Binnelanders: 3 000 episodes later steeds ʼn ‘hartsprojek’

Elsje Stark en Karen Meiring (Foto: Brendan Croft)

Op 5 Oktober 2005, vandag byna 13 jaar terug, is ʼn hospitaaldrama getiteld Binnelanders vir die eerste keer op M-Net gebeeldsaai. Wat veronderstel was om bloot ʼn weeklikse drama te wees, het gou ʼn deel van duisende huishoudings geword – en vandag is dié sepie onlosmaaklik deel van Afrikaanse televisie.

Elsje Stark, vervaardiger van die reeks, sê die bestuurspan het van die begin af gedroom dat dié reeks ʼn groot sukses sou wees en juis daarom alles gegee om dit moontlik te maak.

Stark is sedert die begin by Binnelanders betrokke, tot einde verlede jaar nog saam met haar man, Frederich, wat op Kersdag oorlede is. Later dié week saai dié reeks sy 3 000ste episode uit – ʼn mylpaal wat min ander plaaslike produksies behaal.

“M-Net het in 2004 vyf produksiemaatskappye, waarvan Stark Films een was, gevra om voorleggings te doen vir ʼn uur lange dramareeks wat weekliks gebeeldsaai sou word. Stark Films was gelukkig genoeg om die kontrak te bekom,” vertel Stark oor hoe sy aanvanklik by die reeks betrokke geraak het.

Elsje Stark (Foto: Brendan Croft)

Byna 13 jaar later sorg die reeks steeds vir dieselfde opwinding – en soms teer oomblikke – as in die begin, vertel sy. “Daar was in die verlede talle oomblikke dat die storie of karakters my so ontroer het dat ek self ʼn traan of twee moes afvee!” vertel sy.

“Elke oomblik is lekker! Dis lekker wanneer dinge vlot verloop en dis lekker om ʼn oplossing te vind wanneer dinge moeiliker raak. My pa het my geleer om ʼn ding liewer te los as ek dit nie behoorlik gaan doen nie. So, ek doen my bes om wat ek ook al aanpak, so ordentlik moontlik te doen. En as ʼn mens soveel toewyding en energie in iets inploeg, kan dit nie eintlik anders as ʼn hartsprojek word nie!”

Dié passie kom al sedert ʼn jong ouderdom, sê sy. Stories vertel, lees en skryf is sedert sy ʼn kind was een van die mees bevredigende tydverdrywe.

Nadat Binnelanders later vandeesweek sy 3 000ste episode gaan beeldsaai en in Oktober vanjaar 13 jaar op die kassie vier, koester Stark steeds groot drome vir dié sepie. “Dit sal wonderlik wees as Binnelanders sy lojale kykers kan behou en nog kykers kan bykry omdat hulle ons poging om gehaltetelevisie te vervaardig waardeer, raaksien en geniet.”

Die Binnelanders-span (Foto: Brendan Croft)

Ná die afsterwe van haar man het haar aanslag nie soseer verander nie, maar wél haar uitkyk op die lewe. “Ek is meer as ooit tevore bewus van hoe belangrik dit is om jouself saans af te vra: Het ek die beste van hierdie dag gemaak?”

Haar raad vir jongmense wat die bedryf as vervaardiger wil betree? “Dis baie moeilik om die bedryf bloot te betree,” sê sy. “Jy moet eers eerstehands en deeglik kennis opdoen van hoe die verskillende dissiplines wat ʼn gedramatiseerde reeks vir televisie moontlik maak, inmekaarsteek – en dit kan jare neem. Dan moet jy boonop met mense kan werk en ʼn kop vir syfers hê, want daar is altyd ʼn begroting wat jy slim moet bestuur en waarbinne jy moet bly. So my raad is: Leer eers en wees geduldig. Hoe meer indieptekennis jy het, hoe beter, anders is daar geen fondament om op te bou nie.”

Binnelanders saai Donderdag dié week die 3 000ste episode uit. Skakel elke weeksaand om 19:30 in op DStv-kanaal 144.

Hans Strydom tydens Binnelanders se 3000 episode-viering (Brendan Croft)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Genieve ·

Die beste sepie ooit en ek is verslaaf aan binnelanders en die wat nou uitgaan ons gaan hulle baie mis want ons is al so gewoont aan hulle.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.