Boelies: Help jou kinders só

‘n Skermgreep uit ‘Alles Malan’. Freek en sy vriende word geboelie en afgepers. (Foto: Verskaf)

Deur Ilza Roggeband

In die kykNET-dramareeks Alles Malan loop Freek (Mateo Olivier) en sy vriende sleg deur wanneer Thys (Alex van Dyk) en sy span hulle nie net boelie nie, maar sommer afpers ook.

Wat kan jy doen om jou kinders te help om nie in dieselfde slaggat te trap nie?

Boeliegedrag is ongelukkig so oud soos die berge en saam met die vordering van tegnologie het kuberboelies ook begin kopuitsteek.

Volgens Childline, ’n nie-winsgewende organisasie wat in Suid-Afrika na die regte van kinders omsien, is daar verskeie maniere waarop kinders geboelie kan word:

  • kinders wat mekaar skeldname noem;
  • leuens vertel om ander in die moeilikheid te laat beland;
  • die slaan, stamp, byt en knyp van ander kinders;
  • om iets te neem wat nie aan hulle behoort nie of iemand anders se eiendom te beskadig;
  • om vriende af te rokkel;
  • om leuenstories te versprei en
  • om iemand te bedreig of te intimideer.

Wat moet jy doen as jy geboelie word? Die heel eerste ding wat jy moet doen, is om vir iemand daarvan te vertel. Jy sal dit dalk nie wil doen nie, want jy dink dalk niemand gaan jou glo nie of mense gaan dink jy is ’n swakkeling, maar indien jy dit nie doen nie, sal dit dalk net erger raak.

Praat met ’n vriend, ouer of familielid en indien dit by die skool gebeur, praat beslis met ’n onderwyser.

  • Probeer in plekke bly waar jy veilig is soos byvoorbeeld tussen anders kinders wanneer dit pouse is. Meeste boelies hou nie daarvan dat ander mense sien wat hulle doen nie.
  • Indien jy openbare vervoer skool toe en terug neem, sorg dat jy naby volwassenes sit. Verander dalk die tye wanneer jy skool toe en terug ry om die boelies te vermy en weer eens: praat met iemand oor wat gebeur het.
  • Moenie jou telefoonnommer vir enigiemand gee nie. Indien jy wel boelie-boodskappe kry, wys dit dadelik vir jou ouers of onderwysers. Daar kan selfs ’n klag by die polisie gelê word.
  • Moenie stilbly wanneer jy sien iemand anders word geboelie nie. Moenie moeilikheid soek met die boelies nie, gaan eerder dadelik na iemand wat kan help. Kinders wat geboelie word, het vriende en bondgenote nodig en jy is dalk net die een wat die boelie-sirkel kan breek.

Freek praat met sy ma, Tessa, in ‘Alles Malan’. (Foto: Verskaf)

Is jy dalk die boelie? Vra jouself die volgende vrae af:

  • Wat het gebeur dat ek die boelie geword het?
  • Hoekom doen ek dit?
  • Hoe voel ek wanneer ek iemand boelie?
  • Hoe hou ek op om dit te doen?

Kuberboelies het die wêreld oor al vir tragiese gevolge gesorg. Daar is kinders wat selfmoord as die enigste uitweg kies of soveel skade aangedoen word dat hulle persoonlikhede geheel en al verander. Angs en depressie is maar net twee nagevolge van wat kuberboelies kan veroorsaak.

Waarvoor moet ouers oplet?

  • Is jou kind ontsteld nadat hy of sy op die foon of internet was?
  • Is jou kind geheimsinnig oor wat op sy of haar foon is?
  • Bring jou kind te veel tyd alleen in sy of haar kamer deur?
  • Het jou kind hom of haar ontrek aan julle gesinslewe, skoollewe en ander byeenkomste?
  • Sien jy dat hul skoolwerk agteruit gaan?
  • Is daar ’n verandering in hul bui, eet- en slaapgewoontes?
  • Vermy hulle gesprekke op hul foon of rekenaar?
  • Lyk hulle senuagtig wanneer hulle ’n boodskap die foon kry?

Hoe kan ouers help?

