Bekroonde teaterdramas binnekort op die kassie

Brendon Daniels speel die rol van Bernard in ‘Opdrifsel’ en teenoor hom is Tinarie van Wyk Loots in die rol van Mara. (Foto: Verskaf)

Vier van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se vlagskip-dramas sal later in Desember en vroeg in Januarie op die kleinskerm te sien wees.

Dié vier teaterstukke, wat onlangs op film vasgevang is, sluit drie Suid-Afrikaanse werke en ʼn vertaalde Vlaamse teks in: Rachelle Greeff se Die Naaimasjien, Philip Rademeyer se Opdrifsel, Tom Lanoye se Koningin Lear, wat vertaal is deur Antjie Krog, en Reza de Wet se Asem, wat vertaal is deur Marthinus Basson.

Die teaterstukke sal op VIA, DStv-kanaal 147, uitgesaai word. “VIA bied met hierdie speelvak op televisie ʼn besonderse geleentheid aan teaterliefhebbers om veelbekroonde KKNK-dramas, waarin die room van die Afrikaanse teaterlui te sien is, in die gemak van hulle eie huise te geniet,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK.

“Elk van die produksies is geskiet om aan kykers ʼn besonderse teaterervaring op die skerm te bied.”

Opdrifsel, met Tinarie van Wyk Loots en Brendon Daniels, sou in 2020 op die KKNK op Oudtshoorn debuteer, maar dit kon weens die Covid-19-pandemie nie gebeur nie.

“Die rolprentweergawe is in 2021 opgeneem, nog voordat dit voor ʼn gehoor kon speel. Die produksie kon wel vanjaar by Aardklop voor ʼn gehoor debuteer,” sê Theart.

Philip Rademeyer het in 2020 die ATKV-Woordveertjie vir beste dramateks vir Opdrifsel ontvang en Van Wyk Loots is deur vanjaar se Aardklop Kunstefees as beste aktrise vir haar spel in dié drama aangewys.

In Opdrifsel word ʼn egpaar se lewe uitmekaargeskeur wanneer hul enigste kind sterf. Van Wyk Loots speel die rol van Mara en teenoor haar is Brendon Daniels in die rol van Bernard.

Sandra Prinsloo skitter in die eenvroustuk Die Naaimasjien. Dit is die verhaal van Magdaleen wat in haar ouetehuiskamer sit en besig is om elke deeltjie van haar naaimasjien skoon te maak.

Met deernis en humor vat Magdaleen ons terug na ʼn tyd van melkaflewerings, sykouse met nate, moerkoffie en melkskeiers. En sy herinner ons aan hoe ʼn ma – soos ʼn baboesjka-poppie – binne-in elkeen van haar kinders staan.

Antoinette Kellermann en Edwin van der Walt in ‘Koningin Lear’. (Foto: KKNK/Hans van der Veen)

Koningin Lear is in 2019 opgevoer ter viering van die KKNK se 25ste bestaansjaar. Die produksie het daarna verskeie speelvakke gehad en die geselskap en produksie is met verskeie pryse bekroon, waaronder ʼn kykNET Fiësta- en Kanna-prys vir Antjie Krog se meesterlike vertaling van die teks.

“Hierdie herverbeelding van William Shakespeare se King Lear deur die gevierde Vlaamse skrywer Tom Lanoye, bring die room van Suid-Afrikaanse akteurs byeen om dié kragtige verhaal na die plaaslike verhoog en nou ook na die kleinskerm te bring. Dit is ʼn storie oor familie, mag en ʼn wêreld wat op sy kop gedraai is,” sê Theart.

Antoinette Kellermann, Anna-Mart van der Merwe, Rolanda Marais, André Roothman, Neels van Jaarsveld, Wilhelm van der Walt, Edwin van der Walt en Matthew Stuurman is in die produksie te sien, met regie en ontwerp deur Marthinus Basson.

Theart vertel verder dat die rolprentweergawe van die bekroonde 2017-teaterproduksie Asem ʼn unieke ervaring is.

“In plaas daarvan om dit op die verhoog te skiet, is die produksie in ʼn plaasstal by die Worcester Museum verfilm. Die kyker word deur besonderse kamerawerk binne die storie geplaas – dit beloof om ʼn uitsonderlike ervaring vir die kyker te wees.”

Met Asem verweef De Wet digterlik en kragtig ʼn verhaal van liefde in ʼn tyd van vernietiging, wat die alledaagse in die uitsonderlike omskep.

De Wet is nege jaar gelede op 27 Januarie 2012 oorlede. Dit is ʼn huldigingsproduksie aan een van Suid-Afrika se belangrikste en mees invloedryke toneelskrywers, met Antoinette Kellermann, Tinarie van Wyk Loots, Stian Bam en Edwin van der Walt in die rolverdeling.

Die stukke sal op die volgende datums op VIA, DStv-kanaal 147, te sien wees:

  • Die Naaimasjien: Saterdag 25 Desember om 20:00. Geen heruitsendings.
  • Asem: 26 Desember om 21:00, met heruitsendings op 3 Januarie om 21:00 en 6 Januarie om 21:00.
  • Koningin Lear: 1 Januarie om 21:00, met heruitsendings op 5 Januarie om 21:00 en 8 Januarie om 21:00.
  • Opdrifsel: 2 Januarie om 21:00, met heruitsendings op 4 Januarie om 21:00 en 7 Januarie om 21:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.