Boer André is verloof

Boer André en Monja (Foto: Verskaf)

Boer André van Zyl (35), die goedgeaarde boer wat die meeste briewe op die 11de seisoen van Boer soek ʼn vrou gekry het, is op pad kansel toe!

Hy het onlangs verloof geraak aan onderwyseres Monja Strydom (25), wat al voorheen ook vir Boer soek ʼn vrou ingeskryf het, maar by ʼn ander boer op die plaas gaan kuier het.

André, wat met skape en angorabokke boer, vertel aan Maroela Media hy het Monja ontmoet ná ʼn vriendskapsversoek op Facebook van haar kant nadat sy hom op televisie in dié maatsoek-program gesien het.

“Ek het haar gelukgewens met haar verjaarsdag, en van daar af het ons meer begin gesels. Ek het haar toe later gebel en gevra of ek haar kan vat vir koffie. Sy het eers gesê 800 km is bietjie ver om net vir koffie te ry, maar van daar af het die dingetjies maar begin loop,” sê hy.

Monja woon tussen Witbank en Middelburg in Mpumalanga en Boer André se plaas is in die Colesberg-distrik in die Noord-Kaap. Monja het in 2015 vir Boer soek ʼn vrou ingeskryf, en het toe by Niel Wentzel van Bloemhof op die plaas gaan kuier. Niel het wel vir Monja gekies, maar die romanse het gesneuwel.

Boer André en Monja (Foto: Verskaf)

Boer André het egter besluit om Monja nie deur sy vingers te laat glip nie, en het haar ná slegs drie maande saam gevra om met hom te trou.

“Sy het so ʼn mooi manier om te praat en te sê wat sy wil sê. Sy kyk mooi na haarself en is goed versorg. Daar is soveel goeie goed wat ek oor haar kan sê, ek kan die hele dag aanhou. Maar sy is mooi van binne en buite,” sê die verliefde boer.

“Ek het sommer gou nadat ons begin kuier het, geweet sy is iemand met wie ek my lewe kan deurbring. As ʼn mens rustigheid in jouself daaroor het, jy en die persoon kom darem reg en daar is nie te veel admin nie, kan ʼn mens ʼn pad begin stap. Hoekom wil ʼn mens nou langer wag en verder tyd mors?”

Hy het verlede Saterdag (9 Februarie) by die Bergsheba River Lodge teen die Vaalrivier vir Monja gevra om te trou.

“Ons het die oggend vir ʼn bootrit gegaan en toe ons terugkom, het Monja se boetie se verloofde saam met ʼn tannie by die lodge vir my ʼn mooi versierde houtgazebo opgerig. Toe ons terugkom van die bootrit het ons daarheen gegaan en ek het haar daar gevra of sy my vroutjie sal wees,” sê hy.

Boer André sê hy was so oorweldig dat hy nie kan onthou wat haar antwoord was nie, en dat hy haar ʼn uur later weer moes vra of sy wel “ja” gesê het.

“Sy het darem haar hand uitgesteek vir die ring, so ek het maar aanvaar sy het ‘ja’ gesê,” skerts hy.

Die twee vry nou nog oor ʼn afstand, maar wanneer hulle trou, sal Monja plaas toe trek.

“Ek ry maar so elke twee weke na haar toe. Dit is moeilik vir haar om na my toe te kom, want as sy op ʼn Vrydag ná skool ry, kom sy amper eers Saterdag by my aan. So, ons ry maar die afstand op die oomblik.

Boer André en Monja (Foto: Verskaf)

“Daar is nie ʼn halwe kans dat ek van die plaas af sal trek nie, so sy gaan hierheen kom. Sy sal vir eers net bietjie huis regmaak en haar asem in die plek in blaas, en dan sal sy later seker ʼn pos nader aan die plaas probeer kry. Dit is net eers belangrik dat sy die huis mooimaak soos dit vir haar lekker is en sodat sy gemaklik voel,” sê hy.

Volgens Boer André pas Monja baie goed op die plaas aan en is nie bang om haar hande vuil te maak nie.

