Boer Johan sê sy keuse is gemaak

Boer Johan (Foto: Donna Lewis)

Die 60-jarige boer Johan van Carolina in Mpumalanga het tydens Donderdagaand se uitsending van die tiende episode van die huidige seisoen van die kykNET-reeks Boer soek ʼn vrou gesê hy het reeds sy keuse gemaak oor wie hy gaan vra om saam met hom op sy plaas agter te bly.

Maroela Media het vroeër berig kykers van dié reeks was verlede week ontsteld oor ʼn geraamde foto teen die muur in Boer Johan se eetkamer waarop hy onder meer aandui watter eienskappe sy ideale vrou moet besit.

Dié geraamde foto het in die jongste episode weer ter sprake gekom toe Johan gesê het een van die vroue se briewe aan hom én haar foto is agter in dié raam omdat hy reeds sy keuse gemaak het.

“Hulle het my pertinent gevra of daar iemand is onder hulle [wat] ek gekies het [wat] ek sal agterhou op die plaas. Toe sê ek ja,” het hy gesê tydens ʼn een-tot-een onderhoud in die kamera. “Ek het gesê ek gaan met hulle eerlik wees – ek het ʼn dame se brief en foto agter in daardie plakkaat gesit wat op die muur is. Almal het vir mekaar gekyk en stom geraak.”

Marinda het tydens háár een-tot-een-onderhoud gesê dié openbaarmaking het die drie vroue “ongemaklik” gelaat. “Noudat ons weet daar is iemand se gesig en brief in daai ding wat hy voor die Here gelê het van hoe sy ideale vrou moet lyk, dink ek ons is al drie bietjie nervous, want ons sal graag wil weet wie dit is. Hy het vir ons duidelik gesê: Hy het dit voor die Here gelê vir hoe sy ideale vrou moet lyk en die Here het dit toe vir hom bevestig.”

Johan het tydens die verloop van die episode ook spesiaal aandag aan Marilyn gegee omdat sy “af gelyk” het. Hy het ook gesê hy kon sien dat Marilyn ontsteld was.

Marilyn het gesê die rede hiervoor is omdat sy gevoel het asof sy aandag op die ander twee vroue gefokus is. “Ek het gevoel sy fokus was baie op Marita gewees. Ek weet nie of hy dit beplan nie. Iets soos: ‘Dán gaan ons Marilyn laat goed voel’, en ‘dán gaan ons Marita laat goed voel’. Ek het seker maar net daai dip gevang toe dit Marita se beurt was om die aandag te kry. Terselfdertyd het hy gesê dat hy alreeds die dame gekies het. Hoe voel jy dan op daai oomblik? Sy kry die aandag en hy praat van dat hy presies weet wie die vrou is. Jy voel maar insecure en ongemaklik.”

Johan het gesê sedert hy aan die vroue bekend gemaak het dat hy reeds iemand gekies het om saam met hom op die plaas agter te bly, is daar nie meer “wedywering” tussen die vroue nie.

“Ek is baie gemaklik nou – ek kan elkeen presies dieselfde hanteer. Daar’s nie meer wedywering van hulle kant af nie. Elkeen is net só gefokus om te besef: ‘Dis dalk ek.’ Ek ken myself. Ek weet ek het reg gekies. My kop sal nie omgedraai kan word nie. My keuse sal nie verander kan word nie.”

Die laaste gedeelte van die tiende episode het kykers laat wonder of boer Johan nie tog vir Marilyn gekies het nie. Johan het in die laaste oomblikke gesê dat hy Marilyn genader het om “eenkant en alleen” met hom te praat omdat sy nie die “vrymoedigheid gehad het” om hom self te nader nie. Marilyn het glo tydens dié gesprek aangedui dat sy dit oorweeg om huis toe te keer.

Marilyn sê dan oor Johan se reaksie daarop: “Ek het net vir hom gesê: ‘I am ready to pull the plug.’ En toe sê hy ek moet dit nie doen nie en dat ek net moet aangaan. Dit is vir my moeilik. Jy gaan deur [al die emosies] en wonder dan: ‘Wag ek net om huis toe te gaan?’”

Boer soek ʼn vrou is Donderdae op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien. Lees meer oor dié reeks op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

sarie ·

Die groen truitjie het net ‘n groen truitjie en sy het geldjies nodig vir ‘n rooi truitjie

Mara ·

Hierdie ou soek net sensasie. As ek daai vrouens is kies ek nou die hasepad! So veeleisende man is net moeilikheid….

Juffrou ·

Ek dink “Boer soek n vrou” se kykertalle daal, nou gebruik hulle boer Johan om publisiteit te kry. Negatiewe publisiteit is beter as geen publisiteit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.