Bennie Fourie en broers gaan op toer

Bennie Fourie het saam met sy broers, Reynold en Wilbrie, die Tankwa-Karoo op motorfietse deurkruis. (Foto: Verskaf.)

Die akteur en skrywer Bennie Fourie het reeds as kind saam met sy twee broers, Reynold en Wilbrie, verskeie avonture aangepak.

Nou het dié drie Fourie-broers die eerste episode gemaak van ʼn TV-reisreeks wat hulle mettertyd wil vervaardig. Die loodsepisode van dié reisreeks, Die Broer Toer, is Donderdagaand op kykNET te sien.

“As kinders het ons drie broers baie saam fietsgery en gekamp en later op universiteit het ons saam ʼn bakkie gekoop waarmee ons die land plat getoer het. Sowat drie jaar gelede het ek en Wilbrie saam met vier pelle op bromponies die panne in Botswana gaan verken. Ek het ʼn video daarvan gemaak en ʼn vriend van my het gesê dit sal ʼn goeie program wees wat hy graag sal wil vervaardig,” vertel Fourie in die Maroela Media-ateljee.

Hy sê die idee was aanvanklik om saam met twee ander aanbieders voor die kameras te verskyn, maar dat hy toe voorgestel het dat sy broers eerder saam met hom die avontuur aanpak.

“Ek is baie opgewonde daaroor, want dit gee ʼn ander dinamika as net drie aanbieders,” sê Fourie.

Hy vertel hy en sy twee broers het ʼn baie hegte verhouding. “Ons het ook ʼn jonger sussie, Marli, maar ongelukkig rym ‘toer’ nie met ‘sussie’ nie, anders kon sy saam kom,” skerts hy.

“Ons drie broers is baie uiteenlopend in die sin van wat ons doen. Ons almal verskil twee jaar en Reynold, die ouboet, is ʼn predikant by die Bellville-Oos-gemeente in die Kaap. Hy is die beste mens in die wêreld en as jy enigsins ʼn emosionele of ander probleem het, dan gesels jy met hom.

“Wilbrie is ʼn rekenmeester en hy is geniaal. Hy is die tipe ou wat 100% vir hoër graad wiskunde op hoërskool gekry het, maar steeds die lewe van die partytjie is. En ék staan by die kamp en maak grappies terwyl hulle alles reël en die kos maak.”

In die loodsepisode lê die drie broers op motorfietse besoek af aan die dorre Tankwa-Karoo. “Ons het nie baie tyd of ʼn groot begroting gehad nie. Die Tankwa is ʼn plek wat baie gehard is, al lyk dit verskriklik mooi. Dit laat jou voel of jy regtig ver weg is en dit is die gevoel wat ons wou skep met die loodsepisode.”

Hy verduidelik die loodsepisode is geskiet as bewys van ʼn konsep om vir kykNET te wys wat hulle kan doen.

“In ons geval moet ons finansiering kry vir die program, omdat dit ʼn werklikheidsprogram is en kykNET nie daardie soort programme befonds nie. Ons moet nou borge kry om betrokke te raak om die res van die 13 episodes te kan skiet teen Maart volgende jaar.”

Hulle beplan om die pad van Kaapstad na Angola aan te durf met die res van die program. “Ons wil uitbeeld dat jy met so ʼn reis kan klaarkom met dit wat jy kry,” voeg hy by.

“In elke episode is daar absurde uitdagings waar ons teen mekaar moet meeding. In die loodsepisode sal kykers sien hoe hardloop ons met ʼn windbuks rond en probeer op ʼn teiken skiet, terwyl die ander twee broers losgelaat word met ketties. Ons is baie kompeterend. Ons is baie opgewonde oor dié afdeling van die program, want ek dink dit is die dele wat mense snaaks gaan vind.”

Die loodsepisode van Die Broer Toer is Donderdagaand om 21:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

Sakeondernemings of individue wat belang stel om betrokke te raak as ʼn borg, kan Fourie kontak by [email protected].

  • Luister na die volledige onderhoud bo-aan die berig.

Skakel in: 10 September 2020 – Die broer toer

????️???? Skakel 10 September 2020 om 21:00 in vir die eerste episode van #DieBroerToer met Bennie Fourie en sy twee broers. ????https://bit.ly/DieBroerToer

Posted by kykNET on Tuesday, September 8, 2020

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.