“Sy het ʼn goeie idee van wat op die plaas aangaan en hou baie van tuinmaak. Sy het al lekker gewoel in die tuin en ek hoor ons kry ʼn groentetuin ook. Sy hou baie van diere en het haar eie hondjies ook, so dit maak dinge makliker. Sy is lekker aanpasbaar en as iemand lief is vir diere, dan weet ek sommer ek kan met haar ʼn pad stap.”

Die paartjie wil nie te lank wag voordat hulle trou nie, en Boer André sê hulle wil “voor die winter” nog trou. Maar daarna wil hulle eers net bietjie bymekaar wees en die saamwees koester voordat hulle met ʼn gesin begin.

“Ek is so opgewonde. Ek sien uit na die toekoms, want ek is aan háár verloof. Ek is opgewonde om haar op die plaas te hê en dat ons ons lewe saam kan begin,” sê hy.

Boer soek ʼn vrou was ʼn lang proses wat ek baie geniet het, en hierdie wending is ook maar ʼn uitvloeisel daarvan – want dit is waar sy aan my gekom het. Ek is verskriklik opgewonde en kan nie wag om my lewe met haar te deel nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

waarheid1 ·

Jip jy kan nie ‘n ding forseer nie.
Baie geluk Boer Andre!!

Deloris ·

BAIE GELUK MAG JY en JOU PRAGTIGE AANSTAANDE VIR ALTYD SO SMILE EN LAG

Mads ·

So mooi storie, baie geluk julle. Mag julle vir altyd gelukkig wees.

sonja coetzee ·

Baie geluk Andre en Monja!!!!Sy’s pragtig!!!!Mag julle 2’tjies baie baie gelukkig wees.Ek trou Saterdag (die 23’ste Febr)my maag maak vlindersdis die lekkerrrrrrrrrrrrrste gevoel ooit om met die 1′ van jou hele lewe te trou!!!!!!!!!!!!!!!Nogmaals baie geluk!!!!!!!!!!!!!!!

Bamsie ·

Hy lyk na n gawe man, maar ek dink hulle is so bietjie oor haastig?

Leser ·

Hulle se trou kom soos groot……
Jy kan dit nie keer nie!!!

Sputnik ·

Nee wat, altwee is pragtig en sekerlik lief vir die ander een. Los negatiewe kommentaar en wens hul eerder die beste toe – hulle verdien dit.

Elsa ·

Ek en my man het n maand na ons ontmoet het, getrou. 27 Februarie is ons 37 jaar getrou. Ek glo jul sal net so gelukkig wees (of nog meer, as dit moontlik is). Nogmaals baie geluk. Baie seën word jul toegewens.

Wanda ·

Glad nie haastig nie.Ekt my man die 13de Julie ontmoet en 13de Maart is ons getroud,8mnde later op my 18de verjaarsdag.Hierdie jaar 15 jaar getroud.En nee ek was nie swanger nie.Ons mens regte persoon ontmoet,hoekom wag?

sonja coetzee ·

Ek weet dit seker niks met Andre en Monja se berig uit te te waai nie.Ek antw vir “Tannie”Elsa,baie baie geluk Tannie Elsa!!!Tannie gee my sommer hoendervleis en n knop in my keel.Ek trou nou Saterdag(23’ste Febr)vir die 2’de keer die 1’ste keer het ek my gewese man 3’mnde geken ons(gelukkig kan ek nie kinders kry nie) was 9’jr getroud tot ons geskei het is hierdie jr sou ek 10’jr geskei en was 5’jr enkellopend tot ek my verloofde op Facebook ontmoet het ons is al 7’jr saam hy’t my Kersfees gevra om te trou ons het besluit om nie langer te wag nie ons in 2’mnde die troue gereel.Ons super super opgewonde want Liewe Jesus het vir die wonderlikste man gegee want ons dien saam die Here dis n fantastiese gevoel ooit!!!!

Kwikkie ·

Um…………wat het van die dame geword wat by die reunie was??? Hulle was ook ernstig gewees?

Ek sou se dit is redelik n bietjie vinnig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.