Bekroonde renosterdokumentêr op die kleinkassie te sien

stroop-kalender-bonne-onderhoud-met-veldwagter

Bonné De Bod voer ‘n onderhoud met ’n veldwagter in die spesiale teen-stropingseenheid (vir sekuriteits-redes word die naam nie bekend gemaak nie) wat sy ’n hele paar jaar vir STROOP gevolg het. Foto: Verskaf.

M-Net, kykNET en ShowMax sal die dokumentêre rolprent oor renosterstropery, STROOP – journey into the rhino horn war, in September uitsaai.

Terwyl die Suid-Afrikaanse dokumentêr die wêreld behoorlik stormgeloop het en reeds 23 toekennings op 30 internasionale filmfeeste ontvang het, is STROOP ook boonop nou in twee afdelings van die Jackson Wild Media-toekennings genomineer. Hierdie toekennings staan wêreldwyd as die Oscars van natuurlewe-rolprente bekend.

Die 250 beoordelaars van Jackson Wild Media het sowat 5 000 uur lange beeldmateriaal van ʼn rekordgetal duisend inskrywings beoordeel om STROOP vir die kategorieë “Beste aanbiedergeleide rolprent” en “Beste impak: langvorm-rolprent” te benoem.

Susan Scott, regisseur van STROOP, sê om vir die kategorie Beste impak-film genomineer te word is ’n aansienlike eer aangesien geen Suid-Afrikaanse rolprent nog voorheen hiervoor genomineer is nie.

Nog ’n groter eer en prestasie is egter die erkenning aan Bonné de Bod vir haar aanbieding in dié rolprent.

“David Attenborough van BBC wen gewoonlik die aanbieder-kategorie en die ander genomineerdes in hierdie afdeling word gewoonlik deur mansaanbieders van Animal Planet en National Geographic oorheers. Vanjaar is daar egter enkele vroueaanbieders: Dame Judi Dench en ons eie Bonné de Bod wat die Suid-Afrikaanse vlag hoog hou. Nie net is Bonné besig om geskiedenis te maak nie, maar die blote feit dat sy langs sulke ongelooflike talent staan, getuig van haar vier jaar lange ondersoekende reis na dít wat met ons renosters gebeur en om dit aan die wêreld te wys,” sê Scott.

En hoe voel De Bod oor die ongelooflike eer wat haar te beurt geval het? “As ek dink wat ek in hierdie spesie se oorlewingstryd gesien het, die geweldige rou emosie van mans en vroue wat met integriteit en moed veg om renosters vir ons te beskerm. Dit was baie moeilik om dit oor te dra op die skerm en ek het bloot net probeer om dit te doen so goed as wat ek kon. Om dus erken te word vir daardie poging, is ’n wonderlike gevoel. Al wat ek wil hê, is dat mense moet sien wat werklik aangaan, sodat niemand kan sê ‘hulle het nie geweet nie’,” sê sy.

STROOP is ’n onafhanklike film wat met die hulp van skarefinansiering

die lig gesien het. Verder is dit een van slegs ’n handjievol wat in meer as een kategorie by Jackson Wild genomineer is en sal meeding teen dokumentêre films en vooraanstaande reekse van die wêreld se voorste uitsaaiers. Die wenners word op Donderdag 26 September tydens die Grand Teton-toekenningsgeleentheid in Jackson, Wyoming, in die VSA aangekondig.

Terwyl almal duim vashou vir De Bod en STROOP, sal Suid-Afrikaanse kykers die geleentheid kry om hierdie baanbreker-film te sien met die aankondiging dat die dokumentêr in September op verskeie kanale vertoon gaan word.

Die eerste vertoning is op 22 September, wat ook Wêreldrenosterdag is, op M-Net (kanaal 101 op DStv) net ná die Sondagaandfliek. Dit is ook die volgende aand op Maandag 23 September om 20:00 op M-Net Movies Premiere (kanaal 104 op DStv) te sien en sal ook vanaf Maandag 23 September op ShowMax beskikbaar wees.

kykNET is volgende aan die beurt met ’n Afrikaanse weergawe van STROOP, ook aangebied deur De Bod. Die eerste uitsending is op Saterdag 28 September om 20:00 en ʼn dag later, op Sondag 29 September om 20:00 op kykNET & kie, is daar weer ’n vertoning.

“Dit is ’n eer om STROOP na Suid-Afrika te bring. Al is dit ’n wêreldwye uitblinker is dit ’n rolprent oor wat regtig hier in Suid-Afrika aan die gebeur is, en jy moet dit eenvoudig kyk. Dit verdien net die beste uitsaaitye,” het Jan du Plessis, direkteur van M-Net-kanale, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Stiks ·

Baie geluk. Wie weet wat sy moes opoffer om hierdie film n werklikheid te maak

Attie. ·

Ek wil my DSTV kanselleer maar sal wag tot einde September om eers Stroop te kyk.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.