Bekroonde ‘The Goldbergs’-akteur (87) sterf

George Segal. (Foto: Chris Delmas/AFP)

Die Oscar-benoemde en Golden Globe-bekroonde akteur George Segal het Dinsdag gesterf. Hy was 87.

Sonia, sy vrou, het Dinsdag aan Deadline gesê die familie is “verpletter” deur die aankondiging dat hy gesterf het. Hy het in Santa Rosa, Kalifornië, gesterf weens komplikasies ná ʼn hartomleiding.

Segal is in 1966 benoem vir sy rol in die fliek Who’s Afraid of Virginia Woolf?. Elizabeth Taylor en Richard Burton het ook in dié rolprentverwerking van Edward Albee se musiekblyspel gespeel.

Segal is benoem in die kategorie vir beste akteur in ʼn ondersteunende rol vir sy uitbeelding van Nick.

Hy het later bekend geraak onder jonger gehore vir sy rolle as tydskrifuitgewer Jack Gallo in die sitkom Just Shoot Me van 1997 tot 2003 en het sedert 2013 die rol van Albert “Pops” Solomon in The Goldbergs vertolk.

“Ons het vandag ʼn legende verloor,” het Adam Goldberg, vervaardiger van The Goldbergs, gesê.

George Segal (heel regs) saam met die rolverdeling van ‘The Goldbergs’. Hy het die rol van die geliefde oupa vertolk. (Foto: IMDb)

“Dit was ʼn ware eer om deel te wees van George Segal se ongelooflike nalatenskap. Deur pure toeval het ek die perfekte persoon gekies om Pops te vertolk. Net soos my oupa was George ʼn kind in sy hart, met ʼn magiese vonk.”

Wendi McLendon-Covey, Segal se medester in The Goldbergs, het ʼn foto van hulle twee saam as huldeblyk op sosiale media geplaas.

Sean Giambrone, wat die rol van Adam vertolk, sê hy is “gebroke” oor die nuus.

Segal is op 17 Februarie 1934 in ʼn dorpie in New York gebore. Hy het klein teaterrolle op Broadway vertolk voordat hy sy deurbraak in The Young Doctors (1961) gemaak het.

Hy het in 1973 ʼn Golden Globe-toekenning gewen vir sy rol in A Touch of Class teenoor Glenda Jackson. Hy het in 1977 tenoor Jane Fonda verskyn in die komedie Fun with Dick and Jane.

Bron: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.