Bekende grapjas, aktrise oor die kuns van komedie

Simoné Pretorius vertolk die rol van Jony in ‘Hotel’. (Foto: Facebook/Simoné Pretorius)

Mense huil oor dieselfde goed, maar mense lag nie vir dieselfde goed nie en daarom is dit ʼn fynere kuns om grappe te skryf en oor te vertel.

Só sê die aktrise en skrywer Simoné Pretorius, bekend vir haar rol as Jony in die in kykNET-komediereeks Hotel. Die vyfde en finale seisoen van dié reeks sien volgende jaar die lig.

Drama en komedie is egter soos twee eggenote, verduidelik Pretorius. “Die twee is baie verskillend, maar het mekaar nodig. Al doen ek ʼn suiwer komedie, sal ek altyd die swaarheid daarin soek. ʼn Gehoor het ook weer komedie nodig om hulle op hulle gemak te stel om swaarder dinge te aanvaar. Daar is groot spanwerk tussen drama en komedie.”

Pretorius, wat eers as 7de Laan-aktrise naam gemaak het en later in Afrikaanse gehore se harte gekruip het in die romantiese komedie Vir die voëls, sê sy is baie lief vir komedie en sal dit altyd kies wanneer daar ʼn keuse tussen komedie en drama is.

“Die lewe is swaar genoeg en die mens is ingestel op die swaar dinge. Komedie is ʼn fantastiese vangnet en skep verligting. Dit is soos ʼn wapenuitrusting om jou teen die lewe se houe te beskerm.”

Volgens Pretorius is die voorbereiding as aktrise vir ʼn komedie net so intensief soos vir ʼn drama, maar jy gebruik ʼn ander stel vaardighede om voor te berei en om die komedie weer te gee.

Simoné Pretorius en haar dogtertjie, Harper. (Foto: Facebook/Simoné Pretorius)

“Ek glo egter ook ʼn mens het as akteur intuïsie en ʼn inherente aanvoeling vir komedie. Jy kan dit miskien aanleer, maar dit is makliker om die kuns van drama aan te leer as om die kuns van komedie aan te leer. As ek ʼn rolverdeling vir ʼn komedie sou moes doen, sou ek eerder iemand in ʼn rol sit met ʼn aanvoeling vir drama én komedie, want nie almal kan albei doen nie.”

Daar is ʼn hele ritme aan komedie wat jy in ag moet neem. “Jy moet dit amper kan doen sonder om dit te doen. Die situasie is snaaks, maar jy moet nie noodwendig snaaks wees nie. Jy moet beheer van die toneel laat gaan en dit amper net met jou laat gebeur. Dis wanneer mense te hard probeer dat hulle dikwels nie so snaaks oorkom soos hulle gepoog het nie,” voeg sy by.

Pretorius, wat in Mei vanjaar die ma van ’n skattige dogtertjie, Harper, geword het, spits haar tans toe op skryfwerk vir die rolprent- en televisiebedryf.

Sy is besig om aan ʼn 12-episode‑komediereeks getiteld Los asseblief ʼn boodskap saam met Louis Roux en Claudia van Zyl te werk. Dit is geskoei op die gelyknamige teaterstuk  wat in 2017 vir die eerste keer op die planke te sien was.

Pretorius skryf ook aan ʼn draaiboek wat haar ma, Tinkie Nortmann, se lewensverhaal as weermaglid vertel en sy is ook besig om ʼn baie bekende roman vir die grootskerm te verwerk.

“Dit is baie moeilik om komedie te skryf vir die Afrikaanse gehoor want mense lag vir verskillende goed en mense kan ook aanstoot neem oor sekere onderwerpe; so daar is ʼn baie fyn lyn wanneer ʼn mens komedie vir die Afrikaanse gehoor skryf.”

Kobus Galloway is die meesterbrein agter die Idees vol Vrees-handelsmerk. (Foto: Facebook/Idees vol Vrees deur Kobus Galloway)

Kobus Galloway, die komediant en spotprentkunstenaar, beaam dit en vergelyk die skryf van ʼn grap met ʼn wiskundesom.

“Daar is sekere stappe wat jy moet doen om by die regte antwoord van ʼn wiskundesom uit te kom. As jy een van die stappe uitlaat of verkeerd doen, gaan jy die verkeerde resultaat kry,” verduidelik Galloway, bekend as kunstenaar van die Idees vol Vrees-grappe.

“Deesdae glo elkeen hy is ʼn grapmaker of komediant, veral met sosiale media wat vir soveel mense ʼn platform gee, maar dit sit nie in elke ou se broek om snaaks te wees nie want dit is ʼn fyn kuns om ʼn grap op die regte manier op te stel en te vertel.”

Galloway benadruk dat oorspronklikheid een van die belangrikste elemente is wanneer jy ʼn grap skryf. “As jy op ʼn verhoog stap en jy wil ʼn grappie oor beurtkrag vertel, moet jy seker maak daar is nie soortgelyke grappe daar buite nie.”

Hy vertel hy het in 2009 met Skerpskerts-komedie op die verhoog begin om sy introversie af te leer. Later het hy begin grappies teken en sy Idees vol Vrees-handelsmerk is tans een van die bekendste Afrikaanse handelsmerke in die land.

“Dit is makliker om aanlyn of oor ʼn video iets te skep as vir die verhoog, want party grappies lees ook net makliker as wat jy dit oorvertel. Partykeer is daar woordspeling of dinge word anders gestel, afhangend van wat die grap is. Konteks is natuurlik ook baie belangrik.”

Hy is tans die hoofskrywer van ʼn komediereeks van 13 episodes wat ook binnekort op kykNET begin draai. Die reeks is getiteld Ses van die Besters en handel oor die alledaagse misverstande tussen gesinslede.

“Die hooffokus van die storie is nie om Afrikaners platvloers te laat voorkom nie en die humor is skoon met ʼn hele rits one liners, soos Idees vol Vrees ook maar is. Dit is die eerste keer dat ek vir televisie skryf. Dit is harde werk, maar ek sien baie daarna uit om die eindproduk te sien.”

Volgens Galloway is dit belangrik dat kykers met die humor kan vereenselwig. “Mense moet hulself in die komedie kan sien,” sê hy.

  • Ter viering van Maroela Media se tiende verjaardag in 2021 is ons op soek na die Grootste Afrikaanse Grap van Alle Tye. Boonop staan jy die kans om een van twee vakansies na Mauritiuste wen met die komplimente van World Leisure Holidays*! Kom lees meer oor dié kompetisie hier op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pyl ·

Love die vrou. Altyd so optimisties en opreg. Goeie energie vir my siel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.