstudies af geweet ek gaan nooit ʼn joernalis wees nie,” vertel hy. “Ek het egter ʼn beurs gehad om by Die Volksblad te gaan werk, maar ek het myself daar uit gekoop met ʼn paar ander werkies wat ek gedoen het.”

Om joernalis te wees, is net nie vir hom nie. “Ek kan nie die foon optel en mense bel wat pas ʼn traumatiese ervaring deurgemaak het nie. Ek is nie goed daarmee om inligting uit mense te kry nie. Die radio- en dokumentêre aspekte van die studies het my baie gehelp, maar ek wou nog altyd net geskryf het.”

Beer is tans een van die vier skrywers wat verantwoordelik is vir die mokumentêre kykNET-komediereeks Hotel en vertolk ook die rol van Thomas. Die derde seisoen van dié uiters gewilde reeks is tans in die pyplyn.

“Die berg wat ek wil klim tot die einde toe is om regisseur te wees,” sê hy. “Ek het vir vier jaar aan Buurtwag geskryf en het daarna vir ʼn maand en ʼn half die regie behartig. Dít was vir my ʼn tydperk waar al my vure op dieselfde tyd gebrand het. Dit is verslawend. Jy staan in die oggend op met daai een ding in jou kop en jy gaan slaap met daai een ding in jou kop, maar dit is die mees belonende werk wat ek gedoen het.”

Dokumentêre reekse is ook in sy visier en hy vertel dat hy, net soos sy pa, verslaaf is aan inligting. “Ek verdwyn vir ure op Wikipedia of in ʼn geskiedenisboek. Ek het ook ʼn baie wye veld van belangstelling. Toe my pa jonk was en daar was niks meer in die huis om te lees nie, het hy die telefoonboek begin deurlees. Ek kom wel agter ek kan nie meer so baie inligting onthou nie.”

Hy lag, maar raak dan tog ernstig oor die saak. “Ek dink mense is oor die algemeen meer aandagafleibaar as vroeër jare. Ons generasie fokus ook meer op verskillende dinge as net op een ding. Elke tweede ou is ʼn fotograaf of ʼn internetvideosensasie, en daarom moet jy deesdae jouself en jou vaardighede as kunstenaar soveel meer uitbrei. Ek is gelukkig in die sin dat ek by skryf, toneelspel en agter die kameras bedrywig is, want dit gee my die geleentheid om werklik alles te geniet wat ek doen.”

Sy ouerhuis is sy veilige hawe en hy sê sy ma, die skrywer Wilna Adriaanse, is een van sy eerste proeflesers wanneer dit by sy draaiboeke kom. “Hulle het ons geleer dat ons nie bang moet wees om na hulle toe te gaan met enigiets wat ons pla nie. Omdat ek en my twee broers in die koshuis was, het ons nie deur die normale groeipyne met ons ouers gegaan nie en was dit vir ons lekker wanneer ons bymekaar is.”

Hy is mal oor die kykNET Silwerskermfees wat vanjaar weer in Kampsbaai aangebied word. “Ek is mal oor fliek en fliek gereeld in ʼn teater. Flieks is soos bemesting vir die verbeelding. Behalwe dat mense se flieketiket by die deur uit is. My vriend Albert Pretorius gaan fliek net op Maandagoggende om 09:00, want dan is daar niemand anders nie,” lag hy.

Beer het sy liefde vir flieks en stories van sy ma gekry. “Sy verstaan stories baie beter as ek. Sy verstaan struktuur en dit is baie keer waar my eerste paar pogings plat val.”

Hy preek nie vir kinders nie, maar hy benadruk dat om te oorleef in die vermaakbedryf nie in enige ou se broek sit nie. “As gemak en sekuriteit vir jou belangrik is, moet jy versigtig wees vir dié bedryf. Daar is tye wanneer ʼn mens nie werk nie. Aan die begin van verlede jaar was ek vir die eerste keer as volwassene regtig diep in die moeilikheid. Ek het van ʼn tien dae lange staptog af gekom en gehoor die projek waaraan ek myself vir ses maande verbind het, het deur die mat geval. Skielik het ses maande oop voor my gelê.”

Daarom glo hy nederigheid is ʼn eienskap waaroor jy altyd moet beskik in die vermaakbedryf. “Een dag is jy die regisseur van ʼn reeks en met die volgende projek is jy die ou wat die kamerasak dra. En dit is ʼn goeie ding, want jy leer iets nuuts uit elke ervaring en leer nuwe mense ken op elke projek, mense met wie jy op toekomstige projekte ʼn pad gaan stap.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.