Bennie Boekwurm is terug

Bennie-Boekwurm

Bennie Boekwurm se CD is nou beskikbaar vir die jongspan. Foto: Verskaf.

Diegene wat die beginjare van Suid-Afrikaanse televisie beleef het, sal sekerlik die eg Suid-Afrikaanse kinderprogram Wielie walie onthou.

Dié bekende program, wat omtrent 20 jaar lank te sien was, is deur die jare onder meer deur Elma Potgieter, Magda van Biljon en Gert van Tonder aangebied, en karakters soos Karel Kraai en Sarel Seemonster het by oud en jonk gewild geword. Daar is ook vyf jaar gelede ʼn DVD met nuwe Wielie walie-stories en liedjies uitgereik.

Een van die gewildste karakters van dié televisieprogram, Bennie Boekwurm, is terug met ʼn nuwe CD, Bennie Boekwurm vertel lekker stories. Soos in die televisieprogram blaas die bytjie en sing die blommetjies voordat Bennie na sy bril soek en begin om stories te vertel. Onder die nuwe stories is “Japie Apie soek sy mamma”, “Tokka die stoute kabouter”, “Mimi mier dink diep” en “Die wurmpie wat nie vroeg wou opstaan nie”. Daar is ook liedjies wat by elke storie pas, onder meer Ek wil my meme hê, Tokka Kabouter hou van skop en Links-regs, links-regs stap ons nou.

Die nuwe stories en liedjies is deur Dulinda Pieters, Neil Schoombee en die oorspronklike regisseur van Wielie walie, Louise Smit, geskryf. In die televisieprogram was Verna Vels die stem van Bennie Boekwurm, maar na haar dood verlede jaar het Dulinda Pieters die stemwerk oorgeneem.

Anders as in die televisieprogram word kinders met hierdie CD aangemoedig om hul verbeelding te gebruik, en elke karakter word in die fynste besonderhede met woord en klank geskets. Hierdie CD is ʼn moet vir diegene wat hul kinderjare wil herleef, of wil hê dat hul kinders of kleinkinders ʼn stukkie televisiegeskiedenis moet beleef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hendrik Breytenbach ·

Waarom op CD? Die kinders moet lees. Is daar nie van die ou stories in druk nie?

Minke ·

Sjoe mense, Willie Wallie en Bennie Boekwurm………..vir ‘n oomblik het ek terug flitse van my kinderjare en hoe ek as kind dit geniet het om na Bennie te luister. En natuurlik al die afrikaanse programme soos Liewe Heksie, Heidi, Mina Moo. Dit laat mens terug verlang na die tye toe alles nog so onskuldig en eenvoudig was, waar ons nog kinders kon wees met die gedagtes en onskuldigheid van kind wees. Waar is daardie tye heen…mens kry ‘n pyn steek in die hart met verlange na daardie dae. Ek is so bly om te hoor dat Bennie Boekwurm terug is, ek sal beslis die cd’s koop en wegbere vir die dag wanneer ek my eie kinders het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.