Bekendes laat val soeklig op Oekraïne tydens SAG-toekennings

Michael Keaton het die toekenning vir beste akteur in ‘n beperkte reeks gewen. (Foto: (Foto: @sagawards/Instagram) 

Talle bekendes het gisteraand tydens die 28ste SAG-toekennings, waarvoor Hollywood se toneelvakbond stem, hul ondersteuning aan Oekraïne en sy president en voormalige akteur, Wolodimir Zelenski, getoon.

Zelenski, ʼn regsgeleerde, het sy loopbaan in die media- en rolprentbedryf as akteur, draaiboekskrywer, televisieaanbieder en rolprentvervaardiger begin en verskeie akteurs het tydens hul aanvaardingstoesprake, wat vanjaar weer in lewende lywe aangebied is, van die geleentheid gebruik gemaak om die soeklig op die huidige krisis in Oekraïne te laat val.

Televisie

Die donker-komedie Succession het die prys vir die beste drama-ensemble gewen en Brian Cox, wat die patriarg en media-magnaat in dié gewilde reeks oor ʼn disfunksionele familie speel, het Zelenski as ʼn “wonderlike komedie‑akteur” beskryf wat tans sterk moet staan “in die aaklige, aaklige realiteit waarin sy land hom bevind”.

Die bekende Amerikaanse akteur Michael Keaton, wat die beste akteur in ’n beperkte reeks gewen het vir sy rol in die stroomdiens Hulu se Dopesick, het Zelenski as “’n mede-akteur” geprys wat “vanaand krediet verdien vir die stryd wat hy tans voer”.

Die donker-komedie “Succession” het die prys vir die beste drama-ensemble gewen. (Foto: ‘n Skermgreep uit die video)

Dopesick fokus op Amerika se stryd met opioïedverslawing en die individue en gesinne wat daardeur geraak is. ʼn Tranerige Keaton het ook sy oorwinning aan sy neef Michael opgedra, wat een van meer as ’n halfmiljoen Amerikaners is wat gesterf het weens ’n opioïed‑oordosis.

Netflix se Squid Game-akteurs Lee Jung-jae en Jung Ho-yeon het sigbaar geskok gelyk om die toekenning vir beste akteur en aktrise in ’n drama te wen. Die Suid-Koreaanse rillerreeks het onlangs Netflix se gewildste reeks geword, met meer as 130 miljoen kykers wat daarna gekyk het in die eerste 28 dae nadat dit uitgereik is.

Apple TV+ se komediereeks Ted Lasso het ook vir sy hoofakteur, Jason Sudeikis, die toekenning vir beste komediereeks verseker.

Die rooikop-aktrise Jessica Chastain het beste aktrise gewen vir “The Eyes of Tammy Faye”. (Foto: (Foto: @sagawards/Instagram)

Films

Die indie-film CODA, wat die verhaal van ’n sukkelende dowe gesin vertel, het die topprys vir ʼn film gewen. Die fliek vertel die storie van CODA-hoërskooltiener Ruby wat haar musikale ambisies en terselfdertyd haar gesin se afhanklikheid om namens hulle met die “horende wêreld” te kommunikeer, te balanseer. Die titel verwys na die akroniem vir die kind van dowe ouers (child of deaf adult).

“Ons dowe akteurs het ’n lang pad gestap,” het ’n sigbaar geskokte Marlee Matlin, ’n dowe voormalige Oscar-wenner wat Ruby se ma vertolk, gesê terwyl sy en haar medesterre die beeldjie vir die beste rolverdeling in ’n rolprent aanvaar het.

“Dit bevestig die feit dat ons dowe akteurs net soos enigiemand anders kan werk,” het Matlin bygevoeg, voordat hy die sterbelaaide gehoor die gebareteken vir “ek is lief vir jou” geleer het.

Troy Kotsur, wat Ruby se pa speel, het ook met die beeldjie vir beste ondersteunende akteur weggestap. Hy het in sy toespraak die CODA-filmmakers bedank dat hulle “in ons dowe akteurs geglo het en ons as outentieke akteurs bestempel het wat toevallig doof is”.

Will Smith, wat die gunsteling is om volgende maand sy eerste Oscar te wen, het met die toekenning vir beste akteur vir King Richard weggestap. Die 53-jarige Smith speel Venus en Serena William se pa in dié film wat ʼn blik op die tennisspelers se opdraande stryd na sukses gee.

Sterre van die film “Coda” lewer hul aanvaardingstoespraak in gebaretaal. (Foto: ‘n Skermgreep uit die video)

Smith het dié oomblik as een van die trotses van sy loopbaan beskryf juis omdat hy langs Venus tydens die toekenningsgeleentheid kon sit. Hy het in sy toespraak die tennissterre se pa geprys vir sy “krag van geloof wat grens aan waansin en soms oor die grens kantel – wat absoluut nodig is om iets onmoontlik moontlik te maak”.

Die rooikop-aktrise Jessica Chastain het beste aktrise gewen vir The Eyes of Tammy Faye, waarin sy die rol van eksentriese TV-evangelis Tammy Faye, wat destyds met medegelowiges gebots het oor haar aanvaarding van die LGBTQ-gemeenskap op die hoogtepunt van die Vigs-epidemie, vertolk het.

Nuweling Ariana DeBose het haar Oscar-voorloperstatus versterk deur die beeldjie vir beste ondersteunende aktrise huis toe te vat vir haar rol as Anita in Steven Spielberg se West Side Story, ʼn verwerking van die geliefde 1961-film.

In ʼn interessante wending is die vermoedelik Oscars-gunstelinge The Power of the Dog, waarin die Britse akteur Benedict Cumberbatch die hoofrol vertolk, en die Ierse drama Belfast met leë hande gelaat.

Die volledige wennerslys is soos volg:

Film

  • Beste ensemble‑rolverdeling: CODA
  • Beste akteur: Will Smith, King Richard
  • Beste aktrise: Jessica Chastain, The Eyes of Tammy Faye
  • Beste manlike byspeler: Troy Kotsur, CODA
  • Beste vroulike byspeler: Ariana DeBose, West Side Story
  • Beste stunt-ensemble: No Time to Die

Televisie

  • Beste ensemble, drama: Succession
  • Beste ensemble, komedie: Ted Lasso
  • Beste akteur, drama: Lee Jung-jae, Squid Game
  • Beste aktrise, drama: Jung Ho-yeon, Squid Game
  • Beste akteur, komedie: Jason Sudeikis, Ted Lasso
  • Beste aktrise, komedie: Jean Smart, Hacks
  • Beste akteur, TV-fliek of beperkte reeks: Michael Keaton, Dopesick
  • Beste aktrise, TV-fliek of beperkte reeks: Kate Winslet, Mare of Easttown
  • Beste stunt-ensemble, komedie of dramareeks: Squid Game.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.