Bekende komediant sal nuwe SA speletjiesprogram aanbied

Steve Harvey op die stel van die Amerikaanse weergawe van “Family Feud”. (Foto: Mark Hill/ANA)

Die Amerikaanse komediant Steve Harvey is tans in Suid-Afrika vir die bekendstelling van Family Feud, ʼn uiters gewilde internasionale televisie-speletjieprogram.

Die bekroonde vermaakster, sakeman en filantroop het vandeesweek in Suid-Afrika aangekom om die program hier en in Ghana bekend te stel.

Harvey is al sedert 2010 die aanbieder van die Amerikaanse weergawe van die program wat baie suksesvol is. Hy sal nou ook die aanbieder van die plaaslike program wees wat in Suid-Afrika verfilm word en sal ʼn paar maande in SA bly tydens die verfilming.

“Om Family Feud na Afrika te bring, is al lankal ʼn droom van my,” het Harvey Maandag gesê. “Ek glo Family Feud sal ʼn huishoudelike naam in Suid-Afrikaanse en Ghanese huishoudings word. En hierdie is net die begin vir Afrika. Ek verwag dat hierdie program aanleiding sal gee tot verskeie media- en sakeprojekte oral op die kontinent.”

Die speletjiesprogram behels twee families wat teen mekaar meeding om die gewildste reaksies te noem wat verkry is tydens ʼn opname en sodoende kontant en pryse te wen. Family Feud is al sedert 1976 op die kassie en is al in 50 verskillende lande aangepas en uitgesaai.

Family Feud Africa is egter die eerste internasionale weergawe van die program wat deur Harvey aangebied word.

Die verfilming van die plaaslike weergawe van Family Feud sal in die laaste kwartaal van vanjaar in Johannesburg begin, en sal in die tweede helfte van 2020 uitgesaai word. Dit word vervaardig deur Rapid Blue, wat deel is van BBC Studios se internasionale familie van produksiemaatskappye.

Rapid Blue is bekend vir sy produksie van talle plaaslike weergawes van internasionale programme, insluitend Dancing with Stars, X Factor, SA’s Got Talent, Shark Tank, Come Dine With Me, Project Runway en First Dates.

Besonderhede oor hoe die publiek kan inskryf om aan die program deel te neem, sal binnekort bekendgemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Susan ·

Ek het al probeer om na hierdie program te kyk maar daars nie veel orde nie – die aanhoudende harde geskree van die deelnemers is onuithoudbaar. En dan het Steve ook gereeld “onder die belt” kommentaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.