Bobby hou weer sy lyf akteur

‘n Foto van die Mense Mense-stel (Foto: Verskaf)

Aanhangers van die gewilde Afrikaanse sanger Bobby van Jaarsveld gaan binnekort die geleentheid kry om dié sanger as komedie-akteur in aksie te sien wanneer hy sy buiging in ʼn splinternuwe kykNET-sitkom gaan maak.

Van Jaarsveld is as Rossouw in dié reeks, wat Mense Mense heet, te sien. Die sanger het volgens kykNET vroeër die konsep vir dié komedie aan die kanaal voorgelê en was ook deel van die skrywerspan om die reeks te ontwikkel.

Mense Mense vertel die verhaal van Rossouw wat by sy universiteitsvriende Julian (vertolk deur Solomon Cupido) en Liesl (vertolk deur Crystal-Donna Roberts) aansluit om ’n nuwe lewe in die groot stad te begin wanneer sy huwelik op die rotse loop.

‘n Foto van die Mense Mense-stel (Foto: Verskaf)

Die eienaar van die gebou waar die groep vriende woon, Mientjie (vertolk deur Sandra Prinsloo), se speelse en ontydige gekonkel verseker dat Rossouw in haar mikrobrouery op die grondverdieping van die woonstelblok begin werk.

Mientjie neem ook haar susterskind, Salomé (Lea Vivier), onder haar vlerk wanneer sy haar werk as verkoopsverteenwoordiger van ’n plaaslike distilleerdery verloor.

Saam met Rossouw in die kelder van die gebou is ook Julian en Sebastian (Reynardt Slabbert) wat hul app bestuur en Liesl wat droom van ’n wit rok terwyl sy vraestelle merk en vir haar lesse voorberei.

Volgens kykNET se bemarkingspan vertel Mense Mense ʼn storie van vriendskap, verhoudings en volwassenheid – maar veral oor die onwrikbare liefde tussen vreemdelinge wat familie word.

Die akteur en regisseur Pierre van Pletzen is aan die stuur agter die kameras van die reeks en word ondersteun deur die bekroonde teater-regisseur Nico Scheepers wat na die spelleiding omsien.

Die reeks word deur Nouvanaand Films vervaardig. Mense Mense word vanaf 9 April op kykNET, DStv-kanaal 144, om 20:30 gebeeldsaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.