Bekende blondekop verloof

Braam Weyers en Katinka Oosthuizen. (Foto: Verskaf)

Braam Weyers en Katinka Oosthuizen. (Foto: Verskaf)

Katinka Oosthuizen, oftewel Katinka die Kat soos sy onder haar duisende aanhangers bekend staan, is verloof.

Oosthuizen (21) het eers as Instagram-persoonlikheid en sosialemediafoendi bekend geraak voordat sy verlede jaar onder die top-5 van die gewilde werklikheidsreeks Survivor geëindig het. Sy is ook tans die aanbieder van die musiekprogram, Klink soos naweek, op VIA.

Oosthuizen het onlangs ʼn enkelsnit saam met Die Flooze, getiteld “Die bottleblonde bom”, uitgereik. Sy het ook tans bykans 89 000 volgelinge op Instagram en 45 000 volgelinge op Facebook.

Haar verloofde, Braam Weyers (21), het Vrydag by haar ouerhuis op Mosselbaai voor hul nabye vriende en familie die jawoord gevra.

“Ons het nie begin uitgaan met die idee om nié te trou nie, so ek het verwag dat hy my sal vra omdat ons vantevore daaroor gepraat het. Ek het net nie geweet wanneer dit gaan gebeur nie,” sê ʼn borrelende Oosthuizen aan Maroela Media.

Braam Weyers en Katinka Oosthuizen. (Foto: Verskaf)

Braam Weyers en Katinka Oosthuizen. (Foto: Verskaf)

“Ek was vir drie dae in Johannesburg om Klink soos naweek te skiet en toe ek terug is, het Braam gesê hy gaan gholf speel. Dit was vir my nogal vreemd, maar ek het nie veel daarvan gedink nie. My ma het toe vir my gesê sy gaan by my kom koffie drink,” vertel sy oor dié sprokiesdag.

Toe haar ma, Arnelda, voorstel dat hulle teruggaan na hul huis en dat Oosthuizen iets moois aantrek, het sy snuf in die neus begin kry. “Braam se WhatsApp-boodskappe oor die gholfspelery het my baie deurmekaar gemaak!”

Sy vertel toe sy by haar ouerhuis aankom, het sy gesien haar broer, Sharlo, is besig om foto’s te neem terwyl Weyers saam met sy ouers en haar peetouers in die tuin gewag het. “Dit was regtig ongelooflik spesiaal.”

Braam op sy knie om die ja-woord te vra. (Foto: Verskaf)

Braam op sy knie om die ja-woord te vra. (Foto: Verskaf)

Oosthuizen en Weyers, wat mekaar in 2018 ontmoet het, gesels al ʼn hele ruk oor verloofringe. Volgens Oosthuizen wou sy nie ʼn diamantring hê nie. “Dit is heeltemal te duur en overrated.”

Daarom het Weyers vir haar ʼn moissanite-steen gekies en goud van haar ma en ouma se ringe laat saamsmelt vir die pant. Ring Artisan op Stellenbosch het die ring gemaak.

Weyers wou tradisioneel ouers vra en het eers na sy ouers op Uitenhage gery om hulle te vertel dat hy vir Oosthuizen gaan vra om te trou. “Ek het toe daarna vir Katinka se pa, Francois, en haar ma gevra of ons kan gaan ontbyt eet by die hawe op Mosselbaai. Ek het vir hulle gevra of ek met haar kan trou en alles deurgepraat. Ek is mal oor haar ouers,” vertel hy oor sy aanstaande skoonouers.

Oosthuizen en Weyers bestuur saam haar maatskappy, Katinka Productions, wat troufoto’s en -video’s behartig en was onder meer verantwoordelik vir die Binnelanders-aktrise, Simoné Nortmann, se trouvideo.

Hulle beplan om hul eie troue in Mei volgende jaar te hou. “Omdat ons soveel troues bywoon, weet ons al wat ons wil hê en wat nie. Ons wil beslis ʼn klein, intieme troue hê, met ʼn boheemse tema. “Braam is baie rustig oor al die beplanning, solank hy insette kan lewer oor die nagereg,” lag Oosthuizen.

Katinka se verloofring deur Ring Artisan. (Foto: Verskaf)

Katinka se verloofring deur Ring Artisan. (Foto: Verskaf)

“Ek sien uit na die feit dat ons God kan eer in ons huwelik. Ons het van die begin af geweet ons wil dit laat werk en ons besef dat om getroud te wees óók werk is. Ek sal ook graag ander jong mense wil aanraak, wat dalk voel hulle is te jonk om te trou. Ek voel as jy weet, dan weet jy.”

Weyers voeg by dat hy baie uitsien na die wittebrood. “En natuurlik na al die koppies koffie wat ek in die toekoms vir haar kan maak.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Blommie ·

Baie geluk al ken ek julle nie. Begin julle huwelik in GOD en stap altyd julle pad met HOM. Dan sal niks verkeerd loop en julle in die skei hof beland nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.