Bekende Carte Blanche-aanbieder sê vaarwel

Devi Sankaree Govender (Foto verskaf)

Ná 18 jaar van agter skelms aanhardloop en bel, haar vinger op die pols hou van sake en die waarheid vertel oor wat in Suid-Afrika aangaan, gaan die bekende Carte Blanche-aanbieder Devi Sankaree Govender die program verlaat.

Volgens ʼn verklaring van M-Net sal Govender vir die laaste keer op Sondag 26 Januarie op Carte Blanche te sien wees. Haar bydrae tot die program sal ook tydens dié uitsending gevier word.

“Om op Carte Blanche te werk was een van die grootste voorregte van my lewe,” sê Govender. “Dit het my nader aan ons mense se harte, koppe en huise geneem. Dit het my toegelaat om moeilike vrae op my eie, reguit manier te vra en ek het met die beste mense in die bedryf gewerk.

“My beste herinnering aan die program sal altyd wees om die misdadigers op te spoor. Dit is wat ek die beste doen. Maar ek het dit ook geniet om onderhoude met bekendes soos Lionel Richie te voer,” sê sy.

Jan du Plessis, direkteur van M-Net-kanale, het sy dankbaarheid uitgespreek oor wat Govender vir Carte Blanche beteken het. “Soos hierdie hoofstuk van Devi se lewensreis tot ʼn einde kom, wil ons dankie sê vir die ywer en passie wat sy na Carte Blanche, ons kanaal en die M-Net‑familie gebring het,” het hy gesê. “Devi het ʼn onmeetbare impak op ons samelewing gemaak. Ons sal haar mis op ons ikoniese Sondagaand-program, maar ons wens haar die beste toe vir die toekoms.”

Govender het in 2002 vir die eerste keer op Carte Blanche verskyn. Sy het twee kinders.

Sy sê sy het geweet dit is haar tyd om aan te beweeg toe haar oudste dogter ʼn beurs kry om vanjaar in Amerika te gaan gholf speel. “Ek het instinktief geweet dit is tyd om nog ʼn item van my emmerskoplysie af te merk. Dit was ʼn baie moeilike besluit om aan te beweeg, maar ek onthou altyd wat Trevor Noah vir my gesê het tydens ʼn onderhoud: ‘Sodra jy dink jy is op die beste plek waar jy kan wees, moet jy ʼn nuwe plek kry waar jy aan die onderkant is.’ Ek sien uit na my toekoms, maar ek sal nooit my verlede vergeet nie.”

Inligting oor wie Govender sal vervang, is nog nie bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

B ·

Ek wonder hoekom het CB nooit die bewerings ondersoek wat in Graeme Joffe se boek ‘Sport, Greed and Betrayal’ teenoor van MultiChoice en Supersport se werknemers gemaak word.

pan ·

Ek onthou toe ek nog dstv gehad het het ek nogal baie gehou van die vrou en wat my altyd sal byval is die professionele manier wat sy altyd die bedrieërs en skelms vas gevat het,maar ek gun enigeen wat uit hierdie korrupte sinkende land kan uitkom net die beste toe.

Ronel ·

Ag neeeeee!!!! en vd BESTES op TV! Haar uiters professionele manier van onderhoude en ‘no nonsense attitude’ met al die massas bedrieers gaan erg gemis word.

CK ·

Dis nou ‘n gatslag. Sal haar verseker mis. Sterkte met jou pad voortentoe

Anni ·

Sy het ni nonsens gevat van geen aard ni. Voorspoed vir jou en gesin.

Cherokee ·

Ken haar nie maar dit lyk asof daar weersprekende menings is.

Louis ·

Dankie vir die sake in S.A met volle hart aanspreek en oor die wereld versprei. Mag die aftrede van die skerms nie jou hartklop en gevoel oor SA stil maak nie, want almal kan bydra tot verbetering van SA met of sonder ‘n werk beroep.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.