Bekroonde skrywer se nuwe reeks binnekort op die kassie

Argieffoto

ʼn Splinternuwe Afrikaanse reeks uit die pen van die bekroonde skrywer Paul C Venter is binnekort op die kassie te sien.

Dié reeks volg op die groot sukses van Vlug na Egipte en Terug na Egipte, die skrywer se vorige Afrikaanse televisiereekse.

Venter se nuwe reeks, Knapsekêrels, bestaan uit 13 uurlange weeklikse episodes.

Knapsekêrels vertel die storie van vier huisgesinne – die Bekkers, die Zimmermans, die Davidse en die Fortuins – wat mekaar noodgedwonge beter leer ken wanneer ʼn lid van elke gesin betrokke raak by ʼn jaagtog om oorlewing en ʼn bestaansreg in die Johannesburg van vandag.

Elke karakter stel sy eie geheime agenda voorop, en kort voor lank breek daar as’t ware ʼn klein oorlog uit. Op die kritieke mespunt tussen dit wat reg en verkeerd is, daar waar liefde verander in haat en waar lig en donker mekaar ontmoet, speel die gevaarlike skaduwêreld van Knapsekêrels hom af.

Akteurs soos Armand Aucamp, Dawid Minnaar, Christia Visser, Marisa Drummond en Terrence Bridgett is in dié reeks te sien.

Knapsekêrels is van 9 Januarie op kykNET, DStv kanaal 144, te sien.

Hierna kan jy uitsien:

Episode 1
Skalkie Fortuin en Mynie Bekker se paaie kruis by Interactive Security. Al het hulle dieper drome laat hulle huislike omstandighede hulle geen keuse as om hier hulle brood te verdien nie. Maar Mynie het dalk ʼn oplossing vir Skalkie se finansiële kwellings, want Hans Zimmerman is bekommerd oor sy dogter Addie se veiligheid. Dirk Bekker se besoek aan die dokter is nie al wat vroulief Joey te diep in die bottel laat kyk nie.

Episode 2
Tot groot ontsteltenis van Naomi haal haar seun Skalkie en sy kollega Mynie se heldedaad die koerante. Hans Zimmerman bied Skalkie ʼn werk aan – teen ʼn prys – en ongelukkig verloop Mynie en Addie Zimmerman se eerste ontmoeting allesbehalwe goed. Dirk besin oor die dokter se aanbeveling, terwyl Hans en Adam oop kaarte met mekaar speel – besigheid is besigheid.

Episode 3
Die private dansklas wat Rachel Fortuin en haar vriendin Cassandra aanbied ontaard in ʼn nagmerrie. Dinge raak net erger wanneer Skalkie betrokke raak. ʼn Brand ontstaan in die Bekker-huis, en Brenda se kêrel, Samuel, beraam ʼn plan om van die huishoudster, Naomi Fortuin, ontslae te raak. Met Chantel, haar vriendin, se hulp slaag Addie daarin om haar nuwe lyfwag te ontduik, terwyl Karlien tot die gevangene, Koos, se redding kom. Dirk deel sy vrese oor die operasie met Joey.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.