Binnelanders: 3 000 episodes se hoogtepunte, herinneringe

Die Binnelanders-span (Foto: Brendan Croft)

Die uiters gewilde Afrikaanse kykNET-sepie Binnelanders het Donderdagaand sy 3 000ste episode gebeeldsaai.

Ernst Swart, bemarkingsbeampte vir die sepie, het aan Maroela Media vertel dat ’n nuwe seisoen van die sepie op Maandag 11 Junie begin en verklap dat kykers ’n hele paar nuwe gesigte op die kassie kan verwag.

“Een van die akteurs oor wie ek persoonlik baie opgewonde is, is Kim Syster,” het Swart gesê. “Sy het van die Kaap af opgetrek Johannesburg toe om by die program aan te sluit.”

Die Binnelanders-span (Foto: Brendan Croft)

Syster is onder meer bekend vir haar rol as Kim McKenzie in Sterlopers, Nicolene September in Fluiters en Juffrou Fourie in die fliek Nul is nie niks nie.

Binnelanders, wat op 5 Oktober 2005 vir die eerste keer uitgesaai is, vier vanjaar sy 13de bestaansjaar waartydens ʼn magdom herinneringe en hoogtepunte opgebou is. “Daar is so baie. Dis 13 jaar van storielyne, musiek, troues, liefdesdriehoeke, moorde, mediese stories, gasspelers, en so kan ek aangaan,” het Swart gesê.

“Die eerste groot storielyn wat my bewus gemaak het van die reeks, was toe At Koster (Hans Strydom) geskiet is. Dit was aan die einde van die dramareeks, toe dit oorgeslaan het na die sepie toe. Dan was daar die liefdesdriehoek tussen Stefanie Malherbe (Rolanda Marais), Franz Basson (Dawid Minnaar) en sy seun, Gideon Basson (Neels van Jaarsveld),” het Swart vertel.

“Daar was ook Roelien van Deventer (Sarahann Doherty) wat gekeer het dat haar man, Chris (Phillip C. Henn), met dr. Jennifer Adams (Sandi Schultz), die liefde van sy lewe, trou, voordat sy uiteindelik aan die hand van Pippa Venter (Nadia Valvekens) gesterf het.

Nadia Valvekens en Hans Strydom. Foto; Brendan Croft

“Pippa was ʼn paar keer verloof, maar het op die ou einde van die dag getrou met Rian Malherbe (Erik Holm), dít nadat sy ’n jaar tevore vir Conrad Bester (Hykie Berg) voor die kansel gelos het toe sy uitgevind het hy het haar verneuk met haar beste vriendin, Stefanie.”

Swart onthou ook die liefdesverhaal tussen At Koster en die veel jonger Ivanka Gouws (Leandie du Randt Bosch). “Daar was Cherilee Gouws (Nicola Hanekom) wat kanker geveins het sodat haar dogter, Ivanka, geld by At kon vra vir behandeling.”

Daar was ook die liefdesdriehoek tussen Daleen, Tertius en Quinton – en eers toe Tertius al langer as ʼn jaar dood is, en die liefde begin blom het tussen Daleen en Quinton, is Tertius weer gevind. “Ja, springlewendig en gesond, maar as ʼn gevangene van die terroristegroep. Daar is regtig ongelooflik baie stories om oor te gesels,” het Swart gesê.

Alhoewel daar ʼn hele paar karakters is van wie kykers beslis nie gehou het nie, soos Cherilee Gouws en Ferdi du Toit wat vir Naomi (Je-Ani Swiegelaar) mishandel het, verklap Swart maklik wie kykers se geliefste karakter deur die jare was. “At Koster. Baie, baie beslis.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.