‘Binnelanders’-aktrise groet sepie ná 13 jaar

Nadia Valvekens op die jongste voorblad van Sarie (Foto: Verskaf)

Kykers het haar leer ken as die geliefde Pippa Venter in die gewilde kykNET-hospitaaldrama Binnelanders. Vanjaar – ná bykans 13 jaar in dié rol – maak die aktrise Nadia Valvekens reg om kykers van die sepie te groet.

Valvekens vertel Maandag in ʼn telefoniese onderhoud aan Maroela die “tyd was reg” om Pippa se uniform weg te pak. Sy wil nóg nie sê of dié uniform finaal gebêre sal word nie – dalk kom kuier sy nog ʼn keer of wat in die Binneland – maar vir nou maak sy eers gereed om haar vlerke te sprei.

In Augustus vanjaar ken aanhangers die aktrise al vir 13 volle jare as Pippa. “Dit was ʼn groot besluit, maar dinge het amper asof vanself gebeur,” vertel sy. “Dertien jaar is ʼn hele skoolloopbaan. Ek het ʼn wonderlike tyd op die sepie gehad, ek het ʼn magdom dinge geleer en goeie vriende gemaak, maar die tyd is nou reg om aan te beweeg.”

Valvekens sal haar laaste tonele in Junie vanjaar verfilm. Kykers sal haar dan vir die laaste keer in September vanjaar op die kassie sien. “ʼn Mens is maar hartseer omdat dit vir so lank ʼn groot deel van jou lewe was,” verduidelik sy. “Ek het wonderlike mentors gehad en baie opwindende tye op die stel van Binnelanders beleef. Dis ʼn scary tyd, maar ook ewe opwindend. Ek gaan darem nie al die wonderlike mense agterlaat nie; ons sal mekaar steeds sien. En wie weet, dalk is dit tog nie heeltemal die einde vir Pippa nie. Dalk kom draai sy weer by die hospitaal.”

Nadia Valvekens as Pippa in ‘Binnelanders’ (Foto: Facebook via Binnelanders)

Die aktrise beoog om voltyds as fasiliteerder by die maatskappy Dynamic Voice betrokke te raak. Hier sal sy as korporatiewe stemafrigter onder meer mense oplei en help om hul stem reg te gebruik, asook die regte asemhalingstegnieke. “Ek is al sedert verlede jaar April betrokke by die maatskappy en sien werklik daarna uit om selfs meer betrokke te raak en my daar in te grawe,” sê sy.

Dis ook nie die laaste wat kykers van haar sien nie. Sy is later vanjaar in die Foxwood-teater in die verhoogstuk Hartklop te sien. Dié stuk vertel van twee joernaliste, Jessica (Valvekens) en Daniel (Christo Davids) – ʼn paartjie – wat saam werk aan ʼn stuk oor hartoorplantings. Die stuk is vol intriges en temas van die hedendaagse millennium: Jessica se pa wag onder meer op ʼn hartoorplanting en aanvaar nié sy dogter se verhouding nie.

“Dit is wonderlik om na soveel jare weer terug te wees op die verhoog,” sê sy. “Verlede jaar was die stuk in die Kunstekaap-teater te sien. Dit was my eerste keer op daardie einste verhoog en dit was ʼn wonderlike ervaring.”

Kan sy enigiets verklap oor presies hóé sy Binnelanders gaan verlaat? Sy lag. “Kom ons sê maar net daar is báie om na uit te sien.”

Vir meer inligting oor Hartklop, besoek die produksie se amptelike Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Margaret Schoeman. ·

Regtig jammer om dit te hoor…
Ek wens jou alle sukses en voorspoed toe, Nadia. Mag die toekoms na Binnelanders vir jou vele verrassings inhou.

Johan ·

Sy gaan seker vir Tertius soek – is hy nog op die boot waar hy gevange gehou word?

Nadia ·

Ek hoop dat sy in ‘n happy ending saam die poliesie man weg gaan sy verdien dit! Ons gaan jou so mis

Missy ·

Baie jammer om te hoor…ek het my nuutste katjie na haar vernoem en nee ek’s nie nou sarkasties nie.

PEET ·

PIPPA gaan GROOT lemte in Binnelanders laat
Sterke met pad voerentoe NADIA

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.