  • Verduidelik reg van die begin, wanneer die kind vir die eerste keer ’n foon kry, die gevare van kuberboelies. Waarsku jou kind om nooit sy of haar nommer sommer vir enigeen te gee nie, nooit persoonlike inligting te deel nie en versigtig te wees vir groepe waar kinders ’n teiken kan word.
  • Praat met jou kind en sê jy sal hulle altyd lief hê en ondersteun, maak nie saak wat nie.
  • Laat jou kind goed verstaan dat dit nie sy of haar skuld is nie en dat boeliegedrag meer te doen het met die boelie, as met hom of haar.
  • Indien jy uitvind dit is ’n medeleerling wat jou kind boelie, moet jy die skool laat weet.
  • Hou rekords (skermgrepe) van die boodskappe en foto’s sodat dit as bewyse gebruik kan word.
  • Kry vir jou kind hulp en laat hom of haar met ’n berader of sielkundige praat. Ondersteun jou kind deur vir hom of haar die gereedskap te gee om met ’n boelie af te reken.
  • Monitor jou kind se gebruik op sosiale media. Kinders kan baie geheimsinnig wees oor wat op hulle fone is, maar jy het die reg as ouer om toegang daaroor te hê. Eerder ’n probleem vroeg genoeg identifiseer as dit te probeer beredder wanneer dit reeds te laat is.
  • Wees deel van jou kind se aanlyn lewe. Volg hulle op sosiale media, maar sonder om opdringerig te wees. Maak ook seker dat hulle nie te veel tyd op sosiale media deurbring nie en wees op die uitkyk wanneer jy sien dit is besig om hulle sy of haar oor te neem.

Besoek www.childlinesa.org.za vir meer inligting. Daar is onder meer ’n diens waar kinders direk met iemand oor hulle probleme kan praat.

Alles Malan is op Dinsdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

AndrewL ·

Boelies raak al meer gemeen, veral in terme van sosiale media.

Ek het goeie sukses behaal deur ouers te oorreed om ‘n beskermings bevel te kry in terme van die Wet op Voorkoming van Teistering. Die bevel word op die ouers van leerders onder die ouderdom van 18jaar bedien en hul word dan mede-verantwoordelik.

My ervaring met skole is ongelukkig nie baie positief nie omdat skole nie verantwoordelikheid wil aanvaar nie.

Ouers moenie boelie gedrag afmaak nie. Die spyt kom altyd te laat wanneer die kind selfmoord pleeg.

VaalDonkie ·

Ja en die grootste fout wat ‘n ouer kan maak is om toe te laat dat die skool dit “intern ondersoek”. Ek wag al 22 jaar lank om te hoor wat van my ondersoek geword het.

Windhond ·

Dis n baie fyn lyn wat die ouer moet handhaaf – mens moet ook nie die kind die geleentheid om vir homself in de bresse te tree ontneem nie en sodoende die kind ontneem van sy kennis wanneer om op te tree as dit geregverdig is – en wanneer nie. n Kind moet weet hoe om hulself te beskerm, anders gaan jy moontlik n volwassene skep wat onbeholpe gaan wees en wat emosioneel gebrekkig gaan wees

SlinkseKoljander ·

Kinders vandag is te sag, hulle gaan sukkel in die grootmens wereld.

AndrewL ·

Nee Andre, Boelies gebruik sosiale media en ander platforms. Dit is baie erger as die tipe boelie jare gelede wat jou rond gestamp het of ‘n paar klappe en vuil taal uitgedeel het.

Hulle is vandag slu, ongenaakbaar en uiters wreed.

Hoe kan ‘n kind hom/haarself verdedig teen onwaarhede ens wat soos ‘n veldbrand versprei word? Met sosiale media kom die goed soos branders op die strand weer en weer en ………..

Daar is vandag ‘n baie groter probleem agter boelies. Jy kan nie mee ‘n ou agter die skoolsaal ontmoet en hom ‘n les leer soos 30 jaar gelede nie. Ongelukkig is daar baie boelies wat deur hul ouers beskerm (aangehits?) word.

Ek het die lyke van heelwat van hul opgetel. Soveel uit sg top skole.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.