‘Binnelanders’-akteurs snoer kragte saam vir hartroerende Kerslied

Paul Lückhoff, Clint Brink, Germandt Geldenhuys, Reynardt Hugo en Ben Kruger sing saam “Stille Nag”.

Vyf van die kykNET-sepie Binnelanders se gewildste akteurs het kragte saamgesnoer om ʼn hartroerende weergawe van die bekende gewyde Kerslied “Stille Nag” op te neem.

Die opname was die geesteskind van Germandt Geldenhuys, wat die rol van Louis Koster in die sepie vertolk. Hy het vir Reynardt Hugo (dr. Tertius Jonker), Ben Kruger (Okkie Ferreira), Paul Lückhoff (Wimpie du Toit) en Clint Brink (dr. Steve Abrahams) genader om saam met hom die Afrikaanse weergawe van dié wêreldbekende Kerslied te sing.

Die musiekvideo vir die liedjie is ook pas uitgereik en het reeds meer as 20 000 kykbeurte op YouTube. Die liedjie pryk tans op die top-12 van die Apple iTunes-treffersparade.

Hugo vertel hulle was op die stel van die sepie aan’t verfilm toe Geldenhuys hom trompop geloop en gevra het of hy dalk saam met hom die liedjie wil opneem.

“Ek het dadelik ja gesê, want ek wou nog altyd iets anders as Binnelanders saam met Germandt doen. Jy kan maar sê dít is ons eerste projek saam, want dit is beslis nie die laaste nie,” sê Hugo aan Maroela Media.

Hy vertel hy het dit geniet om sy Binnelanders-kollegas in ʼn ander hoedanigheid te beleef as op die stel van die sepie. Die liedjie is opgeneem in die musiekvervaardiger Sean Butler se ateljee.

“Ek, Germandt en Ben ken Sean se ateljee baie goed en oom Paul speel baie in radiodramas, so ons almal is vertroud met ʼn ateljee. Dit was lekker om in ʼn ander hoedanigheid saam met die manne te werk, want die gesprekke was baie anders en ons het gefokus op harmonieë en sangdele.”

Hy bieg dat die eindresultaat sy verwagtinge oortref het. “Jy weet wat jy self in ʼn ateljee kan doen, maar ek kon eers agterna hoor presies wat die ander ouens gedoen het. Ek was weggeblaas deur die opname en het ʼn warboel van emosies beleef toe ek dit die eerste keer hoor. Dit was ook die eerste keer dat Clint in Afrikaans sing, en ek dink hy het hom uitstekend van sy taak gekwyt.

“Dit was ʼn eer en ʼn voorreg om hierdie projek saam met my kollegas aan te pak en ons almal het dieselfde doel voor oë gehad, naamlik om die liedjie na die beste van ons vermoë te vertolk.”

Die musiekvideo is opgeneem deur Donovan Benadé van Memory Lane in die NG kerk Lindenpark. “Dit was sy heel eerste musiekvideo en ek is so trots op hom vir wat hy reggekry het met geen begroting nie. Germandt was die regisseur en hy het ook fantastiese werk gedoen.”

Die opbrengs van die liedjie wat afgelaai en aangekoop word deur stromingsplatforms word alles aan die Abraham Kriel-kinderhuis geskenk.

“Ek het eers nadat die liedjie opgeneem en verwerk is, vasgestel dat Germandt beplan om die geld vir die kinderhuis te skenk. Ek dink dit is ʼn ongelooflike gebaar in ʼn tyd soos hierdie waar almal in ʼn moeilike finansiële posisie is. ʼn Mens werk elke dag saam met iemand op die stel, maar bestee nie noodwendig baie tyd saam nie; hierdie gebaar deur Germandt wys my sy hart en dat dit op die regte plek is.”

Hy vertel hy is oorweldig deur die terugvoer wat die liedjie kry. “Die feit dat dit reeds op gesogte trefferparades pryk en dat die video soveel keer gekyk is, is ongelooflik. Dit wys jou net die uitwerking van iets wat eie is aan Afrikaans. Die woord wat deurgaans op sosiale media gebruik word om die liedjie te beskryf is ‘hoendervleismooi’. Ons is werklik uit die veld geslaan deur mense se reaksies.”

Volgens Hugo was dit ʼn spesiale projek om by betrokke te wees. “Die grootste les wat ek hieruit geleer het, is hoe musiek mense bymekaarbring en gesond maak. ʼn Vrou het op sosiale media geskryf sy het Maandagaand die liedjie kliphard geluister terwyl die Bethlehem-ster geskyn het en haar hart uitgehuil vir haar kinders wat nie vanjaar by haar kan wees nie.

“Iemand anders het ook geskryf die liedjie vervul ʼn leemte vir geliefdes wat hierdie jaar ver is. Ek is dankbaar dat die liedjie so ʼn positiewe uitwerking het op mense. Watter beter manier is daar om 2020 af te sluit?”

“Stille Nag” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.