Boer Adriaan en sy Helene: TV-liefde ís moontlik

Boer Adriaan en Helene (Foto: Facebook)

Weke lank moes boer Adriaan (28) en sy Helene (28) hul romanse stilletjies hou en geduldig wag tot net voor die laaste episode van die kykNET-werklikheidsreeks Boer soek ʼn vrou gebeeldsaai word. Nou is dit al agt maande sedert hulle ʼn paartjie is – en hulle verkondig hul geluk aan die wêreld.

ʼn Skaam boer Adriaan – soos kykers dié skaapboer van die Langeberg-distrik in die Wes-Kaap verlede jaar leer ken het – vertel Dinsdag aan Maroela Media hy is ná agt maande steeds smoorverlief op die donkerkop Helene.

Selfs nie eens die 300 km tussen Langeberg en die Kaap, waar Helene as restaurantbestuurder werk, kon hulle onderkry nie. Om die waarheid te sê, dié paartjie laat nie twee weke verbygaan sonder om by mekaar te wees nie.

“Dit gaan baie goed met ons,” vertel hy. “Ons verhouding is maar nog baie jonk, maar ons geniet mekaar se geselskap ongelooflik baie. Ons het van die begin af geweet dat ons mekaar nie so gereeld sien soos wat ons graag sou wou nie, maar ons vat dit tree vir tree en dag vir dag. Ons geniet mekaar en dit bly vir ons lekker om by mekaar te wees.”

Daar is in dié stadium nog geen druk om by mekaar te wees nie, vertel hy. En nee, daar is nog nie sprake van trou nie. “Ons laat toe dat dinge gebeur soos dit gaan gebeur; ons wil niks druk nie,” sê hy. “Ons is baie gelukkig en baie verlief en ons weet dat dinge sal uitwerk soos dit moet en op die regte tyd.”

Adriaan vertel selfs sy plaas word ook deur die voortslepende droogte in die Kaap geraak, maar die boere druk deur en weet dat selfs dié droogte ook verby sal gaan. “As ek eerlik moet wees, lyk dit nie of dit baie binnekort gaan verander nie, maar dit beteken nie nooit nie. Dinge sal altyd weer verander. Dis nou droog, maar ons geniet dit steeds baie op die plaas.”

Boer Adriaan en Helene (Foto: Facebook)

Sy raad aan die boere? “Geniet dit net,” lag hy. “Die feit dat hulle ingeskryf het, is reeds ʼn groot stap – een in die regte rigting. Dis ʼn ongelooflike reis om deel van die reeks te wees en daar is altyd die moontlikheid dat jy iemand wonderlik kan ontmoet. Doen dit omdat jy dit gaan geniet en met die vooruitsig dat jy mense gaan ontmoet wat jy nie noodwendig in jou gewone dag-vir-dag-lewe sou ontmoet het nie. Kyk dan hoe goed het dit vir my uitgewerk.”

Hy het selfs raad aan die meisie én die manne wat vir dié reeks se boere wil inskryf. “Jy stel jouself baie bloot, maar vir ʼn goeie doel. Jy weet nooit wat tydens die reeks gaan gebeur nie. Wees eerlik, wees jouself en stel jouself oop vir moontlikhede.”

Inskrywings vir die nuwe reeks van Boer soek ʼn vrou is nog oop tot 27 April. Vir meer inligting, stuur ʼn e-pos na [email protected] of besoek die kykNET-webwerf. Jy kan ook die vervaardigers direk nader by 079 335 5137.

Lees meer oor vanjaar se boere op Maroela Media. Lees ook wat Leah, die nuwe aanbieder van die reeks, oor dié uitdaging te sê het.

Boer Adriaan en Helene (Foto: Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

jean ·

Beautiful!………….Sterkte met die droogte en ons hoop die volgende fotos sal die troufotos wees.

Uvonka ·

Vir my is julle die oulikste paartjie van die hele reeks, net te prettig en pragtig! Ons bid kliphard vir reen in die Kaap!

Philip ·

Pragtige paartjie. Mag die Here hul verhouding seen. Ons bid vir reen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.