Blyde Smit: Van ‘7de Laan’ na wynland in ‘Troukoors’

Blyde Smit in ‘Troukoors’. (Foto: Verskaf)

In die nuwe Afrikaanse komediedramareeks Troukoors, wat op Showmax te sien is, vertolk Blyde Smit die rol van Luca, ʼn sagteware-ontwikkelaar wat meer vlot is in Klingon as die flankeerkuns.

Volgens Smit het sy dit “ongelooflik baie geniet” om die rol van Luca te vertolk – dermate dat sy haar lank vir die oudisie voorberei en selfs Klingon, ʼn unieke taal uit Star Trek, leer praat het.

“As ek vir Luca moet beskryf, sou ek sê sy is ietwat alternatief, en stel baie in geeky goed belang,” vertel Smit.

“Sy kan Klingon praat. Sy speel Dungeons & Dragons en sy het ook haar eie bordspeletjie, Escape from Black Mountain, geskep.”

Troukoors is ʼn splinternuwe Showmax Original-reeks in Afrikaans uit die pen van Louis Pretorius en Albert Snyman, skrywers van gewilde reekse soos Die Boekklub en Fynskrif.

Troukoors speel af in die Kaap en bied ʼn verfrissende blik op familie, met drie susters wat vertolk word deur Bianca Flanders as Abby, Ilse-Lee van Niekerk as Jessica en Smit as Luca.

Luca is verskriklik intelligent en sy werk nogal met haar kop, sê Smit. “My karakter is baie logies en dit maak haar soms emosioneel onervare. Sy is nogal ʼn loskop as dit kom by emosie – baie op en af. Sy weet nie altyd hoe om ʼn situasie te hanteer nie en sy is ook redelik skaam.”

Smit vertel sy is self baie lief vir bordspeletjies en dit was een van haar gunsteling-karaktereienskappe van Luca.

Blyde Smit en Ilse-Lee van Niekerk in ‘Troukoors’. (Foto: Verskaf)

“Omdat sy so op en af is met haar emosies, is dit vir my belangrik om haar geloofwaardig te speel sonder dat dit stereotiep raak. Ek het ʼn boekie bymekaargesit toe ek haar as ʼn karakter ontleed het waarin ek haar hele storielyn uitgeskryf het sodat ek kan weet waar sy is, want sy gaan deur ʼn aansienlike groeiproses. Sy word mettertyd volwasse, so dit was vir my belangrik om dit vanuit die regte invalshoek te benader.

“Wat vir my mooi is van haar karakter, is dat sy wel op die ou einde verlief raak en dat die verhouding dan ook vinnig ontwikkel.”

Familie word op ʼn onkonvensionele manier in Troukoors uitgebeeld en verteenwoordig eietydse families wat deur egskeiding geraak word, sê Smit.

“Dit raak aan belangrike onderwerpe in terme van verhoudings – nie net die soort verhoudings wat ons het nie, maar ook hoe ons dit navigeer, hoe ons keuses maak, en hoe ons trauma en verandering in die lewe verwerk. Dis ook lekker lig, al is daar ernstige oomblikke.”

Sy vertel sy was uit haar vel toe sy die rol van Luca losgeslaan het. “Ek was honger om ʼn bietjie te speel. Ons het my oudisie opgeneem en ingestuur en ek het nie gedink ek gaan dit kry nie. Hulle was egter mal oor hoe ek die karakter benader het. Ek was so verheug, opgewonde en dankbaar toe ek die rol kry.”

Kykers van die SABC2-sepie 7de Laan sal vir Smit herken as die kelnerin Gabby. Nina Swart, wat jare gelede die rol van Willemien in dieselfde sepie vertolk het, het die regie van Troukoors behartig.

Blyde Smit en Bianca Flanders in ‘Troukoors’. (Foto: Verskaf)

“Nina benader regie op so ʼn mooi manier. ʼn Mens kan maklik met haar gesels; jy kan maklik vir haar sê: ‘Nina ek is nie seker oor hierdie kwessie nie.’ Sy is oop daarvoor dat jy haar uitdaag oor ʼn keuse wat sy gemaak het as jy voel dit is nie hoe die karakter sou optree nie. Sy is ook goed daarmee om ruimte vas te hou,” sê Smit.

“Nina doen nie iets sommer net nie. Sy dink verskriklik goed na oor hoe sy iets benader en daarom voel dit ook soos ʼn lekker span wat saamwerk. Almal is ewe toegewyd daaraan om die storie te dien.”

Troukoors debuteer vandag (Maandag) wanneer al 14 episodes beskikbaar sal wees vir vraatkykers wat dié Desembervakansie met Afrikaanse vermaak wil afskop.

Showmax het reeds die reeks vir ʼn tweede seisoen hernu, wat in 2022 uitgereik sal word.

Kyk hier na die lokprent.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.